K023 Gee aandag wanneer die Heilige Gees met jou praat

Hnd 16:14 AOV “En ‘n vrou met die naam van Lídia, ‘n purperverkoopster van die stad Thiatíre, ‘n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is.”

die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is.”

Wat beteken hierdie woorde?

Gee ag of luister wat die Heilige Gees vir jou sê wanneer Hy jou hart oopmaak of jou aandag trek deur wat ander sê (prediking) of wat jy lees, maw. die Here praat met jou, gee aandag.

Wanneer mens na ‘n preek luister of die Bybel lees dan is jy besig om meer te leer van God en jy bêre dit in jou geheue of hart sodat jy dit later weer kan onthou.

Die meeste van die tyd is dit net inligting wat jy versamel om meer te verstaan wat God van jou verlang in jou verhouding met Hom of moontlik later gaan nodig kry wanneer ‘n sekere situasie opduik.

Dit gebeur dat jou volle aandag nie altyd by wat jy lees of hoor, is nie, dan gebeur dit dat wat jy hoor of lees skielik jou volle aandag trek of indien jy wel met volle aandag betrokke is vir jou uitstaan. Dit is dan belangrik dat jy aandag gee en weet dat die Heilige Gees direk met jou praat.

Ontleed dit wat jy ontvang:

  • Is dit ‘n antwoord op ‘n vraag wat jy aan die Here gevra het, of
  • Duidelikheid en rigting met iets wat jy in daardie stadium sukkel in jou lewe, of
  • Waarsku die Heilige Gees jou, of
  • Is dit leiding van die Heilige Gees om iets te doen of te aanvaar, soos in die geval met Lidia in die teksgedeelte, of
  • Is dit ‘n antwoord of leiding wat jy gaan nodig hê met iets wat binnekort oor jou pad gaan kom? Dit gebeur gereeld met my dat ek ‘n gedeelte in die Bybel lees en kort daarna beland ek in ‘n gesprek waar hierdie gedeelte van toepassing is en ek dit dan kan aanhaal.

 Jy behoort die rede vir hierdie woord van die Heilige Gees te verstaan, maar indien jy nie weet of seker is nie, gesels met die Here en vra vir duidelikheid of wees bedag daarop in jou daaglikse lewe waar ‘n situasie voorkom waar jy hierdie boodskap gaan nodig hê vir leiding vir jouself of vir iemand anders.

In kort: Wees altyd bedag om die Heilige Gees te hoor en wanneer jy iets hoor tree dan daarvolgens op.