(P011) Vryheid in Jesus – Lewe in oorvloed vrede en vreugde

Is daar vrede en vreugde in jou, lewe jy in vrede met ander om jou, is daar ‘n oorvloed van vrede en vreugde in jou lewe?

Bekommer jy oor wat in hierdie wêreld gebeur?

Is daar vrede en vreugde in jou, lewe jy in vrede met ander om jou, is daar ‘n oorvloed van vrede en vreugde in jou lewe?

Sonder vrede lewe ‘n mens in haat en konflik met almal om jou en daar is ook geen vreugde nie.

Kyk na die wêreld om jou en wat aan die gang is, elkeen stry om net die beste vir homself te hê. Dit sluit in van die individu tot nasies oor die wêreld.

Die duiwel doen alles in sy vermoë om enige vrede en vreugde wat daar mag wees, af te breek en die mens van God weg te hou.

Waar daar nie vrede is nie, is daar ook nie vreugde nie en die mens lewe in swaarmoedigheid.

Rom 14:17 AOV Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.

Hierdie gedeelte sê vir ons dat vrede en vreugde in die Heilige Gees deel is van God se koninkryk.

As daar nie vrede in jou lewe is nie, dan is daar ook nie vreugde nie en kort daar ‘n gedeelte van God se koninkryk in jou lewe.

God het die mens gemaak om in vrede en vreugde te lewe, maar met die sondeval het die mens vrede met God verloor.

Vrede:

God het egter besluit om die vrede tussen Hom en ons te herstel deur Jesus se offer, ons moet dit net aanvaar en weergebore word.

Kol 1:19-20 ANV God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.

Daarom word Jesus se offer om ons te red van die sonde ook die “Evangelie van Vrede” genoem (Hand 10:36).

Wanneer ons verder kyk sien ons dat wanneer ons Jesus as ons verlosser aanneem ontvang ons die vrug van die Heilige Gees en vrede is deel daarvan (Gal 5:22).

Vrede is ‘n belangrike deel in ons lewe en sonder God en Jesus kan daar nie vrede in enige mens se lewe wees nie.

Vrede is vir almal beskikbaar wanneer:

  • Ons deur God se genade gered is, wanneer ons glo Jesus het vir ons sonde aan die kruis gesterf en Hy weer deur God uit die dood opgewek is. (Ef 2:8 en Rom 10:9-10)
  • Ons as kinders van God vrede soek of najaag –

1Pe 3:11 ANV Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na!

Ons ontvang ook die volgende belofte van God –

Rom 2:10  Ewige heerlikheid, eer en vrede skenk Hy aan elkeen wat goed doen, in die eerste plek aan die Jood, maar ook aan die nie-Jood.

Blydskap of vreugde:

Ons vreugde begin met Jesus en ons sien dit in die volgende gedeeltes:

  • Luk 10:17 vertel ons dat die 70 dissipels wat Jesus uitgestuur het, vol vreugde was nadat hulle die krag ontdek wat Jesus se Naam gehad het.
  • Luk 19:37 vertel dat die mense Jesus met vreugde geprys het na hulle gesien het die kragdadige dade wat Jesus gedoen het.
  • Joh 16:20 vertel ons Jesus se offer om vir ons sonde in te staan het vir ons vreugde gebring.
  • Joh 16:24 sê Jesus vir ons alles wat ons die Vader in Sy Naam vra sal ons ontvang en ons vreugde sal volkome word.
  • Gal 5:22 sê vreugde ook deel van die vrug wat ons van die Heilige Gees ontvang wanneer ons weergebore word.

Bekommernis:

Bekommernis oor dinge wat jy nie kan beheer nie vat ook jou vrede en vreugde weg.

Luk 12:22-26 ANV Verder het Jesus vir sy dissipels gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere. Kyk na die kraaie: hulle saai nie en oes nie; hulle het geen spens of skuur nie, maar God sorg vir hulle. Julle is tog baie meer werd as voëls. Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng? As julle nie eens so ‘n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die ander dinge?

Bekommernis is ‘n gebrek aan vertroue in God om na jou om te sien en tot jy onvoorwaardelik jou vertroue in God plaas gaan jy met bekommernis sukkel wat die vrede en vreugde waarin jy kan lewe gaan weghou.

Opsomming:

Vrede en vreugde is deel van God se koninkryk.

Vrede en vreugde loop saam. Daar kan geen vreugde wees sonder vrede nie.

Wanneer kry ons vrede en vreugde:

  • Wanneer ons weergebore word deur te glo dat Jesus vir ons sonde hier op aarde gesterf het en weer deur God uit die dood opgewek is, ontvang ons die vrug van die Heilige Gees wat vrede en vreugde insluit.
  • Ons vrede najaag maw spits jou daarop toe om in vrede met ander te lewe.

Spr 17:1 ANV Liewer ‘n stukkie droë brood met vrede daarby as ‘n huis vol kos met ‘n getwis daarby.

  • Ons kan deel in die vreugde om Jesus se Naam te gebruik wanneer ons ander mense dien. Ons moet dit net glo en leer om Jesus se Naam te gebruik in outoriteit.
  • Vertrou op God alleen oor alles en jy sal vrede en vreugde kry. Lewe in vrede met almal om jou en jy sal oorvloed vrede en vreugde ondervind.

Gebed:

Dankie Vader vir U liefde,

Dankie dat ons weet dat U daar is vir ons,

Dankie dat ons ons probleme aan U kan oorlaat,

Dankie vir vrede en vreugde wat U voorsien,

Amen