(P003) Vryheid in Jesus (Deel 2) – Luk 4:17-19

Jy is ‘n weergebore kind van God maar jy ervaar nie die vryheid wat Jesus vir ons gebring het, hier op die aarde nie.

Jy is siek, het nie genoeg om van te lewe nie, lewe in konfrontasie met almal en vrees wat om jou en in die wêreld gebeur.

Hierdie is vir almal, maar in die besonder vir die wat elke Sondag in die kerk sit of voorheen kerk toe gegaan het en twyfel oor baie dinge en baie probleme ondervind.

Luk 4:17-19 En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is: (Jes61:1-2) Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.

Jesus het gekom om die duisternis van hierdie wêreld, wat deur die duiwel beheer word, met Sy lig te vervang en vryheid te bring vir diѐ wat in Hom glo.

Die eerste deel het gegaan oor ontdek jou vryheid in Jesus mbt tot jou geestelike lewe (jy kan na die eerste deel kyk P002 Vryheid in Jesus Deel 1 indien jy dit gemis het), hierdie tweede deel gaan oor ontdek jou vryheid in Jesus mbt jou fisiese lewe.

Jy is ‘n weergebore kind van God, maar jy lewe steeds ‘n lewe van hel hier op die aarde:

  • Jou gesondheid is swak, jy drink ‘n handvol pille elke dag en jy vrees die dood.
  • Jy moet met min geld klaar kom of jy vrees dat jou geld gaan opraak.
  • Jou verhouding met ander mense is swak en vol konflik.
  • Jy vrees dit wat om jou in die wêreld gebeur, misdaad, oorloë en swak regerings.

Wat sê Jesus egter vir jou:

  • Wanneer dit by jou gesondheid kom, moet jy besef siekte is die begin van die dood van jou liggaam. Daar is ‘n oorsaak vir die siektes wat jy ondervind en die meerderheid van dit is, as gevolg van jou eie optrede. Dit is nie God wat jou siekte gee om jou te straf of te toets of iets te leer nie. So gaan kyk ‘n bietjie wat veroorsaak die siektes wat jy het en hoeveel het jou optrede bygedra tot hierdie siektes. Kyk dan verder wat kan jy verander of self doen om hierdie siektes teen te staan en daarvan ontslae te raak.

Terwyl Jesus op aarde was het Hy almal wat sy pad gekruis het en siek was, gesond gemaak. Hierdie siektes was meesal agv sonde (Mar 2:5, Joh 5:14, Jak 5:16 en daar is nog baie meer) of invloed van die duiwel (Mat 4:24, Mat 8:16, Hand 10:38 en nog baie meer).

Die probleem is dat die mense nie glo of verantwoordelikheid wil neem, dat hulle siekte toegeskryf kan word oor sondes wat hulle het nie. Die oomblik wat jy dit noem dan haal hulle (Joh 9:3) aan waar Jesus gesê die man was nie blind agv enige sonde wat hy of sy ouers gedoen het nie, maar hulle kyk al die ander teksverse mis, waar siekte aan sonde en die duiwel gekoppel word.

Jesus het vir ons sonde aan die kruis gesterf en dit sluit in vir die siektes wat ons in ons liggaam ondervind, fisies (liggaam) en geestelik (siel).

Mat 8:16-17 AOV En toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom gebring, wat van duiwels besete was; en Hy het die geeste met ‘n woord uitgedrywe; en almal wat ongesteld was, het Hy gesond gemaak, sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra.

Hierdie kom uit die profesie van Jesaja wat oor Jesus handel

Jes 53:4-5 Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

Dan sien ons ook, waar Jesus die nagmaal instel, dat Hy verwys na eet van sy liggaam. Die brood verwys na Sy liggaam en wonde wat  vir ons genesing bring en die uitstorting van sy bloed (wyn) is die vergifnis van ons sonde –  

Mat 26:26 En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.

Mat 26:28 Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.

Ons sien dus dat Jesus se liggaam gebreek is en deur Sy wonde, is ons genees. Dit loop saam met die vergewing van sonde, want sondes bring siektes, bv wanneer jy te veel eet raak jy oorgewig wat mediese probleme meebring, gebruik van dwelms voer gevaarlike stowwe in wat die liggaam afbreek en siektes veroorsaak, bekommernis veroorsaak spanning wat ‘n hartaanval kan veroorsaak, ens.

