K021 Geestelike leiers se verantwoordelikheid teenoor hul gemeentes/kerke

Hand 20:26-28 AOV Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. 27 Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. 28 Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het.

Hierdie was Paulus se woorde aan die ouderlinge van die gemeente in Efese.

Hy verklaar hy is nie skuldig as iemand verlore gaan in die gemeente nie. Hy het ten volle alles oor die plan van God aan hulle oorgedra.

Dominee/Pastoor waar staan jy as herder van die gemeente/kerk waaroor God jou geplaas het?



Hier is die basis waarin elkeen in die kerk seker moet wees, dat hy/sy gered is en daarna moet begin om sy/haar verhouding met God en Jesus Christus te laat groei:

  • Weet almal wat wedergeboorte is, en dat net dié wat wedergebore is, sondeloos voor God staan — nou op aarde en eendag in die hemel? (Joh 03:01-06 en 2Kor 5:17-21)

Joh 3:3+5 AOV (3) Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. (5) Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.

  • Het hulle met hulle waterdoop in die openbaar hulle geloof in wat Jesus en God vir hulle gedoen het, verklaar? (Mar 16:16 en Rom 10:9-10)

Rom 10:9-10 AOV As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.

  • Weet elkeen dat hulle ná weergeboorte in ’n lewende verhouding met God deur Christus staan, en dat hierdie verhouding doelbewus gevoed en verdiep moet word?

Ons bly in Hom en dra vrug (Joh 15:4-5), leef deur geloof in Christus (Gal 2:20), word deur die Gees as kinders van God gelei (Rom 8:15), en leef in die wete van die Vader se liefde (1 Joh 3:1).

  • Weet hulle dat iemand wat weergebore is, ’n nuwe mens in Christus geword het en nie meer as ’n slaaf van sonde leef nie? (Joh 8:34-36)

Tog bly die menslike natuur teenwoordig, en daarom struikel gelowiges nog (1 Joh 1:8-9).

1Jo 1:8-9 AOV As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Sulke sonde laat ’n kind van God nie sy redding verloor nie, maar vra belydenis en bekering (om weg te draai van wat verkeerd gedoen is). Die Heilige Gees waarsku deur die persoon se gewete en wat gelees word in Skrif. Die Skrif waarsku egter ernstig teen doelbewuste en volgehoue afvalligheid en die verwerping van Christus (Heb 6:4-6; 10:26-29).

  • Het jy hulle geleer oor die Heilige Gees —

    • dat Hy die Trooster is wat by gelowiges bly en in hulle woon, hulle leer en herinner aan Jesus se woorde (Joh 14:16-17, 26),

Joh 14:16-17+26 AOV En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. 26 maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

  • Verder dat Hy geestelike waarhede openbaar en ons leer om dit geestelik te verstaan en te verkondig wat insluit om die Bybel, nie met ons menslik verstand te wil lees nie, maar saam met die Heilige Gees om dit wat daar geskryf is vir ons oop te maak (1 Kor 2:13)?

1Ko 2:13 AOV Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

  • Is hulle vervul/gedoop met die Heilige Gees, soos ons in die Skrif sien waar gelowiges die Heilige Gees ontvang het (Handelinge 8:14-17; 10:44; 19:5-6)?

Hnd 19:5-6 AOV En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.

Is hulle verder onderrig om te leef in afhanklikheid van die Gees en om die gawes wat Hy gee verantwoordelik en tot opbou van die gemeente te gebruik (1 Korintiërs 12:8-10; Romeine 12:6-8)?

1Ko 12:8-10 AOV Want aan die een word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee, en aan die ander ‘n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; 9 aan ‘n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; 10 aan ‘n ander werkinge van kragte, aan ‘n ander profesie, aan ‘n ander onderskeiding van die geeste, aan ‘n ander allerhande tale, aan ‘n ander uitleg van tale.

  • Weet hulle dat Jesus Christus die wet en die Ou Verbond vervul het (Mat 5:17), en dat die Ou Verbond verouder het (Heb 8:13)? Ons is nie meer onder die wet nie, maar onder genade (Rom 6:14); Christus is die einddoel van die wet (Rom 10:4), en die wet was ’n tugmeester tot by Hom (Gal 3:24-25). Verstaan hulle, dat God in die Nuwe Verbond van ons vra om Hom en ons naaste lief te hê (1 Joh 4:7-11) — en dat hierdie liefde die hele wet vervul?

1Jo 4:7-11 AOV Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. 8 Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde. 9 Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. 10 Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes. 11 Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê.

Gehoorsaamheid vloei nou uit ’n veranderde hart: nie meer “ek moet” nie, maar “ek wil” omdat ek Hom liefhet.

  • Weet elkeen dat hulle die evangelie aan ongelowiges moet verkondig (Mar 16:15)?

Het jy hulle geleer hoe om dit prakties te doen, almal is nie ekstroverte wat met enige iemand sommer sal begin gesels oor die evangelie nie?

  • Weet elkeen dat hy/sy ‘n individuele roeping van God ontvang het om uit te voer? (Efs 5:16-17) Elkeen het ‘n roeping in die sekulêre wêreld om die lig van Jesus te laat skyn waar hy/sy werk met die talente wat van God ontvang is.

Efs 5:15-17 ANV Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. 16 Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd. 17 Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.

  • Het jy hulle gehelp om hulle roeping te ontdek deur leiding van die Heilige Gees? (Joh 14:26 en 1Jo 3:21-22)

Kan jy, op grond van hierdie punte as ‘n basis, dieselfde getuienis as Paulus lewer ten opsigte van jou verantwoordelikheid teenoor diegene in jou kerk/gemeente wat verlore mag gaan?

Neem ook die vermaning in Jak 3:1 ter harte, wat herinner aan die groter verantwoordelikheid wat op geestelike leiers rus.

Jak 3:1 AOV Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ‘n groter oordeel sal ondergaan.




K023 Gee aandag wanneer die Heilige Gees met jou praat

Hnd 16:14 AOV “En ‘n vrou met die naam van Lídia, ‘n purperverkoopster van die stad Thiatíre, ‘n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is.”

die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is.”

Wat beteken hierdie woorde?



Gee ag of luister wat die Heilige Gees vir jou sê wanneer Hy jou hart oopmaak of jou aandag trek deur wat ander sê (prediking) of wat jy lees, maw. die Here praat met jou, gee aandag.

