(K013) Die Gelowige en die wêreld – Rom 12:9-19

Hoe hanteer jy alles wat jy op sosiale media en die TV sien?

Hoe moet jy deelneem aan gesprekke persoon tot persoon en op sosiale media?

Hoe behou jy jou vrede met alles wat gesê word?

  • Tot ongeveer 1970 het ons gelewe in ‘n wêreld waar jou kontak met ander mense beperk was tot jou onmiddellike omgewing en dit wat jy oor die radio gehoor het. Die invloed op elkeen was klein en mense het meestal in vrede en liefde met mekaar gelewe.
  • Daarna het die TV gekom, toe internet en nou sosiale media. Die invloed van buite jou lewensomgewing het enorme geword, dit sluit die vryheid in om jou siening met die wêreld te deel dmv WhatsApp, X, FaceBook, ens.
  • Jy word gebombardeer deur elkeen se siening oor ‘n saak waar hy glo net hy is reg en ander is verkeerd en ipv om die saak te stel en stil te bly, gaan hy net aan en aan en val almal aan met wie hy nie saamstem nie.
  • Dan saam met hierdie is daar ook nog hulle wat verkeerde inligting en blatante valshede versprei.

Waar bring dit ons as gelowiges en wat staan ons te doen?

Rom 12:9-19 AFR20

Julle liefde moet ongeveins wees. Verafsku die kwaad; hou vas aan die goeie.

Die gelowige moet opreg wees in sy lewe en die kwaad in die wêreld teenstaan en hom onttrek daarvan. Verder vasstaan vir die waarheid en die goeie,

Julle moet mekaar liefhê met innige broederliefde. Gaan mekaar voor in eerbetoning. Moenie traag wees in julle toewyding nie; bly geesdriftig; hou vol om die Here te dien.

Die gelowiges moet mekaar ondersteun, respekteer en saam aanhou om die Here te dien deur die leiding van die Heilige Gees,

Verbly julle in die hoop; wees standvastig wanneer julle swaarkry; volhard in die gebed.

Staan in die hoop wat ons ontvang het van redding uit sonde en verlossing van die wêreld. Moenie dat enige aanvalle deur die duiwel jou ontmoedig nie en bid aanmekaar vir groei in jou geloof in die Here,

Betoon meelewing met die behoeftes van die heiliges; lê julle toe op gasvryheid.

Gee om vir die ander gelowiges om jou en ondersteun hulle,

Seën julle vervolgers; ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.

Gelowiges mag net ander seën en hulle nie vervolg nie,

Wees bly saam met diegene wat bly is; treur saam met diegene wat treur.

Die gelowige moet saam almal bly wees in hulle vreugde en ook saam met hulle treur wanneer hulle treur,

Wees eensgesind onder mekaar; moenie hoogmoedig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie wys wees in julle eie oë nie.

Werk saam met die ander in nederigheid en moet nie jouself meerwaardig hou nie,

Moet niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar rig julle gedagtes op dit wat vir alle mense goed is. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

Wees versigtig om nie ‘n ander te wil terug te kry oor wat hy gedoen het nie, doen wat goed is vir almal en lewe in vrede met hulle,

Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf: “Aan My kom die wraak toe; Ek sal vergeld,” sê die Here.

Dit is nie die gelowige se plek om wraak te neem op die een wat hom te nagekom het nie, laat die wraak aan God oor.

Opsommend ter afsluiting:

  1. Lewe opreg, verdedig die waarheid en verwerp die leuens van die duiwel wat hy opdis.
  2. Deur leiding van die Heilige Gees moet gelowiges in ‘n noue verband van versorging op alle vlakke met mekaar lewe en saam die Here dien.
  3. Ons as gelowiges weet ons deur ons weergeboorte is ons gered van ons sonde en hierdie wêreld. Ons moet die duiwel teenstaan en ons geloof in die Here deurentyd versterk.
  4. Ondersteun en respekteer ook die ongelowiges en wen hulle so vir Jesus.
  5. Wanneer dit kom by gesprekke op sosiale media en self ook in direkte kontak met ander:
  6. Vermy twis met ander en behou jou vrede –  

Spr 20:3 AFR20 Dit is ‘n eer vir ‘n mens om van ‘n woordewisseling weg te bly, maar elke sot laat ‘n stryery losbreek.

  • Moenie in die strik beland en ander toelaat om jou aan te val nie, draai om en loop weg –

Spr 27:3 AFR20 ‘n Klip is swaar en sand het gewig, maar teistering deur ‘n sot is swaarder as albei.

  • Moenie met ander in argumente betrokke raak nie, jy gaan jouself verlaag na hulle vlak en hulle gaan in elk geval nie na jou luister nie –

Spr 26:4 AFR20 “Moenie ‘n dwaas antwoord in ooreenstemming met sy sotheid nie, anders word jy ook dieselfde as hy.

  • Luister ook na Paulus se raad aan Timoteus –

2 Tim 2:16-17 NLV Vermy goddelose en dwase gepraat wat net tot verdere goddeloosheid lei. Hierdie soort praatjies versprei soos kanker. ……

Ek hoop hierdie sal jou help om die wêreld elke dag te hanteer en sodoende meer vrede te ondervind.

Kom ons bid:

  • Dankie Vader vir U liefde,
  • Dankie dat ons altyd op U kan staatmaak vir leiding,
  • Dankie dat ons U kinders kan ondersteun waar en wanneer nodig,
  • Dankie dat ons U kan grootmaak in die wêreld deur ons optrede,
  • Vader lei ons deur die Heilige Gees om altyd reg op te tree,
  • Lei ons ook deur die Heilige Gees om te sien wanneer die duiwel ons wil intrek in argumente wat nie tot opbou van U en Jesus se offer, vir almal, is nie,
  • Ons vra dit in die naam van Jesus Christus
  • Amen