Siekte is ‘n vloek van die duiwel en Jesus het dit aan die kruis vir ons weggeneem, ons moet net daarop staan.

Gaan kyk ook na my ander lesing onder die naam(K004) ‘n Gesonde Liggaam’.

Jy lewe ook in vrees om liggaamlik te sterf, omdat jy nie seker is jy is gered en dat wanneer jy sterf jou siel en gees na God en Jesus toe sal gaan nie.

Soos reeds vroeër gesê, as jy glo en bely (sê, verklaar) dat Jesus vir jou sonde gesterf het en deur God weer uit die dood opgewek is, dan is jy weergebore en gaan jou siel en gees na God en Christus toe wanneer jou liggaam sterwe. Glo dit net.

  • Wanneer dit by versorging in lewensmiddele kom en jy vrees dat dit wat jy ontvang of het, gaan nie genoeg wees nie, dan vertrou en ken jy nie vir God nie.

Fil 4:6 Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.

Die eerste vraag wat jy moet antwoord is: Hoe lewe jy met dit wat God jou gee?

Gee jy geld uit so vinnig jy dit kry op enigiets wat jou oë sien of bestuur jy jou finansies oordeelkundig?

Luk 16:10-11 sê vir ons, wie met die minste getrou is sal ook met baie getrou wees, kan God jou vertrou met dit wat Hy vir jou gee?

Fil 4:11 sê Paulus, dat hy geleer het om tevrede te wees met dit wat hy ontvang, is jy tevrede met wat jy ontvang?

Na jy hierdie verse gelees het, vra of gesels jy met God oor wat jy nodig het om van te lewe?

Fil 4:19 En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.

God belowe Hy sal in elke behoefte voorsien, maar daar is egter ook ‘n gesindheid en optrede van jou kant betrokke om te kan ontvang.

2Ko 9:6-7 Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai. [7] Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.

Dan kom die vraag, hoeveel van dit wat jy ontvang, gee jy terug vir God uit dankbaarheid vir dit wat Hy vir jou gee? Ja, al kom dit van jou werkgewer of die regering of pensioen kom dit eerstens van God.

As jy spaarsamig saai gaan jy spaarsamig oes, dit wat jy saai of teruggee aan God en weer daarna oes of ontvang van God.

As jy volop saai, gaan jy volop oes, van God ontvang. Dit is solank jy nie gee, met die hoofdoel (gesindheid) om terug te kry nie. Wanneer jy gee met die gesindheid om terug te kry, gaan jy bedroë daarvan afkom.

Waar moet jy saai? Gee vir Jesus se kerk, die uitdra van Jesus se boodskap, kinderhuise, voedingsprogramme, ens., alles waar hulp nodig is en die liefde van Jesus gewys kan word.

2Ko 9:10 En mag Hy wat saad verskaf aan die saaier, ook brood verskaf om te eet en julle saad vermeerder en die vrug van julle geregtigheid laat toeneem, sodat julle in alles ryk kan word tot alle milddadigheid, wat danksegging aan God deur ons bewerk.

Dan sien ons verder dat God vir ons saad gee om te saai en brood om te eet, dit beteken van dit wat jy ontvang, is ‘n deel saad wat jy moet saai en die res brood, waarvan jy moet lewe.

Wanneer jy nie genoeg het om van te lewe nie, eet jy ook die saad ipv om dit te saai? In hierdie geval gaan God spaarsamig voorsien omdat jy nie dit wat Hy voorsien om te saai gebruik om te saai nie, maar dit self eet.

Hoeveel moet jy saai van dit wat God jou gee? Soveel as wat die Heilige Gees in jou hart lê (2 Kor 9:7) en ‘n basiese riglyn uit die Woord is 10%, maar daar word baie daaroor geredeneer, die punt bly by hoeveel jy saai en met watter gesindheid.

Gaan kyk ook na my ander lesing onder die naam(K002) Beskerm jou inkomste.

  • Jou verhouding met ander bepaal ook lewensvreugde. Indien jy aanmekaar in konflik met ander lewe gaan jy voortdurend ongelukkig en negatief wees.

