Om ‘n lewe van oorvloed te kan geniet moet jy ook gesond wees.
Is jy gesond of word jy aangeval met siekte?
Hoeveel dra jy by tot die siekte wat jy ondervind?
Jesus belowe ons lewe en in oorvloed.
Joh 10:10 AOV Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.
Die ‘hulle’ waarna Jesus verwys, is ons wat weergebore is en al hier op die aarde die ewige lewe ontvang om in te lewe.
Joh 5:24 AOV Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.
Ons wat weergebore is, het alreeds die ewige lewe nou hier op die aarde, want ons het uit die dood in die sonde waarin ons was, oorgegaan na die lewe in Jesus. (Joh 17:3)
Waarop dit neerkom is dat ons ‘n lewe van oorvloed nou al hier op aarde kan geniet, indien ons weet hoe om binne God se waardestelsel (geestelike reêls) te lewe en wat se mag ons teen die duiwel en sy invloed het.
Lewe van oorvloed sluit in ‘n lewe met goeie gesondheid in.
Die eerste faset om in oorvloed te lewe, is met goeie gesondheid, liggaamlik en geestelik.
Belangrik, dit is nie God wat ons ‘n siekte gee om ons te straf, omdat ons verkeerde dinge (sonde) doen nie of te toets om te kyk of ons betroubaar of goed is nie of om ons iets te leer nie.
Daar is egter verskillende omstandighede wat ons gesondheid kan beïnvloed en dit is soos volg:
God se waardestelsel vir die mens:
God het die menslike liggaam ontwerp om op ‘n sekere manier goed te funksioneer en die mens kan dit nie verander nie.
Hierdie ontwerp vir die liggaam, is dieselfde vir almal en is goed, want God maak nie foute nie en doen nie halwe werk nie.
Gén 1:31 AOV Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed.
Almal kan liggaamlik en geestelik gesond wees tot ‘n hoë ouderdom wanneer die liggaam hier op die aarde sterf en die siel en gees oorgaan na die geestelike wêreld waar God en Jesus is, indien jy weergebore is, of andersins die hel van ewige verlorenheid.
Die mens kan egter die liggaam en siel beïnvloed om nie goed te funksioneer soos God dit gemaak het nie, wanneer die balans wat nodig is nie nagevolg word nie.
Wanneer dit gebeur en die liggaam of siel begin wanfunksioneer, sê ons die liggaam is siek of daar is ‘n geestelike afwyking.
Hoe kan die mens sy liggaam of siel beïnvloed?
Ons eetgewoontes en die kos wat ons eet of dit wat ons drink:
- Die liggaam ontvang sekere stowwe wat benodig word uit die kos wat ons eet en om van ‘n redelike dieet af te wyk kan die liggaam benadeel. Dit is nie nodig om elke dieet wat aan jou voorgehou word, slaafs te probeer na volg nie, dit is gewoonlik ook nie gebalanseer soos beweer word nie. Aan die anderkant moet jy darem jou gesonde verstand gebruik om te weet dat gemorskos wat lekker smaak, nie elke dag geëet kan word nie, want dit bevat nie wat die liggaam nodig het nie.
- Voedsel word vandag gegroei of gemaak vir die massamark op maniere wat vir ons onbekend is en dalk nie altyd so voedsaam is as wat ons nodig het nie, maar God sê vir ons in –
1Ti 4:3-5 ANV Hulle [dit is dwaalleraars] verbied mense om te trou en om bepaalde soorte kos te eet. Maar God het die voedsel gemaak, sodat dié wat glo en tot die kennis van die waarheid gekom het, dit met danksegging kan gebruik. Alles wat God gemaak het, is immers goed. Niks wat met danksegging ontvang word, is verwerplik nie, want dit word deur die woord van God en deur die gebed geheilig.
Dit is hoekom ons altyd voor ons eet, God dank vir die kos en vra dat dit geseën word. Dan weet ons dat die kos wat ons gaan eet die nodige voeding sal gee, al is die inhoud in die kos onbekend, want God sal daarvoor sorg. Hierdie sluit gemorskos en roomys in, maar ons moet die balans hou en dit nie elke dag eet nie.
