Fil 1:18 AOV “Maar wat maak dit? In alle geval, op allerlei wyse, of dit onder ‘n skyn of in waarheid is, word Christus verkondig; en hierin verbly ek my en sal ek my ook verbly.”
Fil 1:18 AFR20 “Wat maak dit egter saak? In elke geval, of dit met bybedoelings of in waarheid is, word Christus verkondig – en daaroor is ek vol blydskap. Ja, ek sal voortdurend bly wees,”
Paulus praat hier oor hoe die evangelie verkondig word. In verse 15 en 16 noem hy, dat nie almal wat die evangelie verkondig dit met suiwer bedoelings doen nie. Tog verklaar hy in vers 18 dat dit steeds belangrik is dat Christus verkondig word, ongeag die persoon se motief.
In Luk 9:49-50 vertel Johannes dat daar ‘n persoon was wat in Jesus se naam duiwels uitgedryf het en Jesus se antwoord was “Moet hom nie belet nie, want wie nie teen ons is nie, is vir ons.” Hierin sien ons dat Jesus ook verklaar het dat ongeag wat die motief van die persoon is, die verkondiging van Jesus Christus (die Evangelie) aan die wêreld belangrik is.
Elke gelowige sal uiteindelik aan Jesus Christus rekenskap gee vir wat hy of sy op aarde gesê en gedoen het (2Kor 5:10, 1Kor 3:10-15 en Jak 3:1). Diegene wat nie weergebore is nie, sal voor die groot wit troon verantwoording doen (Opn 20:11-15).
Die vraag is: Wat is die motiewe wanneer “geestelike leiers” ander geestelike leiers se leer en optrede kritiseer of aanval?
- Is dit omdat hulle glo hulle eie leer, Woord-verklaring en lewe is die enigste wat korrek is?
- Of verstaan hulle nie die Nuwe Verbond wat ‘n verhouding in liefde met God en Jesus belangriker is, as die onderhouding van wette?
- Die Ou Verbond fokus op: Ek moet al die wette nakom.
- Die Nuwe Verbond verander dit na liefde teenoor God en my naaste: Ek wil doen wat die Vader van my verlang, na die beste van my vermoë. (Kol 2:16–17; 1 Joh 3:21–24; 1 Joh 5:2–3).
Die gevaar van openlike aanvalle op geestelike leiers is, dat dit gelowiges kan verwar wat nie goeie dissipelskap ontvang het of nog nie volwasse in hulle geloof is nie. Dit kan ook die beeld van God en Jesus Christus by ongelowiges skade aandoen. Gevolglik kan dit mense laat twyfel in hulle redding en ander weghou van God.
Die kernvraag bly: Verkondig elke geestelike leier in sy leer die evangelie soos Christus van alle gelowiges verwag? (Matt 28:19)
Indien ’n geestelike leier die evangelie vermy of verwerp, waarsku die Skrif dat so ’n persoon teen Christus staan maw ‘n antichris (1 Joh 2:18–23).
