Wat is God se wil vir jou? Ontvang jy die korrekte opleiding van wat God van jou verlang en wat Sy waardestelsel is of is dit vals ideologieë wat deur geestelike leiers uitgedink is wat nie na die Heilige Gees luister nie?
Hierdie is ‘n opvolg oor dwaalleringe wat vandag in die kerke voorkom en teengestaan moet word.
Waarvoor staan elke kerk huidig hier op die aarde en is dit waarvoor hulle staan, volgens Jesus se wil?
Hierdie vraag moet elke gelowige homself vra oor die kerk wat hy of sy bewoon.
Ek gaan gereeld deur verskeie geestelike publikasies om te sien wat gebeur in kerke deur die wêreld. My oog vang die volgende opskrif in The Christian Post van 26/11/2023 “Pastor apologizes for allowing male speaker with long hair”.
Dit het onmiddellik my aandag getrek – wat het langhare te doen om in ‘n kerk te kan praat en hoekom vra die pastoor verskoning daaroor?
Die storie steek soos volg aanmekaar –
Daar is ‘n groep wat bestaan, uit mense van verskeie kerkgroepe, met die doel om die evolusieleer verkeerd te bewys. Die groep word deur verskillende kerke genooi om hulle standpunte te kom verduidelik. So het dit gebeur dat hulle opgetree het by ‘n gemeente, van een van die grootste kerkgroepe in Amerika. Een van die sprekers was ‘n 18 jarige jongman met langhare. ‘n Pastoor van ‘n ander gemeente uit dieselfde kerkgroep, wat blykbaar nie eens teenwoordig was nie, het daarna afgegaan oor die jongman se langhare en dat dit nie mag gebeur het nie, omdat vir ‘n man met langhare mag nie in die kerk vanaf die preekstoel praat nie, want dit is in direk teenstrydig met die Skrif – 1 Kor 11:14. Sy standpunt verder is, langhare vir ‘n man is ‘n skande.
Wat verder verontrustend was, is die pastoor wie die groep uitgenooi het, het verskoning gevra aan sy gemeente en die kerkgroep, omdat hy nie beter voorsiening gemaak het om te voorkom dat ‘n man met langhare optree nie en Skriftekste uit die ‘NIV’ gebruik het nie (Die NIV aanhalings was deel van die aanval, maar die arme jongman het nie eens Skrif-verwysings gebruik nie).
Wat sê hierdie skrifgedeelte
1 Kor 11:14 AOV Of leer ook die natuur self julle nie dat as ‘n man lang hare dra, dit vir hom ‘n oneer is nie;
Om te verstaan waaroor hierdie gaan moet jy 1 Kor 11:2-16 gaan lees.
In hierdie gedeelte verduidelik Paulus dat Christus die hoogste gesag is in die kerk en in elkeen se lewe. Hy gebruik die illustrasies van haarlengte en kopbedekking om ons onderwerping as mans en vroue aan Christus en die vrou wat haar moet onderwerp aan haar man in die huwelik te verduidelik. Hierdie illustrasies was die gebruik in daardie tyd om so vlakke van gesag duidelik te maak.
Paulus het Christus se gesag verduidelik en nie ‘n gedragskode nie.
Die vraag verder is hoe lank is langhare volgens hierdie persoon wat die jongman veroordeel?
Volgens navorsing was die haarlengte daardie tyd tot op die skouers en ons sien dit steeds by Rabbi’s wat tans op TV gesien word.
Ek weet ek beklemtoon gereeld wette wat nie meer van toepassings is nie en steeds in kerke afgedwing word, maar hierdie is weereens ‘n voorbeeld daarvan.
In hierdie geval word alle mans met langhare veroordeel en in die hel gewerp volgens hierdie geestelike leier.
Wat verwag God van ons as mense hier op die aarde?
- Eerste om te glo met ons hart en te bely met ons mond dat Jesus vir ons sonde gesterf het en dat God Hom uit die dood opgewek het. So word ons weergebore. Rom 10:9-10
- Na ons weergeboorte is ons kinders van God. 1 Joh 3:1
- God se opdrag aan ons is om Hom en ons naaste lief te hê.
Luk 10:27 AOV Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.
God se opdrag word verder aan ons as volg verduidelik:
1 Joh 3:23 NLV “En dit is sy opdrag: Ons moet glo in die persoon van sy Seun, Jesus Christus, en ons moet mekaar liefhê, net soos Hy aan ons die opdrag gegee het.”
- God wil ‘n hegte verhouding met ons elkeen hê en dit gebeur wanneer ons sy opdrag uitvoer:
1 Joh 3:24 NLV “Wie sy opdragte gehoorsaam, leef in ’n hegte verhouding met God en Hy op sy beurt met daardie persoon. Hieraan weet ons dat Hy in ’n hegte verhouding met ons leef: aan die Gees wat Hy aan ons gegee het.”