- Dieselfde is van toepassing op wat ons drink. Daar word baie gepraat dat ons genoeg water moet drink, maar is die water wat by ons uitkom gesond of nie? Ons drink dit in die geloof dat God dit sal seën in die liggaam. Mense drink koffie, tee, koeldrank en alkoholiese drankies. Hierdie drinkgoed is nie ‘n probleem nie, solank dit gebalanseerd gebruik word, maar die oomblik wanneer dit in oormaat gebruik word, is dit negatief vir die liggaam.
- Die hoeveelheid wat ons eet het ook ‘n direkte invloed op die liggaam. Ons liggaam is ontwerp om aan sekere vereistes te voldoen om goed te funksioneer, dit sluit ons gewig in. Wanneer jy ondergewig is, kry die liggaam nie genoeg van die stowwe wat dit nodig het nie en wanneer jy oorgewig is kry die liggaam meer stowwe wat dit nodig het en word dit wat nie nodig is nie, in bv vet omgesit. In beide gevalle is dit negatief vir die liggaam en kan dit wanfunksie veroorsaak wat tot siektes ly. Voorbeeld: met oorgewig moet die hart harder werk om die bloed deur die liggaam te sirkuleer wat die hart negatief beïnvloed, daar is baie siektes wat deur oorgewig veroorsaak word en voorkom kan word indien jy jou inname van kos beheer, deur die hoeveelheid en soorte kos.
Inkort jou liggaam waarsku jou wanneer dit iets nodig het, kos of drinkgoed en waarsku jou ook wanneer dit genoeg gekry het. Maw. Hou op eet wanneer jy versadig is en drink veral water wanneer dit warm is en jy begin sleg voel.
Die volgende is oefening:
- Oefening is baie nodig vir die liggaam, maar daar moet ook ‘n balans hiermee wees.
- Teveel oefening en ‘n oormaat van sport beoefening, kan jou liggaamsdele soos gewrigte en spiere beskadig. Dit kan ook verslawend wees, die liggaam stel adrenalien vry met oefening en wanneer die oefening gestaak word dan veroorsaak die tekort aan adrenalien negatiewe reaksies by die persoon net soos ondervind word met verslawing aan dwelmmiddels.
- Te min oefening is ook nie goed nie, oefening help om die liggaam se spiere en gewrigte te ontwikkel en soepel te hou. Gebalanseerde oefening verbrand stowwe wat teveel ingeneem is en die liggaam nie nodig het nie. Oefening kan voorkom dat jy moeilik beweeg en of oorgewig raak.
Nodige rus vir die liggaam en siel:
- Die liggaam en siel (brein/bewussyn) is ontwerp om elke dag vir ‘n sekere tyd (6-8ure) te rus.
- Daar is nie so-iets, soos ek het net 2 of 3 ure slaap nodig, nie.
- As mens na die lengte van ‘n nag kyk wat God gemaak het, is dit gemiddeld so tussen 8 tot 12 ure afhangende van die seisoen en waar op die aarde jy is. Dit is die tyd wat God voorsien het vir ons om te rus, want daar was in die begin nie voldoende lig in die nag om iets te doen nie. Dit was eers na elektriese ligte onwikkel is, dat dit moontlik was om die nagte korter te maak.
- Die liggaam en siel moet ook rus om ‘n gesonde liggaam en geestelike lewe te hê.
- Verder het God ook bepaal dat die mens elke sewende dag uit ‘n week nie met sy normale werk aangaan nie en rus of ander dinge doen. Dit is hoekom daar 7 dae in ‘n week is soos God dit geskep het in Genesis, ses dae om te werk en een om te rus.
Enige afwyking van hierdie voorskrifte oor langer tydperke gaan die gesondheid van die liggaam en siel ernstig benadeel, veral op die mens se geestelike vlak.
