Hoe herwin jy jou gesondheid bonatuurlik sodat jy weer ‘n Lewe van Oorvloed kan geniet in goeie Gesondheid?
In die vorige lesing “(P008) ‘n Lewe in goeie gesondheid” is daar gekyk na waar kom siekte vandaan en die volgende is nou hoe om van die siekte ontslae te raak:
- Soek die oorsaak van die siekte, elke siekte het ‘n oorsaak, bv. lewensstyl van rook, longkanker of kort aan asem, ens.
- Maak veranderinge om oorsaak van siekte te verwyder, bv. verander lewensstyl (eet minder), hou op rook, begin oefen, vergewe die wat jou te na gekom het, ens.
- Wanneer daar sonde betrokke is, hou op daarmee, bely dit teenoor God en vra vergiffenis (1Joh 1:8-9).
- Jesus het klaar vir ons sonde aan die kruis gesterf en hierdie sonde sluit siekte in (Jes53:3-5; 1 Pet 2:24). Dit is in die verlede tyd, so ons moet dit net glo en bevestig met ons mond, dat Jesus al ons siekte weggeneem het. Spreek die siekte aan om ons liggaam te verlaat. Jesus het ons die mag daarvoor gegee (Mar 16:17-18)
In hierdie gedeelte, soos opgestel deur Alta, gaan ons in diepte kyk na die laaste punt oor die mag wat Jesus vir ons, as weergebore kinders, gegee het om siekte bonatuurlik aan te vat.
Jou outoriteit
Heb 10:9-10 NLV “Daarna sê Hy: “Kyk, Ek het gekom om u wil uit te voer.” Hy skaf dus die eerste reëling af om dit met ’n tweede een te vervang. Omdat God dit so wou hê, is ons geheilig deur Jesus se liggaam wat eens en vir altyd vir ons geoffer is.”
Die eerste reëling was die offers van Israel soos voorgeskryf deur God en dit is vervang met die tweede reëling wat die offer van Jesus wat slegs eenmaal aan die kruis gebring is.
God wil hê dat ons Jesus as ons verlosser moet aanvaar omdat Hy alles wat ons nodig het aan die kruis volbring het.
God het die mens gemaak met ‘n vrye wil om self besluite te neem en een daarvan is om Jesus as verlosser aan te neem (Joh 3:16-19) en so God se geskenk van genade deur geloof vir verlossing van sonde te ontvang (Ef 2:8).
Ons bestaan uit ‘n gees, siel en liggaam (1 Tes 5:23 ) en wanneer ons weergebore word, word ons ou gees vervang met ‘n nuwe gees wat deur die Heilige Gees verseël word (Ef 1:13).
1Jo 3:9 AOV Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.
Hierdie gedeelte sê na weergeboorte kan ons nie meer sonde doen nie, want ons is uit God gebore en die Heilige Gees is in ons by ons gees.
1 Joh 1:8 sê vir ons egter dat ons steeds sondig, nou hoe nou?
Ons gees is sondeloos, maar ons siel (verstand, wil en emosies) is nog onveranderd en moet hernu word deur die Woord van God. Dit is met die siel wat ons besluite neem en waar sonde gebore word en deur die liggaam kom sonde tot uitvoer.
Al gaan ons steeds sonde doen, staan ons gees (weens dit wat Jesus gedoen het), sondeloos voor God, maar die siel en liggaam dra die nagevolge van die verkeerde (sonde) wat dit doen.
Hierdie nagevolge sluit ook siekte in wat geaktiveer kan word.
So dit kan duidelik gesien word dat dit nie God is wat ons siekte gee, maar ons bring dit self oor ons met ons optrede en besluite. Daarby saam lewe ons in ‘n gevalle wêreld en word ons aangeval deur die duiwel wanneer ons hom ‘n opening gee.
Wanneer die oorsaak van die siekte verwyder is of indien dit buite ons beheer is, kan ons deur ons gees die mag wat Jesus ons gegee het gebruik om hierdie siekte bonatuurlik aan te spreek.
Jesus het deur sy dood en opstanding aan ons die mag oorgedra wat Hy op die aarde gedoen het en ons het selfs meer mag ontvang as wat Hy gehad het.
