K021 Geestelike leiers se verantwoordelikheid teenoor hul gemeentes/kerke

Hand 20:26-28 AOV Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. 27 Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. 28 Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het.

Hierdie was Paulus se woorde aan die ouderlinge van die gemeente in Efese.

Hy verklaar hy is nie skuldig as iemand verlore gaan in die gemeente nie. Hy het ten volle alles oor die plan van God aan hulle oorgedra.

Dominee/Pastoor waar staan jy as herder van die gemeente/kerk waaroor God jou geplaas het?

K022 Verkondiging van Jesus Christus met of sonder bybedoelings

Fil 1:18 AOV “Maar wat maak dit? In alle geval, op allerlei wyse, of dit onder ‘n skyn of in waarheid is, word Christus verkondig; en hierin verbly ek my en sal ek my ook verbly.”

Fil 1:18 AFR20 “Wat maak dit egter saak? In elke geval, of dit met bybedoelings of in waarheid is, word Christus verkondig – en daaroor is ek vol blydskap. Ja, ek sal voortdurend bly wees,”

Paulus praat hier oor hoe die evangelie verkondig word. In verse 15 en 16 noem hy, dat nie almal wat die evangelie verkondig dit met suiwer bedoelings doen nie. Tog verklaar hy in vers 18 dat dit steeds belangrik is dat Christus verkondig word, ongeag die persoon se motief.

In Luk 9:49-50 vertel Johannes dat daar ‘n persoon was wat in Jesus se naam duiwels uitgedryf het en Jesus se antwoord was “Moet hom nie belet nie, want wie nie teen ons is nie, is vir ons.” Hierin sien ons dat Jesus ook verklaar het dat ongeag wat die motief van die persoon is, die verkondiging van Jesus Christus (die Evangelie) aan die wêreld belangrik is.

Elke gelowige sal uiteindelik aan Jesus Christus rekenskap gee vir wat hy of sy op aarde gesê en gedoen het (2Kor 5:10, 1Kor 3:10-15 en Jak 3:1). Diegene wat nie weergebore is nie, sal voor die groot wit troon verantwoording doen (Opn 20:11-15).

Die vraag is: Wat is die motiewe wanneer “geestelike leiers” ander geestelike leiers se leer en optrede kritiseer of aanval?

Vordering in ons bediening

Alta het gedurende die Covid-19-tydperk begin om bemoedigende boodskappe via WhatsApp te deel om mense aan te moedig om meer Bybel te lees en hul kennis oor God en Sy Woord te verdiep. Sedert 2019 plaas sy ook weekliks inskrywings oor “Jou ID in Jesus Christus” op WhatsApp. Hierdie bediening het gegroei en word nou ook op Facebook onder die blad Vryheid in Jesus gedeel, sowel as op hierdie webblad. Later is dit ook in Engels vertaal vir diegene wat nie Afrikaans verstaan nie. Met verloop van tyd het dit ontwikkel tot Jou Koninklike Identiteit in Christus.

Nog ‘n weeklikse Facebook-plasing word gedoen onder Vryheid in Jesus, gebaseer op ‘n spesifieke Bybelvers. Gedurende hierdie tyd het ons twee Facebook-bladsye gevestig: Vryheid in Jesus vir die Afrikaanse gemeenskap en Petrus & Alta in Ministry vir die Engelse gemeenskap. Hierdie bladsye het gegroei en het tans onderskeidelik 2 900 en 604 volgers.

Nadat ons bediening by die kerk tot ‘n einde gekom het, het Petrus vanaf April 2023 begin om video’s oor verskeie geestelike temas te skep en dit op YouTube onder ons kanaal @vryheidinjesus te plaas. Daar is tans 35 video’s beskikbaar, en ná ’n tydperk van stilte beplan ons om binnekort weer te begin met ‘n nuwe reeks getiteld Ons Fondasie in Jesus Christus. Hierdie reeks fokus op die belangrike aspekte wat ‘n Christen moet verstaan wanneer hy of sy Jesus as Verlosser aanvaar en weergebore word.

Tans is ons besig met voorbereidings vir ons verhuising na die middel van Suid-Afrika.