Lewe van spanning ook genoem stres:
- God het elkeen uniek ontwerp en het vir elkeen ‘n doel hier op die aarde. Hy het verder vir elkeen die regte talente gegee om hierdie werk of doel vir Hom uit te voer. Wanneer jy dus gaan begin om self dinge vir jou op te laai, wat God nie vir jou beplan het nie, gaan daar spanning in jou begin opbou omdat jy sukkel om suksesvol te wees. Die algemeenste voorbeeld is, jy is in die verkeerde werk en kan nie byhou nie of jou werk geniet nie.
- ‘n Ander vlak van spanning, is jou bekommernis (vrees) oor wat om jou gebeur; by die huis, jou omgewing, jou land en die wêreld. Hierdie is buite jou beheer en jy is bang vir wat kan gebeur en dat dit ‘n direkte invloed op jou lewe gaan hê.
- Al hierdie soorte van spanning gaan jou liggaamlik en geestelik, negatief beïnvloed met gesondheidsprobleme wat gaan volg. Niemand kan in spanning lewe oor ‘n lang tydperk en nie een of ander siekte ontwikkel nie.
Al wat jy hieraan kan doen is om eerste God se doel vir jou te bepaal en dan daarmee aan te gaan.
Met alles wat om jou gebeur kan jy slegs jou vertroue in God plaas om jou te beskerm. Kyk minder TV en luister en lees minder nuusberigte. Lees meer God se Woord en laat die wêreld se probleme aan Hom oor om te hanteer.
Sonde wat ons doen of ons voorgeslagte gedoen het:
- Wanneer daar gepraat word dat siekte deur sonde veroorsaak word, wil niemand dit hoor nie en gryp dadelik na Joh 9:2-3, waar Jesus sê die man wat blind gebore is, was nie agv hy of sy ouers wat gesondig het nie.
Daar is egter baie Skrifgedeeltes waar Jesus iemand gesond gemaak het en hulle sonde vergewe het. Joh 5:2-14, Mar 2:5-12, Mat 9:2-7, ens.
Dan ook in die brief wat Jakobus geskryf het –
Jak 5:14-16 AOV Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. 15 En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word. 16 Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.
Die laaste gedeelte van vers 15 wys dat siekte kan ook aan sonde gekoppel word en vers 16 koppel weer siekte direk aan sonde.
- Nie alle siekte word kan aan sonde gekoppel word nie, soos ons vroeër gesien het dat liggaamlike en geestelike siekte kan voorkom wanneer ons nie binne God se waardestelsel vir die mens bly nie.
- In 1 Joh 1:8-9 word vir ons gesê, dat na ons weergebore is, sal ons steeds sondig, maar as ons dit bely sal God ons vergewe. Waarop hierdie neerkom is, ons gaan steeds verkeerde dinge doen na weergeboorte, maar as ons hardnekkig aangaan met die verkeerde dinge en nie omdraai terug na God toe nie, gaan ons God se seën verloor, want God kan nie sonde seën nie.
Om buite God se seën te wees beteken, dat ons buite God se beskerming is en die duiwel kry toegang om ons direk aan te val, waarvan siekte een manier van aanval is.
- Die duiwel val jou aan deur jou siel (gedagtes). Hy vertel jou leuens of hits jou aan om jou gedagtes van God af weg te neem en om minder liefde aan jou medegelowiges te bewys. Jou gedagtes, veral as jy heeldag daaroor tob, kan jou liggaam so beïnvloed dat siektes in die liggaam kan manifesteer.
‘n Voorbeeld is: onvergewensgesindheid teenoor iemand wat iets verkeerd aan jou of iemand naby aan jou gedoen het. Wie is jy om nie te vergewe nie, ongeag wat die persoon gedoen het, God het al jou sondes vergewe deur Jesus wat vir jou sonde gesterf het. Hierdie onvergewensgesindheid veroorsaak spanning in jou en gaan aan jou vreet soos kanker en jy gaan heel moontlik opeindig met kanker wat jou gaan doodmaak.
Ander voorbeelde is:
- die gebruik van dwelmmiddels en dit wat jy doen wanneer jy onder die invloed is,
- dronkbestuur en ‘n ongeluk wat moontlik kan gebeur waar jy en ander dood kan wees of geskend vir die res van jou of hulle lewe,
- Wilde lewe van vrye seks met baie ander en eindig met geslagsiektes of VIGS.