Wanneer mens na ‘n preek luister of die Bybel lees dan is jy besig om meer te leer van God en jy bêre dit in jou geheue of hart sodat jy dit later weer kan onthou.

Die meeste van die tyd is dit net inligting wat jy versamel om meer te verstaan wat God van jou verlang in jou verhouding met Hom of moontlik later gaan nodig kry wanneer ‘n sekere situasie opduik.

Dit gebeur dat jou volle aandag nie altyd by wat jy lees of hoor, is nie, dan gebeur dit dat wat jy hoor of lees skielik jou volle aandag trek of indien jy wel met volle aandag betrokke is vir jou uitstaan. Dit is dan belangrik dat jy aandag gee en weet dat die Heilige Gees direk met jou praat.

Ontleed dit wat jy ontvang:

  • Is dit ‘n antwoord op ‘n vraag wat jy aan die Here gevra het, of
  • Duidelikheid en rigting met iets wat jy in daardie stadium sukkel in jou lewe, of
  • Waarsku die Heilige Gees jou, of
  • Is dit leiding van die Heilige Gees om iets te doen of te aanvaar, soos in die geval met Lidia in die teksgedeelte, of
  • Is dit ‘n antwoord of leiding wat jy gaan nodig hê met iets wat binnekort oor jou pad gaan kom? Dit gebeur gereeld met my dat ek ‘n gedeelte in die Bybel lees en kort daarna beland ek in ‘n gesprek waar hierdie gedeelte van toepassing is en ek dit dan kan aanhaal.

 Jy behoort die rede vir hierdie woord van die Heilige Gees te verstaan, maar indien jy nie weet of seker is nie, gesels met die Here en vra vir duidelikheid of wees bedag daarop in jou daaglikse lewe waar ‘n situasie voorkom waar jy hierdie boodskap gaan nodig hê vir leiding vir jouself of vir iemand anders.

In kort: Wees altyd bedag om die Heilige Gees te hoor en wanneer jy iets hoor tree dan daarvolgens op.




K022 Verkondiging van Jesus Christus met of sonder bybedoelings

Fil 1:18 AOV “Maar wat maak dit? In alle geval, op allerlei wyse, of dit onder ‘n skyn of in waarheid is, word Christus verkondig; en hierin verbly ek my en sal ek my ook verbly.”

Fil 1:18 AFR20 “Wat maak dit egter saak? In elke geval, of dit met bybedoelings of in waarheid is, word Christus verkondig – en daaroor is ek vol blydskap. Ja, ek sal voortdurend bly wees,”

Paulus praat hier oor hoe die evangelie verkondig word. In verse 15 en 16 noem hy, dat nie almal wat die evangelie verkondig dit met suiwer bedoelings doen nie. Tog verklaar hy in vers 18 dat dit steeds belangrik is dat Christus verkondig word, ongeag die persoon se motief.

In Luk 9:49-50 vertel Johannes dat daar ‘n persoon was wat in Jesus se naam duiwels uitgedryf het en Jesus se antwoord was “Moet hom nie belet nie, want wie nie teen ons is nie, is vir ons.” Hierin sien ons dat Jesus ook verklaar het dat ongeag wat die motief van die persoon is, die verkondiging van Jesus Christus (die Evangelie) aan die wêreld belangrik is.

Elke gelowige sal uiteindelik aan Jesus Christus rekenskap gee vir wat hy of sy op aarde gesê en gedoen het (2Kor 5:10, 1Kor 3:10-15 en Jak 3:1). Diegene wat nie weergebore is nie, sal voor die groot wit troon verantwoording doen (Opn 20:11-15).

Die vraag is: Wat is die motiewe wanneer “geestelike leiers” ander geestelike leiers se leer en optrede kritiseer of aanval?



  • Is dit omdat hulle glo hulle eie leer, Woord-verklaring en lewe is die enigste wat korrek is?
  • Of verstaan hulle nie die Nuwe Verbond wat ‘n verhouding in liefde met God en Jesus belangriker is, as die onderhouding van wette?
    • Die Ou Verbond fokus op: Ek moet al die wette nakom.

    • Die Nuwe Verbond verander dit na liefde teenoor God en my naaste: Ek wil doen wat die Vader van my verlang, na die beste van my vermoë. (Kol 2:16–17; 1 Joh 3:21–24; 1 Joh 5:2–3).

Die gevaar van openlike aanvalle op geestelike leiers is, dat dit gelowiges kan verwar wat nie goeie dissipelskap ontvang het of nog nie volwasse in hulle geloof is nie. Dit kan ook die beeld van God en Jesus Christus by ongelowiges skade aandoen. Gevolglik kan dit mense laat twyfel in hulle redding en ander weghou van God.

Die kernvraag bly: Verkondig elke geestelike leier in sy leer die evangelie soos Christus van alle gelowiges verwag? (Matt 28:19)

Indien ’n geestelike leier die evangelie vermy of verwerp, waarsku die Skrif dat so ’n persoon teen Christus staan maw ‘n antichris (1 Joh 2:18–23).




(K019) Ons Geloof of Vertroue in God se Grootheid en Goedheid.

Ons kan God nie ten volle vertrou as ons nie seker is van Sy getrouheid nie. Ons kan Hom net 100% vertrou as ons Sy karakter ken, Sy grootheid en goedheid vir ons ’n werklikheid word en ons nie toelaat dat leuens en vrees inmeng in ons verhouding met Hom nie.



Dit het my ’n lang tyd geneem om so ’n vaste vertroue te verstaan en deel van my lewe te maak.

Vir my het ’n verstaan van die verskil tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament ’n draai gebring. Ek stel dit nou baie eenvoudig.

God het in die ou Testament ’n ooreenkoms met Israel gemaak en Israel het ’n rol te speel gehad in die verbond. In die OT het God duidelik hul sonde gestraf, maar dit was egter alles tydelik en skadubeelde (tipes and shadows) van wat sou kom.

Na Jesus die verbond volbring het op die kruis en opgestaan het uit die dood, het dit Ewigheidswaarde geword, dit was nie meer tydelik nie en die nuwe verbond was soort van eensydig.

God het alles gegee en gedoen. Ons moet net ja sê vir die geskenk van redding, liefde, genade, voorsiening en al die res van wat dit behels. God se liefde het deur Jesus en Sy liefde, alles oorbrug, sodat ons geregtig voor God kon staan en Hy ons sondes en swakhede nie meer gesien het nie.

