(A003) Doop met Heilige Gees deur Jesus

Ek gaan nou aan met die Doop met die Heilige Gees soos in die vorige video, ‘Die Verskillende Dope’, belowe.

Wanneer ons glo dat Jesus vir ons sonde as mens hier op aarde gesterf het en deur God weer uit die dood opgewek is, word ons gees weergebore en geseël deur die Heilige Gees (Ef 1:13) en die Heilige Gees kom bly in ons saam met ons gees.

Hierdie word bevestig in –

Joh 14:16-17 En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

God het die Heilige Gees gestuur om by en in ons, as weergeborene, te wees.

Met ons nuwe gees kry ons toegang tot die geestes wêreld, maar die ander wat nie weergebore is nie kan nie die Heilige Gees sien en verstaan nie omdat hulle nie die geestelike wêreld kan sien of verstaan nie.

Jesus verduidelik verder wat die doel is vir die Heilige Gees in ons te kom bly –

Joh 14:25-26 Dit het Ek tot julle gespreek terwyl Ek by julle bly; maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

Die doel is dat die Heilige Gees ons leer wat God se wil is.

Wanneer ons weergebore word ontvang ons die vrug van die Heilige Gees –

Gal 5:22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Hoe vorder elkeen van ons met hierdie lys?

Paulus gee die oplossing om in hierdie lys te groei –

Gal 5:24-25 Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.

Wanneer ons lewe met die Heilige Gees in ons, kan ons ook deur die Heilige Gees optree.

Hoe kry ons dit reg want ons siel – verstand en wil – beheer ons optrede?

Die Heilige Gees is in ons en moet ‘n koppeling met ons siel kry om ons te kan lei en leer wat ons moet weet. (Joh 14:26 en 1 Kor 2:4 & 10)

Hoe kry ons hierdie koppeling tussen die Heilige Gees wat saam met ons gees in ons is en ons siel?

Deur die doop met die Heilige Gees deur Jesus Christus.

Bewyse uit die Woord van God dat die Doop met die Heilige Gees bestaan en nie outomaties deel is van die waterdoop is nie, maar die twee dope kan saam plaasvind:

  • Die volgende gedeelte gaan oor die evangelie wat Filippus in Samaria verkondig het –

Hnd 8:12, 14-17 Maar toe hulle Filippus geglo het, wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue. 14 En toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaría die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur. Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus. Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

Hier is dit duidelik dat hulle eerste met water gedoop is en later met die Heilige Gees.

  • Die volgende gedeelte handel oor die groep gelowiges wat Paulus in Efese raak geloop het en net met die doop van Johannes die Doper gedoop was en niks van die Heilige Gees geweet het nie –

Hnd 19:5-6 En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.

Hier is dit duidelik dat hulle eers in water gedoop is en daarna het Paulus hulle hande opgelê en hulle is met die Heilige Gees gedoop.

Die uitstorting of doop van die Heilige Gees was nie net vir ‘n seker groep in die Nuwe Testamentiese Kerk nie maar vir almal en dit sluit ons nog steeds vandag in.

Hoe word jy met die Heilige Gees gedoop?

Luk 11:13 As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?

Vra God deur gebed vir vulling van die Heilige Gees

Hnd 8:17 Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

Hnd 19:6 En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.

Kry ‘n geestelike leier om hande op jou te lê.

Ek het ontdek na ek by die Bybel Kollege uitgekom het en die doop van die Heilige Gees ontvang het, dat daar dinge in my lewe verander het. Byvoorbeeld ek het die Bybel heeltemal anders gelees en deur die Heilige Gees ek skrifgedeeltes  verstaan en dit was nie meer net ‘n boek wat ek gelees het nie. Joh 14:26 die Heilige Gees het my geleer deur die Woord van God.

My prentjie wat ek vorm oor om met die Heilige Gees gedoop te word is dat met die doop of vulling ontstaan daar ‘n koppeling tussen die Heilige Gees met jou siel en begin daar ‘n uitvloei deur jou siel van die Heilige Gees na jou verstand en liggaam.

Wanneer ons met die Heilige Gees gevul of gedoop word ontvang ons een of meer gawes van die Heilige Gees –

1Ko 12:8-11 Want aan die een word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee, en aan die ander ‘n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; aan ‘n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; aan ‘n ander werkinge van kragte, aan ‘n ander profesie, aan ‘n ander onderskeiding van die geeste, aan ‘n ander allerhande tale, aan ‘n ander uitleg van tale. Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.

Nog gawes word ook in Rom 12:6-8 gegee.

Die doel van hierdie gawes is om –

  1. Mede gelowiges te ondersteun,
  2. Die kerk van Jesus te help opbou en
  3. Om ongelowiges die krag van God te wys en te laat belewe sodat hulle Jesus as hulle verlosser kan ontdek.

Jesus is ons voorbeeld –

Hnd 10:38 met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was.

Jesus was vervul met die Heilige Gees en het al die gawes gebruik om mense te help en te red.

Jesus sê die volgende aan ons –

Mar 16:17-18 En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.

Ons kan alles wat Jesus gedoen het ook doen met die Heilige Gees in ons.

Joh 14:12-13 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan. En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.

Ons kan selfs meer doen as wat Jesus hier op aarde gedoen het sodat God verheerlik kan word.

Ons het dieselfde Gees van God in ons wat Jesus uit die dood opgewek het.

Rom 8:11 En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

Laat jou doop in die Heilige Gees en soek watter gawes jy van die Heilige Gees ontvang het en gebruik dit tot eer van God.