11 Januarie 2013 die 2de dag

Dit reen en is heerlik koel. Eerste vergadering met die direkteure (of base). Ons kry weer ander werk. Alta moet help met ‘n nuwe program waar ‘n groep kinders na ‘n nuwe huis verskuif word. Die kamer vir hulle moet nog ingerig word en ons kry ook elkeen werk daarmee. Alta en Ma Nellie moet ook, sodra die kinders verskuif is, hulle in die middae vir 2 ure besig hou. Verder neem Alta die babahuis se toesig oor wanneer die huidige toesighouer huistoe gaan vir 6 maande. Ek moet elektriese onderhoud doen op die sentrum, die Mozambique elektrisien oplei, die sentrum deurgaan en kyk waar die elektrisiteit aandag nodig het en moet ook  na die voertuie omsien.

Daar moet winkel toe gegaan word want daar is kos by Marloth vergeet. ‘n Plaaslike jongman stem in om ons te gaan wys waar die winkels is. So 14:00 vertrek ons stad toe met druk verkeer. Ons vind Shoprite (kos is baie duurder as in SA), en ons sal moet leer om Portugees te praat, ons verstaan nie eers as die kassier vra of ons kleingeld het nie en die aanmaak koeldranke se etikette is ook Potrugees. By Maputo Mall naby die hawe, kry ons simkaarte vir Mosambiek, vandaar wys hy waar Game en die vismark is. Ek kry deeglike ondervinding hoe om in Maputo te bestuur, jy gee nie toe nie en moet heeltyd weet wat 360 grade om jou aangaan, voertuie ry steeds al is die verkeerslig rooi vir hulle en vleg dan deur die dwars verkeer met hoeters wat ooral raas. Die geheim is wanneer dit druk raak en daar is verkeersopeenhopings val agter ‘n taxi in en gee vir niemand ‘n geleentheid om voor jou in te kom nie. Ons is regdeur Maputo en met ‘n stiller agterroete terug Zimpeto toe. Hierdie roete het so ‘n 2km sandpad ingesluit wat vol damme water was. Ek het ‘n kans gehad om die Kia se 4 wiel te gebruik. Ons was 4 ure later terug by die huis, lekker moeg.

Aankoms by Zimpeto

Ons laai wat ons kan by Marloth en val in die pad so 130km om te ry. Grenspos is hierdie keer nie ‘n probleem nie en ons gaan vinnig deur. Lugversorger werk hard want daar is ‘n hittegolf. Verkeer deur Maputo is druk en stadig. Ons arriveer 11:30 by Zimpeto.
Ons huis word vir ons gewys en daar is ‘n koelteboom vir die Kia. Hulle is smart, hulle het die huis skoon gemaak, beddens is opgemaak en daar is kos gekoop en dit is in die rakke en yskas gepak.
Dit is baie warm en niemand het energie om baie te doen nie. ‘n Gereelde koue stort help. So deur die tyd daag daar ander mense op om te groet (daar is ook nog ‘n Suid Afrikaner Catherine Kloppers wat ook kort gelede gearriveer het). Laat middag word daar vir ons klaar voorbereide kos gebring.
Vroeg vroeg is ons in die bed en probeer slaap in die hitte met die waaiers aan.
Hier is ‘n paar foto’s.