Verlossing, Genade

Verlossing word joune wanneer jy Jesus in jou lewe in nooi.

Jesus se dood aan die kruis en sy opstanding 3 dae later, maak dit vir ons moontlik om in geregtigheid voor Vader God te staan, om ons sondelas agter te laat en deur geloof in te stap in die genade wat God vir ons alreeds van voor die skepping, vir ons beplan het.

Vader God het ons lief en het reeds voor die skepping ons elkeen beplan.

Psa 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie. (AOV)

Is dit nie wonderlik nie? Ons dae was bepaal voordat daar ‘n enkele dag bestaan het!

Ons sondig almal dis wat ons van Adam en Eva ge-erf het, maar reeds na die sondeval het Vader God belowe dat Hy ‘n verlosser sal stuur (Gen 3:15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.) en dit was Jesus. Jesus het die volle prys betaal want Hy alleen was sondeloos maar ook volkome mens. Dit het Hom laat kwalifiseer, ons is te sondig, ons kon onsself nie los koop nie. Deur God se liefde en genade was Sy seun Jesus ons enigste redding.

Jesus het vir ons met Sy lewe, ‘n baie duur prys betaal en ons die keuse gelaat om self te besluit of ons die kosbare geskenk gaan aanvaar. Deur Sy opoffering kan ons reeds hier op aarde God se genade beleef.

Jesus se opoffering het vir ons verlossing moontlik gemaak. Die oomblik wat ons erken en aanvaar dat Jesus die enigste manier is waardeur ons verlossing kan kry en dan Jesus as ons verlosser in ons lewens in nooi, is ons onmiddelik verlos van ons sondige natuur. Wanneer on Jesus in ons harte in nooi vind ‘n wonder plaas en ons gees word heeltemal vernuwe. (2Kor5:17) Maar meer hieroor ‘n ander keer.

Ons is in verwondering en dankbaar vir ons nuut gevonde verlossingsgeskenk. Dikwels bly ons egter hier vassteek in ons dankbaarheid en ontdek nie die res van ons wonderlike geskenk nie. Dit is belangrik dat ons meer moet leer en uitvind wat alles in ons geskenk is, moet nie so opgewonde, dankbaar en tevrede met jou verlossing wees dat jy nie verder kyk wat alles in jou kosbare geskenk is nie. Soek ‘n plek waar jy meer kan leer of in dissipelskap gelei sal word en moenie ophou soek nie, God het meer vir jou. Jesus het dit ook belowe voordat Hy opgevaar het om aan die regterhand van sy Vader te gaan sit.

Ondersoek en ervaar God se genade en liefde. Vind Sy bevrydende vrede en vryheid.