Daar is drie verskillende dope wat ons in die Woord van God sien.
Eerste een waarna ons kyk is die doop deur die Heilige Gees.
Wanneer jy Jesus as jou verlosser aanvaar, word jy in die dood en opstanding van Jesus gedoop deur die Heilige Gees.
Ons sien dit in –
1Kor 12:13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.
“Deur een Gees” – die Heilige Gees – “gedoop tot een liggaam” – Liggaam van Christus
En Rom 6:4 maak dit verder duidelik –
Rom 6:4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.
Wanneer ons Jesus as ons verlosser aanvaar, sterf ons saam met Jesus en word saam met “Hom begrawe” vrygemaak van ons sonde. Dan in opvolg daarop, soos Jesus uit die dood opgestaan het, staan ons weer op in ‘n nuwe lewe met ‘n weergebore gees, verseël deur die Heilige Gees en vry van sonde.
Die waterdoop
Die waterdoop is die volgende stap na jy weergebore is en dit is ‘n aksie van jou kant af, waar jy in die openbaar verklaar dat jy glo dat Jesus vir jou sonde gesterf het en weer deur God uit die dood opgewek is. (Rom 10:9-10)
Ons sien in die Evangelies en Handelinge van waterdoop, dit begin met Johannes die Doper wat die Jode begin doop het saam met die belydenis van sonde.
Jesus het Homself laat doop deur Johannes en daarna het Hy die Heilige Gees ontvang.
Jesus gee die volgende opdrag –
Mat 28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
Mar 16:15-16 En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.
Petrus antwoord die skare die volgende in –
Hnd 2:38 En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
Die vereiste om met water gedoop te kan word is dus –
Jy moet jou bekeer van jou sonde. Bekering is om te verstaan dat jy sondig is, te weet dat Jesus jou sonde weggeneem het en dan die aksie neem om te glo en te bely dat Jesus vir jou sonde gesterf het en weer lewendig gemaak is deur God, maw weergebore te word.
Jy kan nie gered word deur met water gedoop te word nie. Jy kan slegs gered word deur weergebore te word wanneer jy Jesus as jou verlosser aanvaar.
Die Griekse woord vir doop wat in die Bybel gebruik word is ‘Baptizõ’ en beteken om heeltemal te bedek word, maw om heeltemal onder water te gaan of met water toegemaak te word.
Die simboliek is, dat wanneer jy totaal onder die water gaan, beteken dit dat jy gesterf het saam met Jesus en wanneer jy opkom uit die water staan jy saam met Jesus op uit die dood.
Enige weergebore gelowige kan ‘n nuut weergebore kind van God doop en nie net pastore of predikante nie.
Ek kom uit ‘n kerkverband wat glo dat babas gedoop moet word, deur besprinkeling met water, sodat hulle gered sal wees. Daar is ‘n baie lang filosofiese verduideliking om dit te regverdig, maar dit is nie korrek nie.
Babas kan egter nie weergebore word nie – hulle het nie die vermoë tot bekering nie, om te glo en te bely dat Jesus vir hulle sonde gesterf het en deur God uit die dood opgewek is nie. Daarom is dit verkeerd om babas te doop.
God het ook nie opdrag in Sy Woord gegee dat babas gedoop moet word nie en ons glo God is regverdig en goed en sal nie ‘n kind laat verlore gaan tot die kind ‘n kans gehad het om weergebore te word nie (Mat19:14; 2 Petrus 3:9) en sou ‘n kind sterf glo ons hy/sy is gered en by Jesus.
Die doop deur Christus – doop met die Heilige Gees
Johannes die Doper verklaar die volgende in –
Joh 1:33 En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.
Mat 3:11 Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.
In die volgende gedeelte gaan ek in meer diepte in oor die Doop van die Heilige Gees.
