Hoe goed gaan dit met jou finansies, het jy genoeg om van te lewe of sukkel jy elke maand om deur te kom?
Lewe jy binne God se waardestelsel?
Jesus belowe ons lewe en in oorvloed.
Joh 10:10 AOV Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.
Die ‘hulle’ waarna Jesus verwys, is ons wat weergebore is en al hier op die aarde die ewige lewe ontvang om in te lewe.
1 Joh 5:13 NLV Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle met die wete kan leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe, julle wat aanhou glo in die persoon van die Seun van God.
Ons wat weergebore is, het alreeds die ewige lewe, nou hier op die aarde, want ons het uit die dood in die sonde waarin ons was, oorgegaan na die lewe in Jesus. (Joh 17:3)
Waarop dit neerkom is dat ons ‘n lewe van oorvloed nou al hier op aarde kan geniet, indien ons weet hoe om binne God se waardestelsel (geestelike reëls) te lewe en wat se mag ons teen die duiwel en sy invloed het.
Lewe van oorvloed sluit in ‘n lewe met ‘n oorvloed van lewensmiddele.
Om ‘n lewe van oorvloed te kan hê moet daar meer as net voldoende lewensmiddele wees.
Kom ons kyk eers wat is lewensmiddele?
Dit is alles wat ‘n mens nodig het om te kan lewe wat insluit kos, water, klere, skuiling teen die weer, vervoermiddel om te kan reis (behalwe om te loop), ens.
Hierdie word egter aan ruilhandel gekoppel, wanneer ek iets nodig het, dan verkry ek dit deur iets in die plek daarvan te gee.
Geld het daarom die middel geword waarmee ruilhandel plaasvind. Ek bied my dienste of ‘n item aan en ontvang geld waarna ek die geld weer aanbied vir iets wat ek verlang.
Geld is ‘n belangrike item in ons lewe en daarom is daar ook baie verwysing daarna in die Woord om vir ons leiding daaroor te gee.
Hoe bekom ons die geld wat ons nodig het om van te lewe en voorspoed te kan hê?
Weens Adam se val het God ‘n baie duidelike reël gegee –
Gen 3:19 AOV In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.
Inkort, ons moet werk om geld te verdien om te kan lewe.
As ons hier van werk praat is dit enige werk wat ons vir ‘n werkgewer doen of ons eie besigheid bedryf.
God het elkeen van ons gemaak en Hy het elkeen sy eie talente of vermoë gegee om ‘n sekere werk goed te kan doen.
‘n Werk wat jy vir ‘n lang tyd of selfs die res van jou lewe gaan doen, moet dit meer as ‘n werk wees, dit moet ‘n roeping wees wat jou: inspireer, bevredig, geniet, …… .
Wanneer ons hierdie werk doen sal ons gelukkig wees en dit geniet om dit te doen.
Indien dit nie so is nie, dan is daar ‘n probleem van of jy is in die verkeerde werk of daar is ‘n probleem met jou gesindheid.
Daar is nie ‘n kortpad om geld te bekom sonder om daarna probleme hê nie.
Hoe hanteer jy die geld wat jy deur jou roeping verdien?
Jy verdien nou ‘n finansiële inkomste, hoe moet jy die geld hanteer om die voorspoed en oorvloed wat God ons wil gee te ontvang?
‘n Volgende geestelike reël wat God daargestel het is die wet van saai en oes.
Gal 6:7 ANV Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes.
Hierdie wet is van toepassing op alle fasette in ons lewe, hier op die aarde, en sluit ook in hoe ons ons finansies hanteer.
In 2 Kor 9 praat Paulus pertinent oor dankoffers wat die gemeente in Korinte bymekaar gemaak het vir ander gemeentes en dit is van toepassing vir ons elkeen se dankoffer aan God.
2Ko 9:6 ANV Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.
Hierdie volgende vers sê ons moet dink en beplan hoe ons ons finansies bestuur en bestee met die volgende vers wat dit beklemtoon –
2Ko 9:7 ANV Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.
Daar is nie vaste reëls hoeveel en waarvoor alles ons moet gee nie, maar daar is egter riglyne in die Woord en met die volgende beloftes van God –
Spr 3:9-10 ANV Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn.
Gee uit alles wat jy ontvang eerste God se deel terug aan Hom en Hy sal jou meer teruggee as wat jy nodig het.
Verder sluit dit ook in waar jy geld gee vir sekere instansies soos kinderhuise of ondersteuning van hulp aan mishandelde vroue en kinders of bedienings wat God se Woord uitdra, ens. want hierdie bydraes wys die lig van God se liefde aan almal uit.
Spr 11:24 ANV Daar is mense wat vrylik uitdeel en tog steeds meer het, daar is ander wat suinig is en tog arm word.
Saam met hierdie vers kom die volgende punt wat onthou moet word.