’n Ander vers wat die lig verder laat deur breek het was:

Rom 4:19  ‘And not being weak in faith, he did not consider his own body, already dead (since he was about a hundred years old), and the deadness of Sarah’s womb.’ NKJV

Abraham se geloof was so vas in God, dat hy bly staan het op ’n belofte van God, wat onmoontlik gelyk het in die natuurlike, maar hy het dit nie eers oorweeg nie. God het gespreek en dit was so, soos in Genesis 1.

Die frase ‘did not consider it’ het gedurig in my gedagtes op gekom.

Ons kyk in die Woord en leer God se karakter ken, ons sien God se getrouheid teenoor Israel ongeag hul sonde en God wat keer op keer, hulle steeds seën en vergewe en hulle nie verlaat nie.

God verlaat ons nooit nie – Deut 31:6-8; Jos1:9; Hebr13:5; Gen28:15; Deut20:1; Ps27:1-2,10; Ps46:7; Jer1:9; Jes43:1,5; Jes 41:10, 13; plus nog velle ander.

Om God se karakter te ken, help ook en ek het ook ‘n woord-studie oor vertroue gedoen.

Nog voorbeelde:

Dawid se Psalms – Ps 23 getuig van God se getrouheid as ons Herder. Sy voorsiening, omgee, beskerming, leiding en seën in die teenwoordigheid van ons vyande.

Hy ken ons, Hy weet hoeveel hare jy op jou kop het Mat10:30; Luk12:7. Hy is daar wanneer jy droogmaak, wanneer jy hom verloën soos Petrus.

Jy is meer werd as mossies en God sorg vir hulle!

Jy is gekoop, betaal met Jesus se bloed, jy is dit werd, want Jesus het jou skuld gedra. As God dit vir jou gedoen het, hoe kan jy twyfel dat Hy nie Sy goedheid ook in ander opsigte op jou sal uitstort nie?

Jer 17:7 ‘Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is.’ AOV53

Jer 17:7 ‘”Blessed is the man who trusts in the LORD, And whose hope is the LORD.’ NKJV

Joh 14:1 ‘Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.’ AOV53

God is liefde, getrou, konstant, ewig, Hy lieg nie. Sy integriteit is onbetwyfelbaar – volmaak!

1Joh 4:18 ‘Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.’ AOV53  

2Kor10:5neem elke gedagte gevange en bring dit terug na God se waarheid. Dink, besef, wat jy dink.




(K018) Die God wat ons aanbid, is die enigste ware God!

Opn 1:8 AOV “Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

Verstaan ons as mense hier op die aarde wat hiérdie woorde van die Drie-énige God beteken?



Ons bestaan draai om die 5 sintuie – dit wat ons kan sien, hoor, voel, ruik en proe – en uit meetbare ruimte wat hoogte, lengte en wydte is en dan ook meetbare tyd. 

Verder weet ons van verlede-tyd, van die huidige en van die toekoms, maar ons verstaan nie die ewige, die onmeetbare tyd van God “wat was, wat is en wat kom”.

God is in die geestes wêreld (Joh 4:24) wat buite ons verstand is en waar daar nie tyd is nie.

Waar pas die mens dan in God se skepping in?

In Genesis 1 sien ons God het die aarde en die mens geskep en die mens moet oor die aarde en alles wat daar op is heers.

Hoe het God die mens gemaak?

Psalms 139:14 AFR20 “Ek prys U omdat ek op ‘n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is. Wonderbaarlik is u werke en ek besef dit maar te goed.”

Elke mens is ‘n wonderwerk en verder sê 1Tes 5:23 die mens bestaan uit ‘n liggaam, ‘n siel en ‘n gees:

  • Die liggaam, is die deel wat deur die 5 sintuie waargeneem kan word en wat so presies ontwerp is dat geen mens nog ooit dit kon nadoen nie. Die liggaam word ook gesien as tydelik en verganklik. (Aards-pakkie)
  • Die siel is in die liggaam wat ons verstand en emosies huisves. Die siel ervaar tyd, maar hunker na ewigheid (Ps 42:2-3 – My siel dors na God, na die lewende God) en gaan saam met die gees vir ewig lewe (2Kor 5:8 – liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon)
  • Die gees is wat ons lewe gee (Jak 2:26 – Want soos die liggaam sonder gees dood is) en net God kan die mens lewe gee soos ons sien in

Sag 12:1 AFR20 “….. Dit is die uitspraak van die HERE, Hy wat die hemel oopgespan het en die fondamente van die aarde gelê het, wat die mens se gees in sy binneste gevorm het”  

Die mens is die enigste lewende wese op aarde wat oor ‘n gees beskik  en kommunikeer deur sy gees met God (Rom 8:16 – Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;).

Niemand op aarde kon nog ooit ‘n mens maak nie, slegs God kan. Al kry die mens dit reg om deur ‘n meganiese samestelling ‘n robot of android te bou wat soos ‘n mens kan funksioneer of ‘n mens deur kloning te skep kan dit nie ‘n mens wees nie want net God kan ‘n gees aan die mens gee om te lewe.

Die geestelike wêreld of geestes-wêreld.

Hier steek die grootste persentasie van die mense vas. Hulle verstaan en glo net wat hulle 5 sintuie hulle toelaat om waar te neem en dit is die fisiese hier op die aarde wat aan tyd gekoppel is.

In die geestelike wêreld bestaan tyd nie.

2Pe 3:8 AOV “Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.

In die geestes-wêreld waar God is (Joh 4:24 – God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid), sien hy alles van die begin tot in ewigheid, en ons kan dit nie in ons verstand verwerk nie. Ons weet nie waar God begin het en waar ewigheid eindig nie, want ons kan nie buite tyd dink terwyl ons op aarde is nie.

Voor ons geboorte het God al in die kleinste besonderheid geweet wat elkeen van ons in ons lewe hier op aarde gaan doen of nie gaan doen nie en of ons Jesus as verlosser gaan aanvaar. God weet alles.

Wanneer ons Jesus as ons verlosser aanvaar word ons gees weergebore wat dan met God kan kommunikeer.

Ons as weergeborenes, beweeg dan in ‘n nuwe geestes lewe waar ons God kan hoor in ons hart en God se leiding kan volg.

