(P004) Die God wat ons aanbid

Waar staan jy vandag aan die begin van hierdie jaar, vrees jy wat om jou en in die wêreld aangaan, het jy alle hoop verloor, sien jy geen toekoms vir jou nie?

Wie vertrou jy, die enigste God wat daar is of die wêreld met sy leiers?

Ons begin ‘n nuwe jaar en waar staan ons as Christene?

  • Ons sien ‘n wêreld wat volgens ons Christelike waardes besig is om in mekaar te val.
  • Die Jode en Christene word voluit deur die duiwel aangeval.
  • Ons sien nou daagliks die pyn en lyding wat mense ly in die oorloë wat tans hoofberigte op die nuusmedia is.
  • Wat ons nie sien of hoor nie, is die Christene wat daagliks in Midde-Afrika en ander Oosterse-lande vermoor word, maar nie belangrik genoeg is om die nuusmedia vol te wees nie.
  • Regerings en leiers sê wat hulle wil, sonder enige waardestelsel waar verkeerd reg is en reg verkeerd is.
  • Mense se lewens beteken niks meer nie, wat nie beperk word tot die oorloë wat aan die gang is nie, maar in misdade regoor die wêreld wat al erger word, baie sigbaar hier in ons eie land.
  • Ons as Christene staan verslae voor al hierdie gebeure en wonder wanneer gaan ons dalk aan die beurt kom met aanvalle op ons.

Ons vra wanneer kom Christus terug soos belowe word. Geestelike leiers is dit almal eens, dat dit volgens die profesieë in die Woord naby is, maar niemand weet presies wanneer nie.

Maar waar staan ons Christene nou hier op aarde?

Ons God is ons enigste basis waarop ons kan staan. Geen ander leier of regering of nasie is betroubaar nie.

Jes 26:4 ANVVertrou altyd op die Here, want die Here God is ‘n veilige toevlug.”

Ons God het elkeen wat op die aarde was en nou steeds is en nog gaan kom, self gemaak.

Dit sluit in Jood, Arabier, Westerling, Oosterling, ens.

Psa 139:13 ANVU het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.”

Ons God het elkeen wat lewe of gelewe het of nog gaan lewe lief.

Joh 3:16 ANV “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

Dit sluit almal in, die Hitlers en Stalins, selfs ook die terroriste wat nou hierdie verskriklike dade gedoen het, maar dit beteken nie dat God dit wat hierdie mense gedoen het, goedkeur nie.

Ons God het sy Seun aarde toegestuur om vir elke mens se sonde, ongeag wat die sondes is, te sterf.

1Jo 4:10 ANVWerklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.”

Ons God vergewe alle sondes, al is dit die afskuwelikste dinge wat ons gedoen het, wanneer ons glo en bely:

Rom 10:9-13 ANVAs jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. [10] Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. [11] Die Skrif sê tog: “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.” [12] “Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ‘n mens ‘n Jood of ‘n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, [13] want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.”

Niemand se sonde is te groot, om nie deur God vergewe te word nie.

Ook nie jou sonde of die terroris wat mense vernietig het nie.

Ons God verlos ons deur Jesus Christus van die sonde en hierdie wêreld.

Gal 1:3-4  ANVGenade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring.”

Waarom is daar sonde en sulke verskriklike sondige optrede?

God het alles aan die begin geskep en dit was baie goed. (Gen 1:31)

God het die mens geskep om ‘n verhouding met Hom te hê. (1Joh 3:24)

God het die mens gemaak wat uit ‘n gees, ‘n siel en liggaam bestaan. (1 Thes 5:23)

Die gees is waarmee ons met God koppel. Jesus in Joh 4:24 God is Gees.

Die siel is ons verstand en emosies.

Die liggaam is dit wat jy sien en voel.

God het die mens beheer oor die aarde gegee. (Gen 1:26)

Die mens Adam is egter deur die duiwel verlei om te sondig, wat veroorsaak het dat die mens se gees met God verbreek is en die duiwel het toegang tot die mens se gees gekry en beheer oor die aarde.

Omdat God gees is, moet Hy die mens wat ‘n liggaam het gebruik om op die aarde Sy wil uit te voer.

Die duiwel is ook ‘n gees en het ook die mens se liggaam nodig, om sy wil op aarde uit te voer en het met die sondeval van Adam toegang tot die mens se gees gekry en beheer oor die aarde gekry. (2 Kor 4:3-4 )

Daarom sien ons die wrede goed wat mense doen en dit is omdat hulle totaal deur die duiwel en sy demone beheer word.

God kan nie die beheer van die aarde terug vat nie, behalwe om die aarde te vernietig en die duiwel in die hel te werp. Indien God mense gaan begin beheer om te keer dat hulle slegte dinge te doen en hulle keer om hulle eie keuse te maak, beteken dit dat die mense marionette gaan wees. Dit kan nie slegs beperk word tot sekere mense nie, dit sal op alle mense van toepassing moet wees.

