Moenie dat geestelike leiers met dwaalleringe jou vryheid wat Jesus vir jou gegee het van jou wegneem nie.
Wat is dwaalleringe en hoe identifiseer jy dit?
Hierdie gaan spesifiek oor wat in Jesus se Kerk oor die jare gebeur en ek glo nie Sy goedkeuring wegdra nie.
Wat verlang God van ons?
Jesus het aarde toegekom om ons te verlos van ons sonde en ons verhouding met God te herstel, soos dit was voor die sondeval.
God wil hê dat ons in ‘n verhouding met hom moet lewe –
1 Joh 3:24 NLV “Wie sy opdragte gehoorsaam, leef in ’n hegte verhouding met God en Hy op sy beurt met daardie persoon. Hieraan weet ons dat Hy in ’n hegte verhouding met ons leef: aan die Gees wat Hy aan ons gegee het.”
Wat is God se opdragte waarvan hier gepraat word –
1 Joh 3:23 NLV “En dit is sy opdrag: Ons moet glo in die persoon van sy Seun, Jesus Christus, en ons moet mekaar liefhê, net soos Hy aan ons die opdrag gegee het.”
Jesus sê vir ons in Luk 10:27 dat ons God moet liefhê met ons hele hart, siel, krag en verstand en ons naaste soos ons self.
Wat is die liefde wat God verlang?
1 Joh 4:10 NLV “Dít is volmaakte liefde: nie dat ons vir God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun as versoeningsoffer gestuur het om ons sondes weg te neem.”
1 Joh 5:2-3 NLV “Hieraan weet ons dat ons moet aanhou om die kinders van God lief te hê: wanneer ons God liefhet en sy opdragte uitvoer. Die liefde vir God bestaan daaruit dat ons sy opdragte gehoorsaam, en sy opdragte is nie moeilik nie,”
Die liefde hier is nie ‘n gevoel nie, dit is ‘n opofferende liefde, maw, ‘n aksie wat ons moet neem om God en mekaar te dien. Dit is dieselfde liefde, aksie, wat God geneem het om Jesus aarde toe te stuur om vir ons te sterf.
Wanneer ons in hierdie liefde lewe onder die leiding van die Heilige Gees, wat ons in ons ontvang het met weergeboorte, dan lewe ons in ‘n hegte verhouding met God.
Vals-profete/leraars en dwaalleraars.
Vals-profete en leraars word in die Skrif beskrywe as mense wat Jesus en wat Hy aan die kruis gedoen het ontken. Daar is al hoe meer tekens dat hulle stadig besig is om deur liberale-leringe terug te kom in die Kerk.
Hierdie gaan egter oor dwaalleraars (dit is my benaming) wat invloed in die Kerk oor die jare ingebring het en dit steeds doen en handhaaf.
Hierdie mense verwerp nie Jesus nie, maar hulle plaas mens-verklaarde laste op gelowiges wat nie van God afkom nie.
Dit kan vergelyk word met die wette, wat ons ken as Moses-wette, wat die Skrifgeleerdes en Fariseërs uitgebrei het, oor hulle vrees dat hulle dalk ‘n wet van God sal oortree, omdat hulle die wette kon misverstaan het.
In Luk 6:1-11 sien ons waar Jesus se dissipels graan gepluk het op die Sabbat en geëet het en Jesus ‘n man met ‘n uitgedorde hand genees het. Die Skrifgeleerdes en Fariseërs het hulle veroordeel dat hulle werk op die Sabbatdag.
Dit gebeur ook in ons tyd waar leiers in kerke vassteek by dit wat hulle glo die Skrif sê en die volgelinge moet dit net aanvaar.
Die algemeenste voorbeelde hiervan is:
- Dit word in jou ingedril, dat jy moet besef dat jy in sonde ontvang en gebore is en ‘n sondaar is.
Daar word vasgesteek by die wet (10 gebooie) wat jy ten alle koste moet probeer nakom.
Dit alles ongeag of Jesus vir jou gesterf het en jou vrygemaak het van die wet –
Gal 5:18 AOV Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.
Dit beteken met jou weergeboorte kom die Heilige Gees in jou en jy lewe deur die leiding van die Heilige Gees. Jy kyk nie na die wet nie, jy luister na die Heilige Gees wat jou waarsku, deur die Skrif en jou gewete.
Jy is ook vrygemaak van al die ander voorskrifte wat God aan die Jode gegee het, voor Jesus se koms –
Kol 2:16-17 ANV Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus.
Die verskillende wette en gebruike was slegs ‘n skadubeeld van Christus was, wat sou kom en is deur Christus aan die kruis volbring. Enigiets wat weer bygevoeg word by dit wat Christus gedoen het, kanselleer die genade van God.