Joh 14:12-13 AOV ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan. En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.’
In hierdie gedeelte maak Jesus dit vir ons duidelik watter mag ons van Hom ontvang, wanneer ons Hom as verlosser aanvaar. Dit word ook in Mar 16:17-18 vir ons duidelik gemaak.
Jou woorde
God het die hele wêreld deur Sy woorde geskep, lees dit in Genesis. Jou woorde is net so kragtig en veral as jy Skrif aanhaal, dit wat in die Bybel staan. (Spr 18:20-21)
Hoe om die genesing uit die geestelike realm na die fisiese te bring?
- Maak seker jou geloof in Jesus is standvastig, waar en ernstig.
- Wees honderd present oortuig van alles wat Jesus se opofferings en bloed betaal het, dat die beloftes ook jou erfenis is en bid met oortuiging.
- Verstaan God se liefde en dat Hy net die beste vir jou begeer.
- Maak jou hart skoon van alle seer, bitterheid en onvergewensgesindheid. Vergewe ook jouself en God.
- Sien jouself gesond in jou verbeelding, glo dit.
- Jy is in ’n geestelike oorlog, glo en vertrou aggressief, hou jou gedagtes en woorde positief en gebruik jou outoriteit.
- Moet nie toelaat dat die natuurlike omstandighede jou onderkry nie. Staan op Jesus se beloftes en die Woord, wees geduldig en bly glo.
- Vermy negatiewe mense, omring jou met mense wat glo, God se Woord spreek en bemoedig.
- Hoor en doen wat God sê.
- Moet nie ingee of onrustig raak as daar ’n deurbraak is nie, dis dan wanneer daar teen geestelike aanvalle gewaak moet word.
- God is getrou en genesing is beskikbaar, staan sterk, bekom kennis, bely sondes, rus voldoende, bly geduldig en staan aanvalle van die bose teë.
(Hierdie gedeelte is ‘n opsomming uit Greg Mohr se boek The Healing Door)
Wat het Jesus vir ons gegee en wat is ons magte?
Glo as jy bid! Mark 11:23-24. Of dit vir jouself of iemand anders is, glo en vertrou!
Mar 11:24 ANV Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.
Vestig jou vertroue op Jesus en Sy voltooide werk op die kruis.
Dis nie in jou eie krag of mag wat jy bid nie. Dit is nie jou verantwoordelikheid nie. Jy voer ’n opdrag uit om vir die wat siek is te bid. Wanneer genesing nie onmiddellik is nie, bid weer. Genesing kan ook oor ‘n tydperk manifesteer.
Wanneer genesing nie ondervind word nie, hoor by God wat verhinder dit.
As dit moontlik is, bou die persoon vir wie gebid word se geloof. Gee getuienisse van genesing, vertel van God se liefde. Vertel of lees van genesing in die Bybel.
Bid uit ‘n plek van oorwinning (1 Joh 5:4), Jesus het reeds genesing voorsien, geen rede om God te smeek nie. Spreek dus in outoriteit, klink of jy dit bedoel, wees ernstig daaroor.
Mar 16:17-18 ANV ‘Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle bose geeste uitdrywe; in ander tale sal hulle praat; 18 met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.”
Jak 5:14-16 AOV Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word. Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.
Hierdie twee gedeeltes maak dit weereens duidelik dat jy bonatuurlike genesing deur gebed kan ervaar en sondes vergewe sal word, maar as jy twyfel of onseker is sal jou gebed geen effek hê nie.
Hoe om hierdie mag aan te wend?
Nou dat ons weet dat ons bonatuurlike mag deur Jesus ontvang het om te kan doen wat Hy hier op die aarde gedoen het, kom die vraag hoe wend ons hierdie mag prakties aan?
Daar kan hande op die persoon gelê word, maar dit is nie ’n vereiste wanneer ons vir iemand bid nie.
Dank God vir Sy liefde vir die persoon en Sy werke aan die kruis.