God het ons almal verskillend van mekaar gemaak, so jy dink is nie soos ‘n ander dink nie. Elkeen het sy eie benadering tot ‘n saak en elkeen mag reg wees, al stem jy nie saam met die ander een se benadering nie. Om jou wil op ander af te dwing veroorsaak konflik.

Indien jy alles met ‘n negatiewe gesindheid benader, gaan niks aan jou verwagting voldoen nie, met die gevolg dat mense moedeloos gaan word met jou, omdat jy alles veroordeel.

Spr 4:23 Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.

Konflik met ander bring mee dat die partye mekaar moet vergewe. Dit veroorsaak weer verdere spanning, want elke party glo hy is reg en die iemand moet erken hy is verkeerd en verskoning vra, voor hy vergewe kan word. Verhoudings word geskaad deur onvergewensgesindheid.

Mat 18:21-22 Toe kom Petrus na Hom en sê: Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe? Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe.

Volg die volgende verse en lewe in vrede met almal om jou –

Efs 4:32 Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.

Jak 1:19 So dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.

1Jo 4:11 Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê.

  • Gaan jy in vrees lewe vir alles wat die duiwel om jou in die wêreld mee besig is?

Dit lyk oorweldigend as jy kyk na wat alles om jou gebeur en jy het geen beheer daaroor nie. Wanneer jy nie iets kan beheer nie, bring dit vrees by jou.

Die vraag is wie is die sterkste God of die duiwel?

Jes 44:6 ANV So sê die Here, die Koning van Israel, sy Verlosser, die Here die Almagtige: Ek is die eerste en Ek is die laaste, buiten My is daar geen God nie.

God is die alfa en die omega, die begin en die einde en elke knieg sal voor Hom buig en erken Hy is die enigste God.

Daarom sê Skrif vir jou –

Jak 4:7 Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

Jy kan slegs op God vertrou vir beskerming in hierdie wêreld –

Luk 21:17-18 ANV En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar daar sal selfs nie eens ‘n haar van julle kop af val nie.

Staan vas in geloof in God om jou, deur die tydperk wat jy in hierdie wêreld is, te beskerm want –

Rom 8:31 As God vír ons is, wie kan teen ons wees?

As jy nog twyfel bou jou geloof op met Jes 54:17, Ps 34:7 en Ps 91

Gaan kyk ook na my ander lesings onder die name(P001) Vrede van God in ‘n gewelddadige wêreld en (K008) God, ons sy kinders en die wêreld.

Kom ons kyk opsommend na alles ter afsluiting:

  • Indien jy gesondheidsprobleme het, gaan sit en kyk hoekom jy die siekte het en indien jy nie weet nie vra die Heilige Gees om dit aan jou bekend te maak. Besluit dan wat jy daaraan gaan doen om van die siekte ontslae te raak behalwe om alleen medikasie daarvoor te gebruik.
  • As jy te min geld het om van te lewe, gaan kyk eerste na jou gesindheid en kyk dan hoe jy dit spandeer wat jy kry of dit redelik en wys is, wat insluit, dit wat jy saai vir God. Maak regstellings en gaan gesels dan met God oor ‘n hoër inkomste en wat jy moet doen daarvoor, God gaan nie vir jou geldnote uit die hemel gooi nie.
  • Vra God vir leiding om van aanhoudende twis en onvergewensgesindheid in jou lewe ontslae te raak, dit sal ook help met jou gesondheid.
  • Die wêreld val inmekaar, maar plaas jou vertroue slegs in God en nie ander mense of leiers nie. Dank God daagliks vir sy beskerming waar jy is en waar jy gaan. Leer om in daardie vertroue daagliks te lewe, maak nie saak wat om jou en met jou gebeur nie, Hy sal jou vashou en ondersteun.

Ek hoop hierdie sal jou help om jou vryheid in Jesus te ontdek en dit deel van jou lewe te maak.

Gebed:

  • Dankie Vader vir U onbeperkte liefde,
  • U is die begin en die einde,
  • U is groot en onbeperk,
  • Dankie vir Jesus wat vir ons gesterf het aan die kruis, sodat ons in vryheid al reeds hier op die aarde kan begin lewe,
  •   Vader lei ons asb deur U Gees om hierdie vryheid te kan verstaan, op te eis en die juk van die duiwel af te gooi,
  • Ons vra dit in die naam van ons Verlosser Jesus Christus,

Amen