Wat is die verskil tussen God se liefde, die liefde wat God van ons verlang en die wêreld se liefde?
Daar word baie in die Woord verwys na liefde, maar wat is hierdie liefde?
In ons lewe in vandag se lewe hier in die wêreld beteken liefde ‘n gevoel vir ‘n ander persoon.
Is dit dieselfde tipe liefde wat in die Woord na verwys word?
Kom ons gaan kyk na wat sê die Woord vir ons.
Ons begin by die liefde van God –
1 Joh 4:9 NLV Op hierdie manier het God sy volmaakte liefde aan ons bekendgemaak toe Hy sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur het sodat ons deur Hom die lewe kan ontvang.
God het sy enigste Seun vir ons geoffer sodat ons gered kan word.
God se liefde is ‘n aksie, om te gee sonder om iets daarvoor terug te kry.
1 Joh 4:10 NLV Dít is volmaakte liefde: nie dat ons vir God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun as versoeningsoffer gestuur het om ons sondes weg te neem.
God se liefde vir elkeen op aarde verlede, huidig en toekomstig is die volmaakte liefde en Hy het sy Seun vir ons geoffer om ons vry te maak van die sonde omdat hy ons lief het.
1 Kor 13 kan gesien word as ‘n definisie van liefde, gaan lees dit.
Wat verwag God van ons?
Ons moet Hom eerste liefhê –
Mat 22:37 NLV “Jesus se antwoord was: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’”
Hoe moet ons God liefhê?
1 Joh 5:3 NLV “Die liefde vir God bestaan daaruit dat ons sy opdragte gehoorsaam, en sy opdragte is nie moeilik nie,”
Liefde vir God is ‘n aksie en nie ‘n gevoel nie.
Liefde vir God is om sy opdragte te gehoorsaam.
Wat is God se opdragte?
Dit is die tweede deel, ons moet ons naaste liefhê soos ons self –
Mat 22:39 NLV “Die tweede, ewe belangrike opdrag is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’”
Hoe lief moet ons, ons naaste hê?
1 Joh 4:10-11 NLV “Dít is volmaakte liefde: nie dat ons vir God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun as versoeningsoffer gestuur het om ons sondes weg te neem. Geliefdes, as God ons dan só tot die uiterste toe liefgehad het, moet ons ook mekaar tot die uiterste toe liefhê.”
Soos God ons lief het tot die uiterste.
Weereens hierdie liefde is nie ‘n gevoel nie maar ‘n opoffering – ‘n aksie wat ons neem.
Heb 6:10 NLV “God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet hoe hard julle vir Hom gewerk het nie: hoe julle julle liefde vir Hom betuig het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en dit nog steeds doen nie.”
God se opdrag is om jou naaste te dien, dit is die liefde waarvan die Woord praat.
Jesus het die voorbeeld gestel toe Hy ‘n minderwaardige werk gedoen het om sy dissipels se voete te was.
Dit gaan nie oor jou nie, dit gaan oor wat jy vir ‘n ander doen wanneer dit nodig is.
Hierdie dien is van praktiese aksies soos om te help met iets waarmee jou naaste sukkel of nie self kan doen nie tot emosionele ondersteuning soos om te luister wanneer iemand deur ‘n laagte punt gaan en ‘n oor nodig het om mee te praat en gevoelens uit te druk.
God waarsku ons ook teen die liefde van die wêreld –
1 Joh 2:15 NLV “Hou op om die wêreld en die dinge van die wêreld lief te hê. As iemand die wêreld liefhet, is hy beslis nie ook lief vir die Vader nie.”
Ja daar is nie-gelowiges wat omgee vir ander en ander dien, maar die wêreld se liefde is self-gesentreerd en elkeen se lewe draai net om hom- of haarself.
Om mee af te sluit –
- Deur ‘n noue verhouding met God te hê sal jy weet wat God se wil vir jou is.
- Dien God deur sy wil vir jou uit te voer en bewys so jou liefde vir Hom.
- Deur God se wil uit te voer sal jy jou liefde aan jou naaste ook bewys.
- Moenie na die wêreld se liefde kyk nie, kyk na God se liefde.
Gebed –
Dankie Vader vir U groot liefde aan ons, dat U Jesus vir ons geoffer het vir ons sonde.
Heilige Gees wys ons waar ons God se liefde moet bewys aan die mense om ons.
Ons vrae dit in Jesus se naam.
Amen
