Jesus voorsien ons ‘n lewe in oorvloed wat liefde insluit.
Ervaar jy ‘n oorvloed van liefde in jou lewe?
Jesus belowe ons lewe en in oorvloed.
Joh 10:10 AOV Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.
Die ‘hulle’ waarna Jesus verwys, is ons wat weergebore is en al hier op die aarde die ewige lewe ontvang om in te lewe.
1 Joh 5:13 NLV Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle met die wete kan leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe, julle wat aanhou glo in die persoon van die Seun van God.
Ons wat weergebore is, het alreeds die ewige lewe, nou hier op die aarde, want ons het uit die dood in die sonde waarin ons was, oorgegaan na die lewe in Jesus.
Waarop dit neerkom is dat ons ‘n lewe van oorvloed nou al hier op aarde kan geniet, indien ons weet hoe om binne God se waardestelsel (geestelike reëls) te lewe en wat se mag ons teen die duiwel en sy invloed het.
Lewe van oorvloed sluit in ‘n lewe met liefde.
Om ‘n lewe van oorvloed te kan hê moet daar liefde in wees.
Om ‘n goeie lewe te kan lewe hier op die aarde te kan hê, moet daar liefde in die mens se lewe wees.
Die sielkundiges stem daarmee saam en het deur navorsing gevind indien ‘n persoon nie liefde ontvang nie daar sielkundige nagevolge is.
Die mens moet liefde ontvang, maar moet ook liefde gee, dit is tweerigting aksie.
Die perfekte liefde
Kom ons begin by die perfekte liefde.
Perfekte liefde, is God se liefde vir ons as mens en sluit alle mense in, gered of nie.
God het ons eerste liefgehad –
1Jo 4:19 AOV Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.
Saam met God se liefde vir ons, wil God hê ons as gelowiges mekaar moet lief hê.
1 Joh 4:7-11 NLV:
7 Geliefdes, laat ons mekaar aanhou liefhê, want volmaakte liefde is van God afkomstig. Elkeen wat só liefhet, is uit God gebore en ken God persoonlik.
Volmaakte liefde kom van God en wanneer ons strewe om so lief te hê, beteken dit ons is weergebore en ken God
8 Elkeen wat nie só liefhet nie, ken God nie persoonlik nie omdat God liefde self is.
God is liefde
9 Op hierdie manier het God sy volmaakte liefde aan ons bekendgemaak toe Hy sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur het sodat ons deur Hom die lewe kan ontvang. 10 Dít is volmaakte liefde: nie dat ons vir God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun as versoeningsoffer gestuur het om ons sondes weg te neem.
God se volmaakte liefde is Sy opoffering, Hy het Sy Seun Jesus aarde toegestuur om vir ons sonde te sterf.
11 Geliefdes, as God ons dan só tot die uiterste toe liefgehad het, moet ons ook mekaar tot die uiterste toe liefhê.”
Ons moet ook deur opoffering ons liefde aan mede-gelowiges uitleef.
Hierdie gedeelte sê vir ons:
- God is liefde
- God het homself deur Jesus vir ons gegee,
- God se liefde het ons lewe gegee – ons sonde is weggeneem,
- God se liefde het ons verander – die Heilige Gees is nou in ons, saam met ons weergebore gees, wanneer ons Jesus as ons verlosser aanneem.
Ons het reeds God se liefde en moet dit net aanvaar (glo), want niks wat ons doen kan veroorsaak dat God ons meer of minder gaan lief hê nie.
God het ons reeds liefgehad toe ons nog sondaars was en ver van Hom was. (Rom 5:8)
Ons weet dus verseker dat ons reeds liefde in oorvloed vanaf God ontvang.
God vertel ons verder in 1 Kor 13:4-7 wat liefde prakties in ons lewe is:
NLV 4 Die liefde is geduldig en vriendelik, die liefde is nie jaloers nie, die liefde blaas nie sy eie beuel nie, is nie vol van homself nie. 5 Dit tree nie onwaardig op nie, stel nie sy eie belange voorop nie, is nie kort van draad nie, hou nie boek van die kwaad wat hom aangedoen word nie. 6 Dit treur oor die onreg wat plaasvind, en juig as die waarheid seëvier. 7 Die liefde bly stil oor ander se foute, dit bly steeds vertrou, dit hou aan met hoop, dit verduur alles.
Ons sal liefde in oorvloed ervaar wanneer ons begin om liefde uit te lewe na ander.
Saai liefde en jy sal liefde oes.
Afsluiting:
Om liefde in oorvloed te kan ervaar:
- God het ons lief en ons moet dit aanvaar en glo, ons kan niks doen wat sal veroorsaak dat God ons meer of minder lief gaan hê nie.
- God het ons met perfekte liefde lief, dit is liefde in oorvloed.
- God wil hê dat ons Hom ook met dieselfde liefde moet liefhê –
1 Joh 5:3 NLV “Die liefde vir God bestaan daaruit dat ons sy opdragte gehoorsaam, en sy opdragte is nie moeilik nie,”
- Liefde vir God bestaan daaruit dat ons Sy opdragte gehoorsaam deur ons medegelowiges te dien met dieselfde liefde waarmee Hy ons lief het –
Heb 6:10 NLV God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet hoe hard julle vir Hom gewerk het nie: hoe julle julle liefde vir Hom betuig het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en dit nog steeds doen nie.”
- Om God se liefde uit te leef na ander, sal oorvloedige liefde na ons terug bring.
Dit is ‘n geestelike wet van God, wat jy saai gaan jy oes – saai liefde en jy sal liefde oes.
Gebed:
- Dankie Vader vir U ongelooflike liefde,
- Dankie vir U liefde in oorvloed,
- Heilige Gees lei en ondersteun ons om God se liefde uit te leef na almal om ons,
- Ons vra dit in die Naam van Jesus Christus,
- Amen