Selfs al verstaan ons as mens hier op aarde nie werklik hoe groot ons God is nie, is een feit seker dat wanneer ons Jesus as ons verlosser aanvaar het, is God ons Vader (1Joh 3:1 – Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word!) wat met liefde beter na ons omsien as ‘n wêreldse vader na sy kinders.

Ons het die volgende belofte om aan vas te hou –

1Pe 5:7 AOV “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.”

Ons kan ook op God se skoot gaan sit en troos by hom vind, want ons is sy kinders en het ‘n verhouding met hom.

Wanneer ons liggame hier op die aarde sterf, gaan ons siel en gees oor na die geestes-wêreld om by God en Jesus te wees vir ewig en dan sal ons ook verstaan en beleef wat ewig is.

Dan sal ons ook beter verstaan hoe groot ons God is na alles aan ons bekend gemaak is.

Sluit af met die volgende verse oor die grootheid van God:

Jes 55:8-9 AOV “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.”

1Kor 13:12 NLV “Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ’n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder wees. Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan.”  

1Jo 3:2 AOV “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.”

Gebed

Vader U grootheid is buite ons verstandelike vermoë

Dankie vir U onbeperkte liefde vir ons

Dankie vir Jesus wat vir ons sonde gesterf het

Dankie dat ons U kinders is

Amen




Wie se Stem Hoor ek?

Ons hoor verskeie stemme en soms is dit moeilik om te onderskei of dit my eie stem, God se stem of die duiwel se stem is wat ons hoor.



God kommunikeer nie net deur Sy stem met ons nie, dit gebeur min. Meestal is dit deur Sy woord, deur drome of visies of ’n ervaring in jou gees, ’n knop op jou maag of ’n ongemaklike gevoel of ’n gevoel van; dis goed, of reg. Ons sê ook ‘ek sien net rooi ligte toe ek dit hoor’. Dis verskillende maniere wat God en Heilige Gees met ons praat. Die duiwel kry ook sy voet in die deur en daarom moet ons weet hoe om te onderskei tussen die stemme wat ons hoor. Die karakter is ’n sterk aanduiding van wie aan die woord is.

Hoe weet ek dis God wat praat?

  • God se stem is getrou aan Sy karakter; liefdevol, opreg, vriendelik, opbouend, kalm en rustig. Gal5:22-23; 1Joh4:9-10&19; Rom8:31.
  • God se stem bring vrede en sekerheid. (nie twyfel of verwarring of uitputting nie). Joh14:27; 1Pet5:7.
  • God se stem is getrou aan Sy Woord. (en sal nie Sy Woord ongeldig maak nie.) Spr30:5; 2Tim3:16.
  • God se stem sal eenheid bevorder. (nie verdeeldheid of skeiding veroorsaak nie.) Ef4:1-3 en 11-13.
  • God se stem bring korreksie/verandering, aanvaarding en oortuiging. (dit kla jou nie aan nie, laat jou nie skuldig voel nie, selfs wanneer dit jou korrigeer.)Kol1:8-9; 1Kor10:13.
  • God se stem bou op en gee rigting en versterk. (dit breek nie af nie en maak nie moedeloos nie) Kol3:16

Jak 3:17  ‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg.; ANV

Fil 4:7  ‘En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.’ ANV

Wanneer is dit my eie stem?

  • My eie stem sal my saak bevorder, vb. ‘ek moes gewen het, ek het die hardste gewerk’.
  • Neem nie ander in ag neem nie, is onbedagsaam.
  • Eien die beste toe vir jouself, vb. neem die grootste stuk koek vir self, is selfsugtig, deel nie, is nie die minste nie.
  • Dis op myself gefokus; ek, my en ekself of myself. Bevoordeel net eie belange.
  • Sal self bevorder vb. ‘Kyk hoe oulik of goed is ek’.
  • Neem nie verantwoordelikheid nie, sal eerder iemand blameer.

Luister as jy oorvertel of in gesprek is, na wat jy hoor jyself sê.

Is dit: ‘ek wil’, ‘ek sal’, ‘my’, ‘myne’, ‘dis nie wat ek wil hê nie!’ ‘Dit maak my kwaad’ en so voorts.

Dikwels klink die gesprek soos ’n twee of drie jarige se besitlikheid oor sy speelgoed.

1Jn 2:1 ‘Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.'(AOV)

Wanneer is dit die vyand se stem?

  • Die vyand se stem sal sonde, vrees, minderwaardigheid, kommer, agterdog, woede, selfsug en rebellie bevorder.
  • Die stem is krities, veroordelend en kla jou aan of iemand anders en laat jou hopeloos en verlore voel, vb. jy het alweer alles verkeerd, jy sal dit nooit reg kry nie, jy moes opgelet het, jy is te dom.
  • Die stem laat jou emosies van vrees, rusteloosheid, agterdog en skuldgevoelens ervaar, vb. Sê nou net iets gebeur, jy weet hy is nie eerlik nie, doen iets vir iemand uit skuldgevoelens (dit lei tot werke en uitputting) ens.
  • Sal sonde aanmoedig, bv. ongehoorsaamheid, niemand sal weet nie, opstandigheid of rebellie.
  • Dit sal jou aanspoor om uit te stel, vb. Moet nie nou bid of getuig nie, later sal daar baie tyd wees.
  • Aankla: jy het dit alweer gemis, jy moes dit gister al gedoen het, ens.
  • ’n Dringend, haastige of drywende gevoel, dit moet nou gebeur. (dis nie die vrede van God nie).

Sy taktiek het nog nie verander nie, dis hoe hy Eva mislei het, hoe hy Jesus probeer versoek het en jou aanval en mislei met halwe waarhede en leuens.

Afsluiting

Wees waaksaam, neem elke gedagte gevange, besef wat jy dink en bring elke gedagte in lyn met God se Woord. God het beter planne vir jou, jy kan dit weerstaan, moet nie afdaal na die vyand se vlak nie. Staan vas in die Woord van God.

Gal 5:1 ‘Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie’. AOV God is goed, getrou, opreg en vir jou! Hy het jou lief en wil vir jou net die beste hê. Hy is nie daarop uit om jou te breek of skade te laat ly nie. Joh3:16; Joh10:10; Rom8:31.




(K016) Hoekom so besluit – Spr 21:2

Die besluite wat jy daagliks maak wat is jou bedoeling agter elkeen?

