SPREUKE 3:7-8 NLV “Moenie jou eie wysheid oorskat nie. Hou eerder die Here voor oë en vermy wat sleg is. Dit sal jou liggaam gesond hou, jou lewe verkwik.”
Wat sê Salomo hier vir ons?
“Hou eerder die Here voor oë”
Vertrou op die Here in alles wat jy doen en wat om jou gebeur.
“vermy wat sleg is”
Wanneer jy jou vertroue van die Here afhaal en op jouself begin staat maak, begin jou probleme, wat ‘n direkte invloed op jou liggaam het.
Waarvan praat ek?
- Jy begin dinge of jou werk doen op eie insig, i.p.v. om op die Here te vertrou en Sy leiding te volg – dit plaas jou onder spanning met ‘n direkte invloed op jou gesondheid.
- Jy sien en hoor wat om jou gebeur en i.p.v. om op die Here te vertrou soos Hy in Sy Woord belowe om jou te beskerm, begin jy in vrees lewe, want jy glo dat jy gaan ook ‘n slagoffer word – dit plaas jou ook onder spanning wat jou gesondheid beïnvloed.
Saam met die spanning en vrees, hoe lewe jy?
- Oor eet en jou gewig tel op – nagevolge is jou organe werk te hard, rug en bene moet ‘n gewig dra waarvoor dit nie ontwerp is nie, met die gevolg dat organe, gewigte en spiere beskadig word.
- Rook uit gewoonte of as kalmeermiddel wanneer spanning hoog is – dit is nie goed vir jou longe nie en kan longkanker veroorsaak.
- Oormaat van drank vir die ontvlugting van die werklikheid – vernietig die lewer en gee ander emosionele probleme
- Misbruik van middels wat insluit van die gewone medikasie oor die toonbank tot gevaarlike en onwettige dwelmmiddels om ook van die werklikheid te ontvlug – vernietig die liggaam wat nie ontwerp is om dit te hanteer nie.
- Lewe in haat teen ander of in onvergewensgesindheid – dit maak jou siek, navorsing wys na kanker.
- Daar is nog baie ander dinge wat in ons lewens voorkom wat ‘n direkte invloed op ons liggame het.
Salomo sê wanneer jy jou oë op die Here hou en die slegte vermy sal –
- “Dit sal jou gesond hou”
Gaan soek waar jy verkeerd lewe, stel dit reg en jou liggaam sal gesond wees.
- “jou lewe verkwik”
Jou lewe sal rustig en aangenaam word, tot op ‘n vlak wat jy nie sal kan glo nie.
Die Here het ons die volgende beloftes deur Sy Woord gee:
- Jesus het vir al ons siektes aan die kruis gesterf –
1Pe 2:24 Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees.
Jesus se liggaam is gebreek vir ons om ‘n gesonde lewe te kan lewe. Wanneer ons in Hom glo en ook glo dat siekte van die duiwel afkom om ons te vernietig (Joh 10:10).
- Die Here belowe ons beskerming in Sy Woord –
Spr 30:5 ANV Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil.
2 Pet 2:9 NLV “Die Here weet dus om dié mense wat naby aan Hom leef, uit beproewing en swaarkry te red, maar om dié wat ’n verkeerde lewe lei, te straf en vir die oordeelsdag te bêre.”
Soek die Here! Jy gaan Hom net kry deur Sy Woord te lees en te glo wat dit vir jou sê.
Wat staan jou te doen?
- “Hou eerder die Here voor oë” – kyk na die Here en vertrou op Hom – lees Sy woord en hoe meer jy dit lees, hoe meer gaan jou vertroue groei in die Here.
- Wanneer jy elke oggend wakker word dank die Here vir Sy hand van beskerming wat oor jou was gedurende die nag en dat Hy jou sal beskerm vir oral waar jy daardie dag sal gaan.
- “vermy wat sleg is” – Gaan sit en kyk na jou lewe, vra ook die Heilige Gees om dinge wat nie reg is in jou lewe aan jou uit te wys en maak ‘n lys.
- Vat die lys en maak die besluit om jou lewe te verander en dit wat op die lys is uit jou lewe te verwyder.
- Plak die lys iewers op waar jy dit elke dag sien om jou te herinner dat jy dit wil teenstaan.
- Vra die Heilige Gees elke dag om jou te ondersteun in dit wat in die lys is, teen te staan.
- Belangrikste – GLO DAT JESUS VIR ONS SIEKTES GESTERF HET (1Pet 2:24) EN DAT JY KLAAR GESOND IS EN WAG OM DIE MANIFISERING DAARVAN TE SIEN NA JY VAN DIE OORSAKE ONTSLAE GERAAK HET.
- Jy kan nie verwag om gesond te wees, maar jou optrede wat dit veroorsaak het nie verander nie.
- Die Here sê vir ons in –
1 Joh 1:8-9 NLV “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie. As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van alles wat verkeerd is.”
Ons is klaar gered en vergewe wanneer ons weergebore is, maar hierdie verse maak dit duidelik dat solank ons nog hier op aarde lewe en ons denke en wil (siel) verander moet word, gaan ons foute maak wat ‘n direkte invloed op ons lewens en liggaam gaan hê hier op aarde. Lees ook Jak 5:14-16.
Belangrik:
Moet nie al jou medikasie net sommer so los nie, verander jou lewe en op wie jy vertrou en met verbetering in jou liggaam sal jy dan van die medikasie afgehaal word deur jou dokter.
Gebed:
Dankie Vader dat U vir ons omgee en lief is,
Dankie dat ons met enigiets na U toe kan kom vir raad en hulp,
Dankie dat ons weet dat U ons sal beskerm van die duiwel,
Dankie dat ons op U hulp kan staatmaak in wat ons moet doen,
Dankie vir Jesus wat ons siektes op Hom geneem het sodat ons ‘n lewe sonder enige siektes kan lewe,
Ons weet dat al hierdie beloftes van U af waar is, maar ons moet dit glo en ons eie maak.
Amen.
