Hoe is jou lewe tans? Is jy bedruk en depressief of is jy gelukkig en lewe ‘n vrolike lewe? Leef jy in donkerte met alles wat gebeur in die wêreld om jou of lewe jy in die lig van Jesus? Kyk wat sê die Woord van God
God het ons ‘n eie wil gegee en gaan ons nie beskerm wanneer ons van Hom af wegdwaal nie. Ons besluite dra gevolge waarvoor ons nie God verantwoordelik kan hou nie
Spreuke 19:3 NLV “’n Mens se eie dwaasheid ontwrig jou lewe, dan verkwalik jy nog die Here daarvoor.”
Wat hoor jy as jy na hierdie vers luister –
“Ek het ‘n fout gemaak maar dit is nie my skuld nie, dit is die Here se skuld en nou ontwrig Hy ook nog my lewe”.
“Dit is nie regverdig dat my lewe ontwrig word deur wat ek gedoen het nie”.
Soos dit vandag in die wêreld gaan –
“Dit is altyd iemand anders se skuld nooit die een wat die fout gemaak het nie”.
- God laat ons nie verkeerde dinge doen nie –
Jak 1:13-14 ANV Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep.
Nee dit is my eie vleeslike sondige natuur wat my op loop neem, my weergebore gees is sondeloos maar my siel en vlees kort nog baie werk.
- God straf my nie vir verkeerde dinge wat ek doen nie.
Jesus is ons voorbeeld, Hy sê vir ons in
Joh 5:19 AOV Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so.
En as ons kyk wat Jesus gedoen het, Hy was net lief vir die mense en het almal gesond gemaak, Hy het nie gesê jou sonde is te groot om jou gesond te maak nie of Hy ook nie die Fariseërs en Skrifgeleerdes siekte of ongeluk opgelê omdat hulle nie wou luister nie.
- God het almal lief
Net soos ‘n ma haar kind liefhet en hom of haar die beste wil gee, netso het God ons elkeen nog meer lief ongeag wie ons is en wat ons gedoen het. (1 Joh 4:8-10)
- God beheer nie elkeen se optrede nie
God het ons ‘n eie wil gegee om self te besluit wat ons wil doen, ons is nie marionette in God se hand nie.
Net soos ‘n ma wat niks kan doen wanneer ‘n kind ‘n verkeerde koers inslaan nie, is dit ook die geval met God, Hy keer ons ook nie wanneer ons van Hom af wegdwaal nie.
- God straf ons nie wanneer ons die verkeerde pad inslaan nie
God het klaar ons sondes, verlede, huidig en toekomstig vergewe deur Jesus
Hebreërs 10:10 & 14 AFR20 (10) Volgens sy wil is ons heilig gemaak deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, eens en vir altyd. (14) Want deur een offer het Hy hulle wat geheilig word, vir altyd vervolmaak.”
Weer ons weergebore gees is sondeloos en heilig, maar ons siel en liggaam kort nog werk en dit sal so wees tot ons liggaam hier op aarde sterf.
God wys ons wel tereg, nie met straf van siekte of ander probleme nie, maar deur Sy Woord
2Tim 3:16-17 ANV Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.
- Wanneer ons die verkeerde pad vat, verloor ons God se seën en beskerming
Wanneer jy jou eie begeertes volg wat nie van God is nie, kan God dit nie seën waarmee jy besig is nie en ook nie beskerm teen die gevolge daarvan nie.
Jak 1:14-15 ANV Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.
Ons beweeg weg van God af en die duiwel gebruik die kans om ons aan te val (Joh 10:10)
Om af te sluit elke besluit wat jy neem het ‘n nagevolg en as dit nie in ooreenstemming met God se wil is nie, kan jy nie vir God verkwalik as jy probleme optel nie.
Gebed
- Dankie Vader dat ons weet U ons nie weggooi nie, maar dat dit onsself is wat skeiding tussen U en ons bring wanneer ons van U wegdwaal.
- Dankie dat ons soos dit in 1 Joh 1:9 staan, na U kan terugkom wanneer ons bely wat ons verkeerd gedoen het en U ons sal vergewe.
- Dankie dat U Gees ons lei en dat ons net moet luister en doen wat U sê.
- Dankie Vader vir U onbeperkte liefde.
Amen