Dit beteken dat God alle mense sal moet beheer en dit is nie hoe God die mens gemaak het nie. Die mens is gemaak om self te besluit oor sy optrede wat goed was tot die duiwel toegang tot die mens gekry het.

Tot God die aarde vernietig so geprofeteer in Openbaring, het Hy intussen Jesus aarde toe gestuur om vir die mens se sonde te betaal om die verhouding tussen God en die mens te herstel en ook die duiwel te oorwin vir die wat in Jesus glo.

Vir die weergebore Christen kan die duiwel nie meer beïnvloed om sy goddelose werke uit te voer nie, behalwe om die Christen bang te maak en in vrees te laat lewe, wanneer die Christen se siel nog nie behoorlik vernuwe is deur die Woord van God nie.

Jak 4:7 ANVOnderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.”

God se beskerming:

God belowe deur Jesus se woorde dat Hy ons, sy kinders, sal beskerm.

Luk 21:17-18En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar  daar sal selfs nie eens ‘n haar van julle kop af val nie.”

Getuienis wat ek oor tyd gehoor het:

  • Die sendeling egpaar in ‘n Midde-Oosterse land.
  • Broer Andrew – God se smokkelaar.
  • Rabbi in die tonnel – “Stories to Inspire”

Jesus sê ook vir ons, dat ons vervolg sal word ter wille van Sy Naam (Luk 21:12-15), maar die Heilige Gees sal ons dan ondersteun.

Ons sien dit wanneer ons na getuienisse luister van gelowiges in lande waar Christene vervolg word.

  • Getuienis van jongmeisie in Iran.

Kom ons kom terug na onsself en dink aan niksseggend tot ernstige gebeure waar God jou beskerm het. Dinge wat met jou gebeur het, wat jy aan toeval toegeskryf het, daar is nie so iets soos toeval nie, dit is God wat jou beskerm het.

Wat moet jou ingesteldheid en optrede wees as ‘n kind van God.

  1. Hou vas aan God en verklaar teenoor jou self:
    1. My God het my lief ongeag wie ek is en wat ek gedoen het Joh 3:16 en 1 Joh 4:9
    1. My God is betroubaar – Jes 26:04 & Spr 3:5
    1. My God is goed – Ps 86:5
    1. My God is die grootste – elke knie sal voor Hom buig – Fil 2:10-11 & Rom 14:11
    1. My God is waarheid – Rom 3:4
    1. My God is onbeperk – Ef 3:20
    1. My God voorsien – Fil 4:6 & 2 Kor 9:6-8 & Luk 6:38
    1. My God beskerm my – Heb 13:6
  2. Bou jou verhouding met en vertroue in God deur Sy woord te lees, eerder as om na elke nuusuitsending te kyk of te luister.
  3. Hoe meer jou gedagtes op God is, hoe meer sal jy vrede kry met wat om jou gebeur en jy sal ophou om jou te bekommer wat die wêreld doen.
  4. Soos jou geloof in God groei so sal negatiwiteit verminder – geloof is die teenmiddel van negatiwiteit.
  5. Dank God elke dag vir sy beskerming – wanneer jy iewers heen ry sê “Dankie Vader ek weet dat U hand van beskerming oor my is, en dat ek sonder ongeluk, teenspoed of ander probleme sal ry” en waar jy bly “Dankie Vader ek weet U hand van beskerming is oor ons hier by die huis vandag en vannag“.
  6. God laat Sy krag deur ons vloei, daarom moet ons onsself sterker sien as die wêreld.
  7. Staan vas in God – die ongelowiges en die duiwel is bang vir ons, daarom probeer hulle vrees in ons aanwakker.

Jak 4:7  “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”

  • Vertrou onvoorwaardelik op God

Psa 37:3-4  “Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid, 4  en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.”

Ons kan slegs ons pligte wat God ons gegee het, hier op die aarde voltooi, deur slegs op God te vertrou vir beskerming en leiding deur die Heilige Gees.

Kom ons Bid:

  • Dankie Vader dat ons weet U is die enigste werklike God in die wêreld en heelal.
  • Dankie Vader vir U ongelooflik liefde vir ons,
  • Dankie vir U Seun Jesus wat vir ons sonde kom sterf het op die aarde,
  • Dankie dat ons U kan groot maak in hierdie wêreld.
  • Dankie dat ons op U kan staatmaak as beskermer in hierdie wêreld waar ons tans in woon.
  • Ons vra dat U Gees al U kinders wat tans regoor die wêreld vervolg word, sal ondersteun en beskerm.
  • Ons vra dat U Gees almal wat in die verskillende oorloë, wat tans aan die gang is, met vertroosting en moed sal voorsien en die wat U genade nog nie ontdek het nie, se oë sal oopgaan en Jesus as verlosser sal aanvaar.
  • Ons vra dit in die Naam van ons verlosser Jesus Chritus

Amen