(K015) Ontdek en lewe jou roeping uit na aftrede

Jy is nou afgetree, jy kan doen wat jy wil, maar na ‘n tyd gaan jy verveeld raak.

Wat is jou nuwe roeping van God vir die laaste deel van jou lewe hier op die aarde?

Gaan jy hierdie roeping soek en doen of gaan jy sit en wag om dood te gaan?

Ek het met ‘n vorige lesing gepraat oor “Ontdek en lewe jou roeping uit” en dit was hoofsaaklik vir jongmense bedoel, maar ook vir ouer persone wat nie regkom nie.

Die Here het egter nou my aandag gevestig op diѐ wat afgetree is en nie meer ‘n lang beroepsloopbaan voor hulle het nie.

Is daar nog iets vir hulle om by te dra tot die wêreld, het hulle nog ‘n roeping?

Almal sien uit na die dag wanneer hulle kan opstaan so laat hulle wil, kan doen wat hulle wil of selfs gaan toer vir maande.

Die probleem is na ‘n tyd begin jy verveeld word want die dag is te lank of jy is heeldag besig maar aan die einde van die dag kan jy nie regtig wys wat jy heeldag gedoen het nie en so gaan dit dag vir dag tot jy doodgaan.

Alles draai net om jouself.

Daar is geen werklike rigting in jou lewe nie en effektief wag jy net om dood te gaan.

Indien jy nie ‘n visie het vir die res van jou lewe en daarmee saam ‘n bestaande roeping of nuwe roeping van God vir jou uitlewe nie, gaan jy verveeld rondsit en wag om dood te gaan.

Paulus waarsku teen ledigheid onder jonger weduwees en dit kan deurgetrek word na alle mense wat ledig is –

1Ti 5:13 ANV  Buitendien leer hulle om hulle tyd te verkwis deur net van die een huis na die ander rond te kuier. Hulle is nie net ledig nie, maar ook bemoeisiek en praatsiek, en hulle praat oor dinge waaroor nie gepraat moet word nie.

Hier in die klein gemeenskap waar ons bly bestaande hoofsaaklik uit afgetrede persone, is hierdie baie duidelik.

Saam met rondkuier en sosiale media word oor alles gekla en vrees onder mekaar aangewakker.

Elkeen het sinnelose kommentaar te lewer op die sosiale media groepe wat gestig is om belangrike inligting aan die inwoners deur te gee met die gevolg dat die belangrike boodskappe verlore raak.

Dit is ook belangrik om kennis te neem vir die waarskuwing uit die gelykenis wat Jesus vertel het van die ryk man wie se grond goeie opbrengs gegee het en besluit het om op te hou werk en sy geld te geniet –  

Luk 12:19-21 ANV Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’ Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’ So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.

Hy het alles wat hy besit, gebruik vir homself en van God vergeet wat hom geseën het met alles wat hy besit.

Wanneer jy aftree beteken dit nie jy hou ook op om God te dien nie.

God verlang liefde van ons en dit is dat ons daadwerklik optree om ander te help –

1Jo 3:18 ANV Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.

Hierdie sluit die opdrag in om die redding wat Jesus vir ons aan die kruis gebring het, uit te dra aan die wat nog nie dit weet of verstaan nie.

Dit help nie om te sê ek lees elke oggend die Bybel, gaan elke Sondag kerk toe en woon elke week selgroepe by nie, die vraag is wat doen jy met dit wat jy lees in die Bybel en by hierdie byeenkomste hoor?

Jak 1:22 ANV Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.

Jy moet uitgaan en doen, nie net sit en luister nie.

Soek jou visie en roeping:

Om uit te vind wat jou nuwe roeping is, vra vir God om vir jou dit bekend te maak.

God sal dit aan jou bekend maak maar jy moet tyd saam met God deurbring en jy moet oop wees om te ontvang.

Dit sal iets wees wat jy geniet om te doen en ander daarmee dien, dit sal nooit net vir jouself wees nie.

Jy kan moontlik met jou vorige roeping aangaan.

Jy kan selfs finansieel geseën word uit dit wat jy doen.

Voorbeelde van wat jy sal kan doen en dit sal ook afhang van jou talente en kundigheid:

  • Raak betrokke by korttermyn Christelike uitreike, baie kerke doen sulke uitreike jaarliks en jy kan ook op die internet na organisasies soek wat dit doen. Hierdie uitreike sal jou perspektief oor baie sake verander en ook help met geestelike groei.
  • Doen evangelisasie (sal in ‘n opvolg lesings meer vertel oor hoe om Jesus uit te dra na ander),
  • Verleen hulp aan ander – vervoer, aankope en herstelwerk om die huis indien jy handig is,
  • Soek en besoek eensames in jou omgewing gereeld en ondersteun hulle met positiewe gesprekke,
  • Vind uit van projekte wat kerke loods en raak betrokke al is jy nie deel van die spesifieke kerk nie,
  • As jy ‘n goeie organiseerder is kyk wat kort in jou omgewing en begin ‘n projek om dit aan te spreek.
  • Beoefen die stokperdjie wat jy altyd wou doen.

Ter afsluiting:

  • Moet nie gaan sit en niks doen na jy afgetree het nie want anders wag jy net om dood te gaan.
  • Jy moet jou liggaam en verstand oefen soos jy dit altyd gedoen het.
  • Vra God om jou roeping vir hierdie nuwe tydperk te wys,
  • Doen wat God wil hê jy moet doen en jy sal dit geniet.
  • Lewe God se liefde uit na ander en dit sal jou selfwaarde gee.
  • Bly positief en jy gaan dit net regkry wanneer jy:
    • Mense vermy wat floreer op die negatiewe.
    • Minder TV kyk oor wêreldse sake.
    • Geestelike kanale op TV of sosiale netwerk, soos YouTube, volg. Daar is min valspredikers daarop en jy sal dit dadelik aanvoel wanneer jy na een luister. Dit beteken ook nie dat wanneer God ‘n prediker seën met baie navolgers en hulle welgesteld is dat hulle valspredikers is nie. Elkeen sal aanklank vind by net sekere predikers, God het ons verskillend gemaak,
    • Beperk sosiale media tot geestelike opbouende boodskappe en spandeer meer tyd met God en Sy woord.

Ek hoop dat dit wat ek hier aan jou oorgedra het vir jou rigting en ‘n doel in die lewe sal gee, wat sal meebring dat jy weer selfwaarde sal kry en positief lewe vir die toekoms.

Gebed:

Dankie Vader vir U liefde,

Dankie dat U altyd daar is om ons te lei,

Dankie dat U net die beste vir ons wil gee,

Dankie dat ons op U kan staatmaak,

Dankie Vader

Amen