Spr 21:2 NLV “’n Mens dink dalk alles wat hy doen, is reg. Die Here besluit egter oor die bedoeling daaragter.”



Ons elkeen neem baie besluite elke dag.

Dit is so deel van ons lewe, dat ons dit meestal outomaties uitgevoer sonder dat ons daaroor dink.

Die meerderheid van hierdie is alledaagse besluite en het nie ‘n groot invloed later in ons lewe nie.

Dit is besluite soos tyd om opstaan, gereed te maak vir die dag, wat gaan jy eet, ens.

Dan is daar besluite wat ons lewens of ander om ons gaan beïnvloed.

Daar is ‘n rede vir elke besluit wat oor ‘n spesifieke saak of aksie geneem word:

  • Eerste watter aksie is nodig? Daar is gewoonlik vele verskillende moontlikhede of metodes wat gevolg kan word.
  • Tweede wat is die bedoeling agter jou besluit vir die metode of aksie wat jy gaan volg?
  • Derde is jou besluit gegrond op jou eie wysheid?

Die Here sien egter wat ons bedoeling agter elke besluit wat ons neem, al erken ons dit nie altyd aan ons self nie.

  1. Die besluite wat ons neem, weerspieël dit die liefde van Jesus? –

Heb 6:10 AOV Want God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefde-arbeid wat julle betoon het vir sy Naam, omdat julle die heiliges gedien het en nog dien.

Dien ons ander deur ons besluit?

  • Die besluite wat ons neem, wys dit en is dit omdat ons op die Here vertrou? –

Psa 37:3-5 ANV Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

Is ons besluite se grondslag op ons eie wysheid of deur leiding van die Here?

Bewe ons oor alles wat om ons gebeur en vergeet ons, om op die Here te vertrou in alles wat om ons gebeur?

In opsomming:

Alles wat ek doen waar ander deur hierdie besluit geraak word –

  • Wat is my bedoeling agter die besluit, dien ek ander daarmee of gaan dit oor myself?
  • Word Jesus se liefde deur die besluit weerspieël of  gaan dit oor myself?
  • Is my besluite gebaseer op vertroue in die Here of vertrou ek op myself?
  • Is my besluite gelei deur die Here of maak ek op my eie wysheid staat?

Maak nie saak wat ek besluit nie, die Here weet wat die bedoeling agter die besluit was.

Gebed:

Danke Vader vir U liefde

Dankie vir Jesus wat ons verlos het van die sondelas,

Dankie dat ons altyd op U kan staatmaak vir leiding en beskerming in ons lewe,

Amen.




(K015) Ontdek en lewe jou roeping uit na aftrede

Jy is nou afgetree, jy kan doen wat jy wil, maar na ‘n tyd gaan jy verveeld raak.

Wat is jou nuwe roeping van God vir die laaste deel van jou lewe hier op die aarde?

Gaan jy hierdie roeping soek en doen of gaan jy sit en wag om dood te gaan?



Ek het met ‘n vorige lesing gepraat oor “Ontdek en lewe jou roeping uit” en dit was hoofsaaklik vir jongmense bedoel, maar ook vir ouer persone wat nie regkom nie.

Die Here het egter nou my aandag gevestig op diѐ wat afgetree is en nie meer ‘n lang beroepsloopbaan voor hulle het nie.

Is daar nog iets vir hulle om by te dra tot die wêreld, het hulle nog ‘n roeping?

Almal sien uit na die dag wanneer hulle kan opstaan so laat hulle wil, kan doen wat hulle wil of selfs gaan toer vir maande.

Die probleem is na ‘n tyd begin jy verveeld word want die dag is te lank of jy is heeldag besig maar aan die einde van die dag kan jy nie regtig wys wat jy heeldag gedoen het nie en so gaan dit dag vir dag tot jy doodgaan.

Alles draai net om jouself.

Daar is geen werklike rigting in jou lewe nie en effektief wag jy net om dood te gaan.

Indien jy nie ‘n visie het vir die res van jou lewe en daarmee saam ‘n bestaande roeping of nuwe roeping van God vir jou uitlewe nie, gaan jy verveeld rondsit en wag om dood te gaan.

Paulus waarsku teen ledigheid onder jonger weduwees en dit kan deurgetrek word na alle mense wat ledig is –

1Ti 5:13 ANV  Buitendien leer hulle om hulle tyd te verkwis deur net van die een huis na die ander rond te kuier. Hulle is nie net ledig nie, maar ook bemoeisiek en praatsiek, en hulle praat oor dinge waaroor nie gepraat moet word nie.

Hier in die klein gemeenskap waar ons bly bestaande hoofsaaklik uit afgetrede persone, is hierdie baie duidelik.

Saam met rondkuier en sosiale media word oor alles gekla en vrees onder mekaar aangewakker.

Elkeen het sinnelose kommentaar te lewer op die sosiale media groepe wat gestig is om belangrike inligting aan die inwoners deur te gee met die gevolg dat die belangrike boodskappe verlore raak.

Dit is ook belangrik om kennis te neem vir die waarskuwing uit die gelykenis wat Jesus vertel het van die ryk man wie se grond goeie opbrengs gegee het en besluit het om op te hou werk en sy geld te geniet –  

Luk 12:19-21 ANV Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’ Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’ So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.

Hy het alles wat hy besit, gebruik vir homself en van God vergeet wat hom geseën het met alles wat hy besit.

Wanneer jy aftree beteken dit nie jy hou ook op om God te dien nie.

God verlang liefde van ons en dit is dat ons daadwerklik optree om ander te help –

1Jo 3:18 ANV Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.

Hierdie sluit die opdrag in om die redding wat Jesus vir ons aan die kruis gebring het, uit te dra aan die wat nog nie dit weet of verstaan nie.

Dit help nie om te sê ek lees elke oggend die Bybel, gaan elke Sondag kerk toe en woon elke week selgroepe by nie, die vraag is wat doen jy met dit wat jy lees in die Bybel en by hierdie byeenkomste hoor?

Jak 1:22 ANV Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.

Jy moet uitgaan en doen, nie net sit en luister nie.

Soek jou visie en roeping:

Om uit te vind wat jou nuwe roeping is, vra vir God om vir jou dit bekend te maak.

God sal dit aan jou bekend maak maar jy moet tyd saam met God deurbring en jy moet oop wees om te ontvang.

Dit sal iets wees wat jy geniet om te doen en ander daarmee dien, dit sal nooit net vir jouself wees nie.