- Dan kom ons by die Heilige Gees, hulle erken dat dit Heilige Gees bestaan, maar dit is waar dit eindig. Hulle aanvaar nie die doop met die Heilige Gees nie, ook nie dat die krag wat ontvang word van die Heilige Gees nie. Dat die gawes van profeteer, woord van wysheid, woord van kennis, gesondmaking, spreek in tale, ens nog bestaan word ook nie erken nie. Die verklaring is dat dit nie meer nodig is nie en uitgesterf het saam met die Apostels, want dit is met God se woord vervang. Daar is niks in die Skrif wat hierdie verklaring bevestig nie en as Jesus en die Apostels dit gebruik het om mense se aandag te trek, wat maak ons beter om sonder dit te wil werk?
Die grootste probleem hier is, volgens my mening, dat hierdie leiers nie die geestelike wêreld verstaan of glo dat dit bestaan nie, want dit is buite ons 5 sintuie.
- Finansies bring ons by die volgende wanopvatting. Hulle glo jy kan nie na rykdom uitsien nie, want dit is ‘n euwel en sal jou laat sondig.
Joh 10:10 word geïgnoreer waar Jesus ons ‘n lewe van oorvloed belowe waarvan geld ‘n deel is.
Hulle gee ook geen verklaring oor wat die Skrif sê oor saai en oes en ander gedeeltes oor geld nie. Hulle leer ook nie die wat hulle volg dat indien hulle God en ander seën met wat hulle ontvang, hulle ook ryklik geseën sal word nie.
Hulle sê ook nie waar Christene wat baie geld het, inpas nie.
My vraag is, moet almal in armoede soos hulle lewe weens hulle verkeerde sienings, is dit ‘n sonde om ‘n gemaklike lewe te lei, wat van Abraham, Dawid en Salomo?
- Dan ons gesondheid, hulle verklaar dat ons gesondheidsprobleme het, omdat ons verkeerde goed gedoen het en God ons nou straf of ons wil leer of toets.
Ja ons gesondheidsprobleme kan kom van dit wat ons oor onsself bring deur ons lewenswyse en optrede, maar dit is nie God wat ons siekte gee nie. Dit kan nêrens in die Skrif onder die Nuwe Verbond gevind word nie.
Wat wel gebeur ons verloor God se seën en beskerming, want Hy kan nie verkeerde optrede seën nie. Onthou daar is ‘n duiwel wat kyk wanneer hy kans kan kry om ons aan te val (Joh 10:10).
Verder sê hulle God sal jou gesond maak as dit Sy wil is. Jesus het klaar vir ons siekte gesterf (1 Pet 2:24), ons moet net ons sonde bely en God sal dit vergewe (1 Joh 1:8-9) en daarna glo dat ons genees is. Die volgende gedeelte verduidelik dit ook –
Jak 5:14-16 NLV “Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid. En ’n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan. En watter sondes die sieke ook al gedoen het, dit sal hom vergewe word. Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ’n kragtige werking.”
Hoekom gebeur hierdie nie in alle kerke nie?
- Wanneer ons kom by die liggaam wat sterf hier op die aarde, dan beweer hierdie mense dat dit God se wil was of dat God besluit het dit is tyd om hom of haar weg te neem. Hierdie bewerings is die oorsaak dat baie mense van God wegdraai wanneer hulle ‘n geliefde verloor.
Weereens kan niks hiervan gevind word in die Skrif onder die Nuwe Verbond nie, inteendeel Jesus het almal gesond gemaak en ander berispe, maar niemand doodgemaak nie en Sy verklaring was dat Hy net doen wat Hy die Vader sien doen.
Die enigste wat gevind word oor afsterwe van die liggaam is in Joh 10:10 waar Jesus sê die duiwel kom om siek en dood te maak.
Ons sal nooit altyd verstaan wanneer iemand sterf nie, maar ons kan nie God beskuldig nie.
Ter afsluiting
- Moenie dat gebruike of verklarings deur mense oor jou geestelike lewe en verhouding met God, jou weg van God dryf nie.
- Gaan toets alles wat vir jou gesê word of wat hulle wil hê jy moet doen, aan die Skrif onder die leiding van die Heilige Gees.
- Gesels ook met ander gelowiges en vra dat hulle jou leiding uit die Skrif gee oor vrae wat jy het.
- Moenie dat mense en hulle gebruike jou beïnvloed en jou lewe moeilik maak nie, Jesus se offer het ons vryheid gebring en lewe daarin om ‘n lewe van oorvloed te kan geniet soos Hy belowe het.
- Aan geestelike leiers maak seker wat jy preek, moet nie laste op jou volgelinge plaas nie. Antwoord vrae uit die Skrif en nie uit dit wat jy dink nie.
Gebed
- Dankie Vader vir U liefde,
- Dankie vir Jesus wat U gestuur het om vir ons sonde te sterf en ons vryheid te bring wat nou al hier op die aarde begin,
- Vader lei ons deur U Gees sodat ons die aanvalle van die duiwel deur dwaalleraars kan herken wat laste op ons wil lê en nie van U is nie.
- Heilige Gees help en lei ons, om ons verhouding met God daagliks hegter te maak,
- Dankie Vader vir U beskermde hand wat U oor ons hou en aanvalle van die duiwel afweer.
- Ons vra hierdie in die naam van Jesus Christus
- Amen