Ons finansiële inkomste kom alles van God en word verdeel in saad wat ons moet saai vir God en brood wat ons kan eet om te lewe –
2Ko 9:10 ANV God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid ‘n ryk oes laat oplewer.
As jy alles wat God jou gee opeet en niks saai nie kan God jou nie seën nie –
2Ko 9:6 ANV Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes;
Indien jy getrou saai wat God jou gee om te saai, sal God meer saad aan jou voorsien om te saai en saam met dit sal jy ook meer ontvang om te eet.
God verwag egter ook nie dat jy alles wat jy kry moet saai nie, jy moet ‘n balans handhaaf –
2Ko 8:12 ANV As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan. Hy verwag nie van hom wat hy nie het nie.
Daarom is dit wys om die beginsel van 10% van jou inkomste aan God terug te gee en indien jy oor het na jy jouself versorg het kan jy verder gee waar nog hulp nodig is.
Die beginsel van 10% van jou ontvangste aan God kom in verskeie plekke in die Woord voor en kan daarom as ‘n goeie beginsel van verdeling gebruik word, maar steeds onthou 2Kor 9:6-7.
Waarskuwings oor die hantering van geld uit die Woord:
Hoe bestee jy dit wat jy ontvang?
1Jo 2:16-17 AFR20 “want alles in die wêreld – dit wat die liggaam begeer, en dit wat die oë begeer, arrogante spoggery oor besittings – is nie uit die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld en sy begeertes gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly tot in ewigheid.”
Soos met alles is daar ‘n balans, moenie al jou geld uitmors op elke ding wat jou oë sien nie, al is dit na jy jou dankoffer aan God gegee het.
Na jou dankoffer aan God prioritiseer jou spandering, eers aan alles wat nodig is om basies te lewe – kos, dienste wat van owerhede ontvang word, versorging van gesin in alles wat nodig is, ‘n gedeelte gespaar het en daarna kan jy spandeer op luukse dinge.
Indien God jou seën met oorvloed lewensmiddele mag jy ‘n mooi motor besit of ‘n mooi huis besit, dit is nie ‘n sonde nie. Maak net seker dit kom nie tussen jou en God nie.
Een van die grootste gevare is gierigheid:
Wanneer daar honger na meer geld ontstaan om lekker of soos ander te wil lewe, raak alle logika, balans en waardes verlore.
Waak teen die volgende:
- Ek gee my tiende aan God en nou moet God voorsien – verkeerde ingesteldheid, God gaan jou nie seën nie. Jy wil God dwing om aan jou vereistes te voldoen. God sê wel in Mal 3:8-10 Hy kan getoets word, maar dit gaan oor Sy goedheid en nie om jou self te verryk nie.
- Vermy skuld sover moontlik, die volgende vers sê dit alles –
Spr 22:7 ANV Die ryke heers oor die arme; die lener is die slaaf van die man by wie hy leen.
- Moenie al jou tyd bestee om geld te verdien nie, kom eerder met minder klaar en geniet ‘n goeie lewe met jou familie, weereens handhaaf ‘n balans –
Spr 23:4 ANV Moet jou nie afsloof om ryk te word nie en moenie jou sin vir waardes verloor nie.
- Wanneer die honger na geld jou oorneem, dan is jy verlore en al bid jy tot God vir voorsiening gaan jy nie ontvang nie, want dit gaan dan oor jouself en nie God nie –
Jak 4:2-3 ANV Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ‘n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.
- Wanneer jy jou na misdaad draai om geld te maak, is dit die begin van jou probleme en einde van jou lewe. Jy mag vir ‘n tyd die geld geniet, maar die uiteinde is jy gaan alles verloor wat ook jou lewe hier op die aarde mag insluit.
Spr 21:6 ANV Skatte wat met bedrog versamel is, verdwyn in die wind en bring die dood.
Afsluiting
- God wil ons elkeen ‘n lewe van oorvloed in lewensmiddele gee, maar ons moet Sy waardestelsel in verband daarmee nakom.
- Saai die saad wat God vir jou gee om te saai eerste en dan kan jy dit geniet wat God aan jou voorsien om van te lewe.
- Toets God om 10% van dit wat jy ontvang eerste aan Hom terug te gee en kyk waar staan jy na 12 maande.
- Moet nie gee om te ontvang nie, gee uit dankbaarheid omdat God vir jou sorg.
- Moet nie geldgierig raak nie, jy kan nie iets wen nie, jy gaan op die einde alles verloor en dalk ook jou lewe hier op aarde –
Heb 13:5 ANV Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”
Gebed:
- Dankie Vader vir U liefde,
- Dankie dat ons weet U wil vir ons sorg,
- Dankie vir die leiding deur U woord oor hoe om te lewe,
- Dankie Vader vir U goedheid en seën
- Amen