Jy kan moontlik met jou vorige roeping aangaan.

Jy kan selfs finansieel geseën word uit dit wat jy doen.

Voorbeelde van wat jy sal kan doen en dit sal ook afhang van jou talente en kundigheid:

  • Raak betrokke by korttermyn Christelike uitreike, baie kerke doen sulke uitreike jaarliks en jy kan ook op die internet na organisasies soek wat dit doen. Hierdie uitreike sal jou perspektief oor baie sake verander en ook help met geestelike groei.
  • Doen evangelisasie (sal in ‘n opvolg lesings meer vertel oor hoe om Jesus uit te dra na ander),
  • Verleen hulp aan ander – vervoer, aankope en herstelwerk om die huis indien jy handig is,
  • Soek en besoek eensames in jou omgewing gereeld en ondersteun hulle met positiewe gesprekke,
  • Vind uit van projekte wat kerke loods en raak betrokke al is jy nie deel van die spesifieke kerk nie,
  • As jy ‘n goeie organiseerder is kyk wat kort in jou omgewing en begin ‘n projek om dit aan te spreek.
  • Beoefen die stokperdjie wat jy altyd wou doen.

Ter afsluiting:

  • Moet nie gaan sit en niks doen na jy afgetree het nie want anders wag jy net om dood te gaan.
  • Jy moet jou liggaam en verstand oefen soos jy dit altyd gedoen het.
  • Vra God om jou roeping vir hierdie nuwe tydperk te wys,
  • Doen wat God wil hê jy moet doen en jy sal dit geniet.
  • Lewe God se liefde uit na ander en dit sal jou selfwaarde gee.
  • Bly positief en jy gaan dit net regkry wanneer jy:
    • Mense vermy wat floreer op die negatiewe.
    • Minder TV kyk oor wêreldse sake.
    • Geestelike kanale op TV of sosiale netwerk, soos YouTube, volg. Daar is min valspredikers daarop en jy sal dit dadelik aanvoel wanneer jy na een luister. Dit beteken ook nie dat wanneer God ‘n prediker seën met baie navolgers en hulle welgesteld is dat hulle valspredikers is nie. Elkeen sal aanklank vind by net sekere predikers, God het ons verskillend gemaak,

    • Beperk sosiale media tot geestelike opbouende boodskappe en spandeer meer tyd met God en Sy woord.

Ek hoop dat dit wat ek hier aan jou oorgedra het vir jou rigting en ‘n doel in die lewe sal gee, wat sal meebring dat jy weer selfwaarde sal kry en positief lewe vir die toekoms.

Gebed:

Dankie Vader vir U liefde,

Dankie dat U altyd daar is om ons te lei,

Dankie dat U net die beste vir ons wil gee,

Dankie dat ons op U kan staatmaak,

Dankie Vader

Amen




(K014) Ontdek en lewe jou roeping uit.

Om te kan lewe moet ons werk, om ‘n gelukkige lewe te kan lei moet ons die regte werk waarvoor ons gemaak is doen.

Is jy in die werk waarvoor God jou ontwerp het?

Hoe kom ons by die regte werk uit?



Weens Adam se val het God ‘n baie duidelike reël gegee –

Gen 3:19 AOV In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.

Inkort, ons moet werk om geld te verdien om te kan lewe.

Watter soort werk het God vir my beplan?

In die wêreld waarin ons op hierdie tydstip lewe is daar ‘n tekort aan werk en gryp die mens enige werk wat beskikbaar is.

Die gevolg is dat baie mense ‘n werk doen wat nie vir hulle bedoel is nie, waarin hulle swak produktiwiteit lewer, ongelukkig is en heel moontlik nie die vermoë of talent het om dit behoorlik kan doen nie al wil hulle. Hulle ploeter net aan om aan die einde van die maand hulle salaris te kry.

God het elkeen van ons gemaak en Hy het elkeen sy eie talente of vermoë gegee om ‘n sekere werk goed te kan doen.

‘n Werk wat jy vir ‘n lang tyd of selfs die res van jou lewe gaan doen. Dit sal meer as ‘n werk wees, dit sal ‘n roeping wees wat jou inspireer, bevredig, wat jy geniet en verder in wil groei.

Wanneer ons hierdie werk doen sal ons gelukkig wees en dit geniet om dit te doen.

Om uit te vind wat jou roeping is, vra vir God om vir jou dit bekend te maak en let ook op na die volgende:

  • Jy sal belangstel in die werk,
  • Jy sal goed en vindingryk wees in die uitvoering daarvan,
  • Jy sal dit deeglik uitvoer.
  • Jy sal graag meer wil leer ivm hierdie werk,
  • Jy sal graag besig wil wees daarmee, nie verskonings soek om iets ander te doen nie,

Efs 5:16-17 ANV Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.

Wanneer jy seker is wat jou roeping is, vind wat is nodig om hierdie werk te doen bv. is jou huidige kennis en opleiding voldoende of benodig jy verdere tersiêre opleiding.

Kry jou minimum kwalifikasies en begin vakatures soek in hierdie werk:

  • Vra God om vir jou die deure oop te maak,
  • Gaan dan uit en soek die pos wat vir jou deur God gereserveer is, dit gaan nie na jou toe aangeloop kom nie,
  • Glo daar is ‘n pos wat vir jou wag, al vat dit dalk ‘n tyd voor jy dit kry.

Ons ontvang die volgende beloftes van God:

1Jo 3:21-22 ANV Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan; en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goedvind.

As jy aan God gehoorsaam is, maw doen wat Hy vir jou gesê het, sal Hy vir jou gee wat jy vra en vir jou die regte pos gee.

Spr 3:6 ANV Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.

Praat met God oor alles wat jy wil doen en Hy sal jou die reg leiding gee.

Een voorbeeld is dat die Heilige Gees sal deur jou gees God se leiding na jou siel stuur waar jy ‘n aanvoeling of gevoel kry om iets te doen en dan open daar deure wat jy moontlik nie eers verwag het nie.

Daar is baie metodes hoe God met ons praat en lei om Sy wil te doen, ons siel (verstand en gedagtes) moet net oop wees daarvoor.

Wanneer jy ‘n werk kry of selfs jou eie besigheid begin, wees tevrede om onder te begin, niemand kan dadelik in ‘n gevorderde vlak begin werk nie, ook nie dadelik baie geld met ‘n besigheid begin verdien nie.

