(K014) Ontdek en lewe jou roeping uit.

Om te kan lewe moet ons werk, om ‘n gelukkige lewe te kan lei moet ons die regte werk waarvoor ons gemaak is doen.

Is jy in die werk waarvoor God jou ontwerp het?

Hoe kom ons by die regte werk uit?

Weens Adam se val het God ‘n baie duidelike reël gegee –

Gen 3:19 AOV In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.

Inkort, ons moet werk om geld te verdien om te kan lewe.

Watter soort werk het God vir my beplan?

In die wêreld waarin ons op hierdie tydstip lewe is daar ‘n tekort aan werk en gryp die mens enige werk wat beskikbaar is.

Die gevolg is dat baie mense ‘n werk doen wat nie vir hulle bedoel is nie, waarin hulle swak produktiwiteit lewer, ongelukkig is en heel moontlik nie die vermoë of talent het om dit behoorlik kan doen nie al wil hulle. Hulle ploeter net aan om aan die einde van die maand hulle salaris te kry.

God het elkeen van ons gemaak en Hy het elkeen sy eie talente of vermoë gegee om ‘n sekere werk goed te kan doen.

‘n Werk wat jy vir ‘n lang tyd of selfs die res van jou lewe gaan doen. Dit sal meer as ‘n werk wees, dit sal ‘n roeping wees wat jou inspireer, bevredig, wat jy geniet en verder in wil groei.

Wanneer ons hierdie werk doen sal ons gelukkig wees en dit geniet om dit te doen.

Om uit te vind wat jou roeping is, vra vir God om vir jou dit bekend te maak en let ook op na die volgende:

  • Jy sal belangstel in die werk,
  • Jy sal goed en vindingryk wees in die uitvoering daarvan,
  • Jy sal dit deeglik uitvoer.
  • Jy sal graag meer wil leer ivm hierdie werk,
  • Jy sal graag besig wil wees daarmee, nie verskonings soek om iets ander te doen nie,

Efs 5:16-17 ANV Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.

Wanneer jy seker is wat jou roeping is, vind wat is nodig om hierdie werk te doen bv. is jou huidige kennis en opleiding voldoende of benodig jy verdere tersiêre opleiding.

Kry jou minimum kwalifikasies en begin vakatures soek in hierdie werk:

  • Vra God om vir jou die deure oop te maak,
  • Gaan dan uit en soek die pos wat vir jou deur God gereserveer is, dit gaan nie na jou toe aangeloop kom nie,
  • Glo daar is ‘n pos wat vir jou wag, al vat dit dalk ‘n tyd voor jy dit kry.

Ons ontvang die volgende beloftes van God:

1Jo 3:21-22 ANV Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan; en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goedvind.

As jy aan God gehoorsaam is, maw doen wat Hy vir jou gesê het, sal Hy vir jou gee wat jy vra en vir jou die regte pos gee.

Spr 3:6 ANV Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.

Praat met God oor alles wat jy wil doen en Hy sal jou die reg leiding gee.

Een voorbeeld is dat die Heilige Gees sal deur jou gees God se leiding na jou siel stuur waar jy ‘n aanvoeling of gevoel kry om iets te doen en dan open daar deure wat jy moontlik nie eers verwag het nie.

Daar is baie metodes hoe God met ons praat en lei om Sy wil te doen, ons siel (verstand en gedagtes) moet net oop wees daarvoor.

Wanneer jy ‘n werk kry of selfs jou eie besigheid begin, wees tevrede om onder te begin, niemand kan dadelik in ‘n gevorderde vlak begin werk nie, ook nie dadelik baie geld met ‘n besigheid begin verdien nie.

Jy benodig ondervinding wat nie in boeke geleer kan word nie, dit kom net met tyd en deur die werk prakties te doen.

Gee altyd jou beste in jou werk of besigheid en jy sal suksesvol wees en vorder na hoër vlakke waar dit moontlik is.

Dien ander met jou werke en skyn die lig van Jesus aan hulle.

Daar is egter ook ‘n balans wat jy moet handhaaf en jy mag nie al jou tyd aan jou roeping spandeer nie, daar moet tyd wees vir God, jou familie, rus en ontspanning. Dit is hoe God ons ontwerp het.

Dit kan gebeur dat daar met tyd nuwe deure vir jou kan oopgaan, om na ‘n ander werkgewer te verskuif of selfs ‘n nuwe roeping te begin, maar steeds moet jy seker wees dit kom van God af voor jy enige veranderinge maak.

Hoe hanteer jy die geld wat jy deur jou roeping verdien?

Jy ontvang geld vir jou roeping wat jy uitleef, maar wat is die reëls met die hantering van hierdie geld?

God het vir jou die pad oopgemaak om jou roeping te kan uitvoer en geld te verdien om van te lewe.

Daarom is dit net reg dat jy eerste ‘n deel aan God teruggee uit dankbaarheid.

Spr 3:9-10 ANV  Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn.

Saam met jou bewys van dankbaarheid aan God, ontvang jy ook die belofte dat God jou oorvloedig sal seën.

Die Skrif sê ook verder –

2Ko 9:7 ANV Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.

Daar is nie vaste reëls oor hoeveel jy aan God moet gee nie, maar die Skrif sê ook –

2Ko 9:6 ANV Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.

Dit beteken ook nie dat jy alles wat jy verdien aan God moet teruggee nie, daar is ‘n balans en vandaar die 10% waarvan die Skrif praat.

Die 90% wat jy oor het moet jy oordeelkundig spandeer –

1Jo 2:16-17 AFR20 “want alles in die wêreld – dit wat die liggaam begeer, en dit wat die oë begeer, arrogante spoggery oor besittings – is nie uit die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld en sy begeertes gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly tot in ewigheid.”

Beplan jou spandering en dit sluit in dat jy met ‘n deel van jou inkomste die lewe kan geniet deur dit aan te wend in dinge wat jy graag wil doen of besit.

Opsomming:

  • Volg God se leiding om by jou roeping uit te kom
  • Wanneer jy jou roeping uitleef sal jy ‘n gelukkige en vol lewe geniet
  • Gee eerste uit dankbaarheid aan God terug uit dit wat jy verdien
  • Spandeer die res met wysheid sonder om suinig te wees.

Gebed:

Dankie Vader vir U liefde,

Dankie dat U vir elkeen van ons ‘n roeping het,

Dankie dat U vir elkeen van ons in oorvloed wil versorg,

Dankie vir U leiding om ons roeping te vind,

Dankie vir wysheid om dit wat U vir ons gee reg te spandeer,

Amen