Opn 1:8 AOV “Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.”
Verstaan ons as mense hier op die aarde wat hiérdie woorde van die Drie-énige God beteken?
Ons bestaan draai om die 5 sintuie – dit wat ons kan sien, hoor, voel, ruik en proe – en uit meetbare ruimte wat hoogte, lengte en wydte is en dan ook meetbare tyd.
Verder weet ons van verlede-tyd, van die huidige en van die toekoms, maar ons verstaan nie die ewige, die onmeetbare tyd van God “wat was, wat is en wat kom”.
God is in die geestes wêreld (Joh 4:24) wat buite ons verstand is en waar daar nie tyd is nie.
Waar pas die mens dan in God se skepping in?
In Genesis 1 sien ons God het die aarde en die mens geskep en die mens moet oor die aarde en alles wat daar op is heers.
Hoe het God die mens gemaak?
Psalms 139:14 AFR20 “Ek prys U omdat ek op ‘n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is. Wonderbaarlik is u werke en ek besef dit maar te goed.”
Elke mens is ‘n wonderwerk en verder sê 1Tes 5:23 die mens bestaan uit ‘n liggaam, ‘n siel en ‘n gees:
- Die liggaam, is die deel wat deur die 5 sintuie waargeneem kan word en wat so presies ontwerp is dat geen mens nog ooit dit kon nadoen nie. Die liggaam word ook gesien as tydelik en verganklik. (Aards-pakkie)
- Die siel is in die liggaam wat ons verstand en emosies huisves. Die siel ervaar tyd, maar hunker na ewigheid (Ps 42:2-3 – My siel dors na God, na die lewende God) en gaan saam met die gees vir ewig lewe (2Kor 5:8 – liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon)
- Die gees is wat ons lewe gee (Jak 2:26 – Want soos die liggaam sonder gees dood is) en net God kan die mens lewe gee soos ons sien in
Sag 12:1 AFR20 “….. Dit is die uitspraak van die HERE, Hy wat die hemel oopgespan het en die fondamente van die aarde gelê het, wat die mens se gees in sy binneste gevorm het”
Die mens is die enigste lewende wese op aarde wat oor ‘n gees beskik en kommunikeer deur sy gees met God (Rom 8:16 – Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;).
Niemand op aarde kon nog ooit ‘n mens maak nie, slegs God kan. Al kry die mens dit reg om deur ‘n meganiese samestelling ‘n robot of android te bou wat soos ‘n mens kan funksioneer of ‘n mens deur kloning te skep kan dit nie ‘n mens wees nie want net God kan ‘n gees aan die mens gee om te lewe.
Die geestelike wêreld of geestes-wêreld.
Hier steek die grootste persentasie van die mense vas. Hulle verstaan en glo net wat hulle 5 sintuie hulle toelaat om waar te neem en dit is die fisiese hier op die aarde wat aan tyd gekoppel is.
In die geestelike wêreld bestaan tyd nie.
2Pe 3:8 AOV “Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.”
In die geestes-wêreld waar God is (Joh 4:24 – God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid), sien hy alles van die begin tot in ewigheid, en ons kan dit nie in ons verstand verwerk nie. Ons weet nie waar God begin het en waar ewigheid eindig nie, want ons kan nie buite tyd dink terwyl ons op aarde is nie.
Voor ons geboorte het God al in die kleinste besonderheid geweet wat elkeen van ons in ons lewe hier op aarde gaan doen of nie gaan doen nie en of ons Jesus as verlosser gaan aanvaar. God weet alles.
Wanneer ons Jesus as ons verlosser aanvaar word ons gees weergebore wat dan met God kan kommunikeer.
Ons as weergeborenes, beweeg dan in ‘n nuwe geestes lewe waar ons God kan hoor in ons hart en God se leiding kan volg.
Selfs al verstaan ons as mens hier op aarde nie werklik hoe groot ons God is nie, is een feit seker dat wanneer ons Jesus as ons verlosser aanvaar het, is God ons Vader (1Joh 3:1 – Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word!) wat met liefde beter na ons omsien as ‘n wêreldse vader na sy kinders.
Ons het die volgende belofte om aan vas te hou –
1Pe 5:7 AOV “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.”
Ons kan ook op God se skoot gaan sit en troos by hom vind, want ons is sy kinders en het ‘n verhouding met hom.
Wanneer ons liggame hier op die aarde sterf, gaan ons siel en gees oor na die geestes-wêreld om by God en Jesus te wees vir ewig en dan sal ons ook verstaan en beleef wat ewig is.
Dan sal ons ook beter verstaan hoe groot ons God is na alles aan ons bekend gemaak is.
Sluit af met die volgende verse oor die grootheid van God:
Jes 55:8-9 AOV “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.”
1Kor 13:12 NLV “Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ’n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder wees. Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan.”
1Jo 3:2 AOV “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.”
Gebed
Vader U grootheid is buite ons verstandelike vermoë
Dankie vir U onbeperkte liefde vir ons
Dankie vir Jesus wat vir ons sonde gesterf het
Dankie dat ons U kinders is
Amen