- Die liefde wat hier beskrywe word is ‘n opofferende liefde en wanneer ons iets doen wat nie tot opbou van God of ons naaste is nie, dan oortree ons God se opdragte. Ons het dus nie ‘n vryhand om te doen soos ons wil nie, sonder om eers te bepaal of die invloed positief of negatief gaan wees op ons verhouding met God en/of ons naaste nie.
Hoe lewe ons hierdie liefde aan God en ons naaste uit?
Kom ons kyk na die storie van langhare – hoe beïnvloed my langhare my liefde vir God en my naaste?
Volgens my het dit geen invloed op God of my naaste nie, of my hare lank of kort is gaan nie bepaal of ek God of my naaste lief het of nie.
Dit is dieselfde of ek maer of groot is of mooi of lelik, dit gaan geen invloed hê op my liefde wat ek uitlewe vir God of my naaste nie.
Gal 5:18 sê vir ons dat ons vry is van die wet (die wette wat God aan Israel deur Moses gegee het) en dat die Heilige Gees ons lei en waarsku wanneer ons teen God se wil optree.
Die wil van God is, dit wat God daar gestel het vir ons, om volgens te lewe sodat ons ‘n gebalanseerde lewe van oorvloed hier op aarde te kan hê en Hom en ons naaste te dien.
God het ‘n waardestelsel daar gestel wat vir almal, gelowiges en ongelowiges, van toe passings is.
Een is, wat jy saai, gaan jy oes – in alle fasette van die lewe, voorbeelde –
- Die persoon wat ander aanval en beroof, hy gaan een of ander tyd gevang word en betaal vir wat hy gedoen het en hierdie persoon het in elk geval nie ‘n lewe van vrede en voorspoed nie.
- Die persoon wat rondloop en kwaad saai tussen mense, deur kwaadwillige en verdraaide skinderstories, gaan eensaamheid oes, want mense gaan hom vermy en daar kan moontlik reeds selfverwerping in hom wees wat hom dryf om hierdie saad te saai en hy het al op daardie stadium nie ‘n gelukkig lewe nie.
- Onvergewensgesindheid teenoor ander wat jou te na gekom het – jy loop met ‘n wrok teen iemand en weier om te vergewe soos God van ons verlang. Jy gaan heel moontlik opeindig met gesondheidsprobleme as die oes van jou onvergewensgesindheid en in elk geval gaan jy ook nooit ‘n gelukkig en vredevolle lewe geniet nie, want jy gaan gereeld dink aan dit wat jou seermaak.
Die vraag is gaan jy na die Heilige Gees luister wanneer Hy jou waarsku deur God se Woord of deur jou gewete of gaan jy jou eie wil en verdraaide siening volg en oes wat jy gesaai het.
Wanneer geestelike leiers begin om nuwe wette op te stel, deur foutiewe verklarings uit God se Woord, omdat hulle nie die Woord bestudeer het onder die leiding van die Heilige Gees nie en skrifgedeeltes verkeerd verstaan saam met die onkunde van wat God vir ons wil gee en van ons verlang, dan dryf hulle gelowiges en selfs ongelowiges wat moontlik Jesus sou aanvaar het, weg van Jesus se kerk. Die wat agterbly by die kerk, lewe ook onder die juk van wette wat nie van God is nie.
Ter afsluiting:
- Gelowiges moet nie dat jou geestelike leier jou onder die juk van sy eie wette plaas wat hy verkeerd verstaan uit die Woord van God nie.
- Die vraag wat jy moet vra vir elke gebruik of wet wat aan jou voorgehou word, is dit God wat dit van jou verlang en wat is die doel daarvan. God hou ons nie vas aan wette wat geen voordeel vir ons of ons naaste het nie. Ons kan nie God tevrede stel om wette na te kom nie, Jesus het die verhouding tussen God en ons herstel en God wil ‘n verhouding met ons hê.
- Om buite God se waardestelsel vir ons te lewe, beweeg ons weg van God se seën en Hy sal ons nie keer nie, maar ons sal die gevolge daarvan moet dra.
- Geestelike leiers, maak seker dat julle God se wil en liefde aan julle volgelinge verkondig en nie julle eie verdraaide verklarings wat nie van God is nie. Julle gaan aan Jesus moet antwoord oor die leiding wat julle gegee het. Jak 3:1
Gebed:
- Dankie Vader vir U liefde vir ons sonder enige voorwaardes,
- Dankie vir U geduld met ons,
- Dankie vir ‘n lewe van vrede en voorspoed wat U al hier op aarde vir ons voorsien,
- Vader beskerm ons deur die leiding van U Gees teen gebruike en wette wat nie van U is nie,
- Ons vra dit in die Naam van Jesus Christus
- Amen