Spreek die probleem aan. Beveel die probleem om die liggaam te verlaat en dat wat verkeerd is herstel word en in lyn kom met God se Woord en doen dit in Jesus se Naam. (Redes en Skrif kan ook gebruik word)
Dit help indien die persoon vir wie jy bid ’n verwagting het dat die genesing ontvang sal word. Daarom bou ons geloof en vra ’n aksie of uitprobeer waar moontlik om dit genesing te bevestig.
Voorbeeld van ‘n gebed vir genesing:
- Dankie Vader vir U liefde, dat U [persoon se naam as dit slegs een persoon is] so lief het.
- Dankie vir Jesus wat vir ons sonde en siekte aan die kruis gesterf het,
- Ons weet dat U [persoon se naam] ‘n gesonde lewe wil laat geniet,
- Ons spreek nou die gewrig wat pynlik is aan om algeheel te herstel, spiere, ligamente kom inlyn, pyn, swelsel en kneusings herstel nou, in Jesus se Naam.
- Amen
Toets vir verandering – voeg ‘n aksie by die geloof. Is die gewrig nog seer en dien wel bid weer.
In die begin is dit intimiderend. Neem alles in ag wat jy weet, vra God en die Heilige Gees om jou te lei en te beskerm. Oefen dit op jouself, hoofpyn is een van die maklikste om by te begin. Oefen in ’n veilige omgewing waar mense verstaan waaroor dit gaan.
Bid vir beskerming teen aanslae van die bose vir jouself en vir jou gesin. Wanneer ons God se werk doen sal aanslae kom en ons weet nie altyd waarmee ons te doen gaan kry nie.
Etiket: dames bedien dames en mans bedien mans, anders moet daar verkieslik twee persone wees wat bedien. Die is om jou te beskerm teen aantygings en moeilikheid met die gereg te vermy.
Wees versigtig waar jy hand oplê. Laat die persoon hul eie hand op die gedeelte plaas, of raak net aan die hand of skouer.
Die ander moontlike weg wat ook gevolg kan word.
God het ons verskillend van mekaar gemaak en ons geloof kan ons beperk om bonatuurlik genees te word, maar God sal ons altyd op ons elkeen se geloofsvlak ontmoet.
Daarom as jy glo dat jou rugprobleem kan slegs deur ‘n operasie herstel word en jy glo dit werklik dan sal dit so wees.
Geen genesing kan ontvang word indien jy glo dat jy ongeneeslik siek is nie.
Dan is dit verder ook belangrik om nie die siekte jou eie te maak nie, vb. my kanker, dit is nie jou kanker nie! Dit is die duiwel wat siektes gegee en al het jy gehelp, deur byvoorbeeld ‘n wrok te dra wat die kanker geaktiveer het.
Afsluiting:
- Jesus het ook vir al ons siektes op die kruis gesterf,
- Gebruik jou outoriteit wat Jesus vir jou gegee het,
- Praat positief vir herstel van jou siekte,
- Gebruik jou mag wat Jesus vir jou gegee het om siekte bonatuurlik te genees,
- Anders volg die pad van die mediese wetenskap vir herstel as jy dit so glo.
- Glo vir genesing ongeag die pad wat jy volg om dit te verkry,
- Wees verseker dat jy kan genees word van enige siekte. Neem ook aksie en bly siekte teenstaan selfs na genesing.
- Wanneer jy genesing ontvang, moenie ophou om jou medisyne te drink nie, laat jou dokter eers jou genesing bevestig en medikasie staak. Dink net hoe gaan Jesus se Naam verheerlik word indien daar genesing was wat nie wetenskaplik verklaar kan word nie.
- Wees bewus daarvan dat indien jy genees word en die oorsaak van die siekte is nie verwyder nie, gaan dit terugkom.
- Die belangrikste – God wil hê dat jy in goeie gesondheid moet lewe reeds hier op aarde.
Gebed:
- Dankie Vader vir U liefde,
- Dankie dat U dit vir ons moontlik gemaak het om ‘n gesonde lewe te kan lewe,
- Maak asb. ons oë oop vir ons bydrae tot ons gesondheidsprobleme en help ons om dit reg te maak,
- Help asb. ons ongeloof sodat ons volle gesondheid terug te kan ontvang,
- Ons vra dit in die Naam van Jesus Christus.
- Amen
