Hierdie gedeelte is in opvolg van ‘n vorige gedeelte wat ek behandel het onder die opskrif ‘Beskerm jou inkomste’ en gaan oor hoe om onregverdige optrede teenoor jou te hanteer in jou werksplek.
1 PETRUS 2:18-21 NLV “Huiswerkers, julle moet die gesag van julle werkgewers volledig aanvaar. Dóén wat hulle vir julle sê – of hulle nou goedhartig en vriendelik is, of onredelik. Dit is immers genade as jy, omdat jy in gedagte hou wat God wil hê, onverdiende houe vat, al maak dit jou seer. Daar is natuurlik geen verdienste daarin as julle die houe vat vir ’n oortreding nie. Om egter die houe te vat wanneer julle goeddoen, dít is iets besonders voor God. Hierdie soort swaarkry maak juis deel uit van dit waartoe God julle geroep het. Christus, wat vir julle gely het, is julle voorbeeld. Volg in sý spore.”
Uit hierdie gedeelte leer ons –
- Aanvaar jou werkgewer / toesighouer se gesag en moet nie rebelleer of agteraf skinder oor hom of haar nie.
- Al word jy onregverdig behandel deur jou werkgewer of medewerkers, doen jou werk waarvoor jy ‘n salaris ontvang tot die beste van jou vermoë. Dit is wat God van jou verlang.
- Indien jy iets verkeerd gedoen het, vat jou straf. Binne hierdie wêreld wat ons lewe aanvaar niemand skuld nie of daar is gewoonlik ‘n lang lys van redes hoekom jy dit gedoen het as verskoning.
- Wanneer jy jou werk doen en jy word onregverdig aangeval, hanteer dit soos Jesus dit sou hanteer maw. vergewe, vergeet en gaan aan met jou werk.
- Onthou Jesus het onregverdig vir ons gely, wat is ons beter om nie ook lyding te verduur wanneer dit oor ons pad kom nie.
Wanneer jy moedeloos is en nie weet hoe om sake verder te hanteer nie, maak jou oë toe en praat met God vir leiding en troos. Jy sal verbaas wees hoe jy daarna gaan voel.
Jou optrede gaan ook nie ongesiens verby nie en hulle wat jou onregverdig behandel sien Christus in jou. Al praat hulle met smaad oor jou, binne in hulle het hulle jou optrede waargeneem en bou jy respek op by hulle, al ontken hulle dit.
Die wat onregverdig optree en mag misbruik, is diep binne hulle onseker van hulle self, ook ongelukkig in hulle lewe en probeer dit in hulle optrede en woorde wegsteek.
Jou optrede kan bydrae dat hulle tot Christus draai en gered word om te kan hê wat jy het.
Gebed
Dankie Vader vir U liefde en geduld met ons.
Dankie Vader dat ons enige tyd na U toe kan kom, in vreugde en in teenspoed.
Dankie dat ons Jesus as voorbeeld het oor hoe ons moet optree in hierdie wêreld.
Laat ons altyd eers na U kyk vir leiding voor ons reageer of optree.
Ons vra hierdie in die naam van Jesus.
Amen