Jy benodig ondervinding wat nie in boeke geleer kan word nie, dit kom net met tyd en deur die werk prakties te doen.

Gee altyd jou beste in jou werk of besigheid en jy sal suksesvol wees en vorder na hoër vlakke waar dit moontlik is.

Dien ander met jou werke en skyn die lig van Jesus aan hulle.

Daar is egter ook ‘n balans wat jy moet handhaaf en jy mag nie al jou tyd aan jou roeping spandeer nie, daar moet tyd wees vir God, jou familie, rus en ontspanning. Dit is hoe God ons ontwerp het.

Dit kan gebeur dat daar met tyd nuwe deure vir jou kan oopgaan, om na ‘n ander werkgewer te verskuif of selfs ‘n nuwe roeping te begin, maar steeds moet jy seker wees dit kom van God af voor jy enige veranderinge maak.

Hoe hanteer jy die geld wat jy deur jou roeping verdien?

Jy ontvang geld vir jou roeping wat jy uitleef, maar wat is die reëls met die hantering van hierdie geld?

God het vir jou die pad oopgemaak om jou roeping te kan uitvoer en geld te verdien om van te lewe.

Daarom is dit net reg dat jy eerste ‘n deel aan God teruggee uit dankbaarheid.

Spr 3:9-10 ANV  Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn.

Saam met jou bewys van dankbaarheid aan God, ontvang jy ook die belofte dat God jou oorvloedig sal seën.

Die Skrif sê ook verder –

2Ko 9:7 ANV Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.

Daar is nie vaste reëls oor hoeveel jy aan God moet gee nie, maar die Skrif sê ook –

2Ko 9:6 ANV Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.

Dit beteken ook nie dat jy alles wat jy verdien aan God moet teruggee nie, daar is ‘n balans en vandaar die 10% waarvan die Skrif praat.

Die 90% wat jy oor het moet jy oordeelkundig spandeer –

1Jo 2:16-17 AFR20 “want alles in die wêreld – dit wat die liggaam begeer, en dit wat die oë begeer, arrogante spoggery oor besittings – is nie uit die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld en sy begeertes gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly tot in ewigheid.”

Beplan jou spandering en dit sluit in dat jy met ‘n deel van jou inkomste die lewe kan geniet deur dit aan te wend in dinge wat jy graag wil doen of besit.

Opsomming:

  • Volg God se leiding om by jou roeping uit te kom
  • Wanneer jy jou roeping uitleef sal jy ‘n gelukkige en vol lewe geniet
  • Gee eerste uit dankbaarheid aan God terug uit dit wat jy verdien
  • Spandeer die res met wysheid sonder om suinig te wees.

Gebed:

Dankie Vader vir U liefde,

Dankie dat U vir elkeen van ons ‘n roeping het,

Dankie dat U vir elkeen van ons in oorvloed wil versorg,

Dankie vir U leiding om ons roeping te vind,

Dankie vir wysheid om dit wat U vir ons gee reg te spandeer,

Amen




(P012) Vryheid in Jesus – Lewe van oorvloed in lewensmiddele

Hoe goed gaan dit met jou finansies, het jy genoeg om van te lewe of sukkel jy elke maand om deur te kom?

Lewe jy binne God se waardestelsel?



Jesus belowe ons lewe en in oorvloed.

Joh 10:10 AOV Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.

Die ‘hulle’ waarna Jesus verwys, is ons wat weergebore is en al hier op die aarde die ewige lewe ontvang om in te lewe.

1 Joh 5:13 NLV Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle met die wete kan leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe, julle wat aanhou glo in die persoon van die Seun van God.

Ons wat weergebore is, het alreeds die ewige lewe, nou hier op die aarde, want ons het uit die dood in die sonde waarin ons was, oorgegaan na die lewe in Jesus. (Joh 17:3)

Waarop dit neerkom is dat ons ‘n lewe van oorvloed nou al hier op aarde kan geniet, indien ons weet hoe om binne God se waardestelsel (geestelike reëls) te lewe en wat se mag ons teen die duiwel en sy invloed het.

Lewe van oorvloed sluit in ‘n lewe met ‘n oorvloed van lewensmiddele.

Om ‘n lewe van oorvloed te kan hê moet daar meer as net voldoende lewensmiddele wees.

Kom ons kyk eers wat is lewensmiddele?

Dit is alles wat ‘n mens nodig het om te kan lewe wat insluit kos, water, klere, skuiling teen die weer, vervoermiddel om te kan reis (behalwe om te loop), ens.

Hierdie word egter aan ruilhandel gekoppel, wanneer ek iets nodig het, dan verkry ek dit deur iets in die plek daarvan te gee.

Geld het daarom die middel geword waarmee ruilhandel plaasvind. Ek bied my dienste of ‘n item aan en ontvang geld waarna ek die geld weer aanbied vir iets wat ek verlang.

Geld is ‘n belangrike item in ons lewe en daarom is daar ook baie verwysing daarna in die Woord om vir ons leiding daaroor te gee.

Hoe bekom ons die geld wat ons nodig het om van te lewe en voorspoed te kan hê?

Weens Adam se val het God ‘n baie duidelike reël gegee –

Gen 3:19 AOV In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.

Inkort, ons moet werk om geld te verdien om te kan lewe.

As ons hier van werk praat is dit enige werk wat ons vir ‘n werkgewer doen of ons eie besigheid bedryf.

God het elkeen van ons gemaak en Hy het elkeen sy eie talente of vermoë gegee om ‘n sekere werk goed te kan doen.

‘n Werk wat jy vir ‘n lang tyd of selfs die res van jou lewe gaan doen, moet dit meer as ‘n werk wees, dit moet ‘n roeping wees wat jou: inspireer, bevredig, geniet, …… .

Wanneer ons hierdie werk doen sal ons gelukkig wees en dit geniet om dit te doen.

Indien dit nie so is nie, dan is daar ‘n probleem van of jy is in die verkeerde werk of daar is ‘n probleem met jou gesindheid.

Daar is nie ‘n kortpad om geld te bekom sonder om daarna probleme hê nie.

Hoe hanteer jy die geld wat jy deur jou roeping verdien?

Jy verdien nou ‘n finansiële inkomste, hoe moet jy die geld hanteer om die voorspoed en oorvloed wat God ons wil gee te ontvang?