Daar is nog vele voorbeelde, maar die eindpunt is, of jy weergebore is of nie, jy gaan die gevolge dra vir wat jy doen – dit wat jy saai gaan jy oes.
- Wanneer dit by kinders kom wat gestrem gebore is of ‘n ernstige siekte, soos kanker kry, hoekom gebeur dit?
Een ding is seker, dit is nie God wat verantwoordelik daarvoor is nie, God maak nie foute nie en straf nie onskuldige kinders nie.
Voorbeelde van optrede deur ouers wat kinders se gesondheid kan beïnvloed:
- Ma wat baie alkohol gebruik met swangerskap kan veroorsaak die kind met die alkoholsindroom gebore word.
- Ma wat dwelmmiddels gebruik gedurende swangerskap kan ernstige afwykings by die baba veroorsaak.
- Ouers wat nie behoorlik na die kinders omsien nie, swak voeding, kind in gewelddadige huishouding, kind wat verwaarloos word, kind wat mishandel word, ens. gaan nie ‘n normale kind, liggaamlik en geestelik meebring nie.
Niemand weet wat ‘n ander in die donker doen of in die verlede gedoen het nie, behalwe God. Die enigste moontlikheid om ‘n antwoord te kry hoekom jou kind ‘n vloek dra, is om die Heilige Gees te vra indien jy nie reeds weet nie.
Ons weet of verstaan ook nie altyd hoe groot invloed ons optrede en lewens op ons kinders se lewe het nie en dat baie dinge waarmee hulle sukkel eintlik kom as gevolg van ons en die voorgeslagte se optrede.
Ons weet ook dat Jesus alle vloeke vir ons aan die kruis gedra het en dat ons wat weergebore is vry van enige vloek van die verlede is en die ouer staan in vir die kind tot die kind oud genoeg is om self verantwoordelikheid vir julle lewe te neem. Gal 3:13
Hoe om siekte te hanteer en daarvan ontslae te raak:
- Soek die oorsaak van die siekte, elke siekte het ‘n oorsaak, bv. lewensstyl van rook, longkanker of kort aan asem, ens.
- Maak veranderinge om oorsaak van siekte te verwyder, bv. verander lewensstyl (eet minder), hou op rook, begin oefen, ens.
- Wanneer daar sonde betrokke is, hou op daarmee, bely dit teenoor God en vra vergiffenis (1Joh 1:8-9).
- Jesus het klaar vir ons sonde aan die kruis gesterf en hierdie sonde sluit siekte in (1 Pet 2:24). Dit is in die verlede tyd, so ons moet dit net glo en bevestig met ons mond, dat Jesus al ons siekte weggeneem het. Spreek die siekte aan om ons liggaam te verlaat. Jesus het ons die mag daarvoor gegee (Mar 16:17-18)
- Omdat die liggaam van Jesus vir ons gebreek is, kan ons daagliks nagmaal gebruik (soos medisyne) om ons geloof te versterk vir genesing wanneer ons met ‘n siekte sukkel.
Ter afsluiting:
As jy ‘n lewe van oorvloed in goeie gesondheid wil hê:
- Lewe volgens God se waardestelsel,
- Vermy sonde en indien jy verkeerd doen, stop dit en bely dit teenoor God,
- Probeer om ‘n goeie voorbeeld vir jou kinders te wees binne God se waardestelsel.
- Gebruik die magte wat Jesus vir jou gegee het om siekte uit jou lewe te verwyder.
Gebed:
- Danie Vader vir U liefde,
- Dankie Vader vir Jesus, wie vir ons sonde en siekte gesterf het,
- Dankie dat ons die mag ontvang het om siekte en die duiwel teen te staan,
- Dankie dat ons ‘n lewe van oorvloed al hier op die aarde kan lewe,
- Lei ons deur U Gees om volgens U waardestelsel te lewe,
- Ons vra dit in die Naam van Jesus Christus,
- Amen
