K021 Geestelike leiers se verantwoordelikheid teenoor hul gemeentes/kerke

Hand 20:26-28 AOV Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. 27 Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. 28 Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het.

Hierdie was Paulus se woorde aan die ouderlinge van die gemeente in Efese.

Hy verklaar hy is nie skuldig as iemand verlore gaan in die gemeente nie. Hy het ten volle alles oor die plan van God aan hulle oorgedra.

Dominee/Pastoor waar staan jy as herder van die gemeente/kerk waaroor God jou geplaas het?

K022 Verkondiging van Jesus Christus met of sonder bybedoelings

Fil 1:18 AOV “Maar wat maak dit? In alle geval, op allerlei wyse, of dit onder ‘n skyn of in waarheid is, word Christus verkondig; en hierin verbly ek my en sal ek my ook verbly.”

Fil 1:18 AFR20 “Wat maak dit egter saak? In elke geval, of dit met bybedoelings of in waarheid is, word Christus verkondig – en daaroor is ek vol blydskap. Ja, ek sal voortdurend bly wees,”

Paulus praat hier oor hoe die evangelie verkondig word. In verse 15 en 16 noem hy, dat nie almal wat die evangelie verkondig dit met suiwer bedoelings doen nie. Tog verklaar hy in vers 18 dat dit steeds belangrik is dat Christus verkondig word, ongeag die persoon se motief.

In Luk 9:49-50 vertel Johannes dat daar ‘n persoon was wat in Jesus se naam duiwels uitgedryf het en Jesus se antwoord was “Moet hom nie belet nie, want wie nie teen ons is nie, is vir ons.” Hierin sien ons dat Jesus ook verklaar het dat ongeag wat die motief van die persoon is, die verkondiging van Jesus Christus (die Evangelie) aan die wêreld belangrik is.

Elke gelowige sal uiteindelik aan Jesus Christus rekenskap gee vir wat hy of sy op aarde gesê en gedoen het (2Kor 5:10, 1Kor 3:10-15 en Jak 3:1). Diegene wat nie weergebore is nie, sal voor die groot wit troon verantwoording doen (Opn 20:11-15).

Die vraag is: Wat is die motiewe wanneer “geestelike leiers” ander geestelike leiers se leer en optrede kritiseer of aanval?