‘n Volgende geestelike reël wat God daargestel het is die wet van saai en oes.

Gal 6:7 ANV Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes.

Hierdie wet is van toepassing op alle fasette in ons lewe, hier op die aarde, en sluit ook in hoe ons ons finansies hanteer.

In 2 Kor 9 praat Paulus pertinent oor dankoffers wat die gemeente in Korinte bymekaar gemaak het vir ander gemeentes en dit is van toepassing vir ons elkeen se dankoffer aan God.

2Ko 9:6 ANV Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.

Hierdie volgende vers sê ons moet dink en beplan hoe ons ons finansies bestuur en bestee met die volgende vers wat dit beklemtoon –

2Ko 9:7 ANV Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.

Daar is nie vaste reëls hoeveel en waarvoor alles ons moet gee nie, maar daar is egter riglyne in die Woord en met die volgende beloftes van God –

Spr 3:9-10 ANV  Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn.

Gee uit alles wat jy ontvang eerste God se deel terug aan Hom en Hy sal jou meer teruggee as wat jy nodig het.

Verder sluit dit ook in waar jy geld gee vir sekere instansies soos kinderhuise of ondersteuning van hulp aan mishandelde vroue en kinders of bedienings wat God se Woord uitdra, ens. want hierdie bydraes wys die lig van God se liefde aan almal uit.

Spr 11:24 ANV Daar is mense wat vrylik uitdeel en tog steeds meer het, daar is ander wat suinig is en tog arm word.

Saam met hierdie vers kom die volgende punt wat onthou moet word.

Ons finansiële inkomste kom alles van God en word verdeel in saad wat ons moet saai vir God en brood wat ons kan eet om te lewe –

2Ko 9:10 ANV God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid ‘n ryk oes laat oplewer.

As jy alles wat God jou gee opeet en niks saai nie kan God jou nie seën nie –

2Ko 9:6 ANV Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes;

Indien jy getrou saai wat God jou gee om te saai, sal God meer saad aan jou voorsien om te saai en saam met dit sal jy ook meer ontvang om te eet.

God verwag egter ook nie dat jy alles wat jy kry moet saai nie, jy moet ‘n balans handhaaf –

2Ko 8:12 ANV As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan. Hy verwag nie van hom wat hy nie het nie.

Daarom is dit wys om die beginsel van 10% van jou inkomste aan God terug te gee en indien jy oor het na jy jouself versorg het kan jy verder gee waar nog hulp nodig is.

Die beginsel van 10% van jou ontvangste aan God kom in verskeie plekke in die Woord voor en kan daarom as ‘n goeie beginsel van verdeling gebruik word, maar steeds onthou 2Kor 9:6-7.

Waarskuwings oor die hantering van geld uit die Woord:

Hoe bestee jy dit wat jy ontvang?

1Jo 2:16-17 AFR20 “want alles in die wêreld – dit wat die liggaam begeer, en dit wat die oë begeer, arrogante spoggery oor besittings – is nie uit die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld en sy begeertes gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly tot in ewigheid.”

Soos met alles is daar ‘n balans, moenie al jou geld uitmors op elke ding wat jou oë sien nie, al is dit na jy jou dankoffer aan God gegee het.

Na jou dankoffer aan God prioritiseer jou spandering, eers aan alles wat nodig is om basies te lewe – kos, dienste wat van owerhede ontvang word, versorging van gesin in alles wat nodig is, ‘n gedeelte gespaar het en daarna kan jy spandeer op luukse dinge.

Indien God jou seën met oorvloed lewensmiddele mag jy ‘n mooi motor besit of ‘n mooi huis besit, dit is nie ‘n sonde nie. Maak net seker dit kom nie tussen jou en God nie.

Een van die grootste gevare is gierigheid:

Wanneer daar honger na meer geld ontstaan om lekker of soos ander te wil lewe, raak alle logika, balans en waardes verlore.

Waak teen die volgende:

  • Ek gee my tiende aan God en nou moet God voorsien – verkeerde ingesteldheid, God gaan jou nie seën nie. Jy wil God dwing om aan jou vereistes te voldoen. God sê wel in Mal 3:8-10 Hy kan getoets word, maar dit gaan oor Sy goedheid en nie om jou self te verryk nie.
  • Vermy skuld sover moontlik, die volgende vers sê dit alles –

Spr 22:7 ANV Die ryke heers oor die arme; die lener is die slaaf van die man by wie hy leen. 

  • Moenie al jou tyd bestee om geld te verdien nie, kom eerder met minder klaar en geniet ‘n goeie lewe met jou familie, weereens handhaaf ‘n balans –

Spr 23:4 ANV Moet jou nie afsloof om ryk te word nie en moenie jou sin vir waardes verloor nie.

  • Wanneer die honger na geld jou oorneem, dan is jy verlore en al bid jy tot God vir voorsiening gaan jy nie ontvang nie, want dit gaan dan oor jouself en nie God nie –

Jak 4:2-3 ANV Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ‘n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.

  • Wanneer jy jou na misdaad draai om geld te maak, is dit die begin van jou probleme en einde van jou lewe. Jy mag vir ‘n tyd die geld geniet, maar die uiteinde is jy gaan alles verloor wat ook jou lewe hier op die aarde mag insluit.

Spr 21:6 ANV Skatte wat met bedrog versamel is, verdwyn in die wind en bring die dood.

Afsluiting

  • God wil ons elkeen ‘n lewe van oorvloed in lewensmiddele gee, maar ons moet Sy waardestelsel in verband daarmee nakom.
  • Saai die saad wat God vir jou gee om te saai eerste en dan kan jy dit geniet wat God aan jou voorsien om van te lewe.
  • Toets God om 10% van dit wat jy ontvang eerste aan Hom terug te gee en kyk waar staan jy na 12 maande.
  • Moet nie gee om te ontvang nie, gee uit dankbaarheid omdat God vir jou sorg.
  • Moet nie geldgierig raak nie, jy kan nie iets wen nie, jy gaan op die einde alles verloor en dalk ook jou lewe hier op aarde –

Heb 13:5 ANV Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

Gebed:

  • Dankie Vader vir U liefde,
  • Dankie dat ons weet U wil vir ons sorg,
  • Dankie vir die leiding deur U woord oor hoe om te lewe,
  • Dankie Vader vir U goedheid en seën
  • Amen