22 – 28 September 2014

Die pastore het nuwe kantore en het gordyne nodig. Ons het Maandag en Dinsdag probeer om in die dorp te kom om materiaal vir die gordyne te gaan koop, maar telkens was daar ’n probleem wat uitgesorteer moes word. Ons het eindelik Woensdag dit gedoen gekry. Nou is dit sny, maak en gordynreëlings op  sit.
Dis al van laas week af dat die militêre-vliegtuie oefen, eers het ons gedink dis opleiding, toe besef ons dis al om die stadion en gedink dit het te doen met die verkiesing. Ons was verkeerd dit was Donderdag Revolutionary Day. Sommige kinders het vir ’n paar weke gereeld by die stadion gaan oefen en nou weet ons, dat hulle ook vir die dag geoefen het. Amptelik was die begin 14:00, maar vliegtuie het al vroeër verby gevlieg. Dit was verskillende soorte vliegtuie wat verby vlugte gedoen het en almal se ore beproef het. Soldate en kinders het in die stadion marseer.  Die aand was daar ook vuurwerke.
Die kinders is moeg van leer en verdwyn na middag-ete en ons sien hulle net as ons hulle loop en soek om ’n program in die middae te doen. Alta het een dag met een gesit wat nie goed vaar op skool nie, maar ook nie dom is nie en agtergekom hy is te bang om die somme te doen omdat hy dit nie so vinnig soos die ander kan doen nie en nie omdat hy nie by die regte antwoord kan uit kom nie. Dis of hy geen vertroue in sy vermoëns het nie. Die kinders het individuële aandag so nodig.
Die dogtertjie se operasie het goed verloop, daar was na 10 weke 70% her groei en hulle het reeds die datum geboek vir die volgende operasie oor 2 maande. Bid asseblief vir finansies om die operasies te kan betaal en vir haar sodat sy volkome genees

Bid asseblief ook vir finansies en geneesing vir die man wat gebrand het, dit vorder, maar dis ’n lang proses en hy is aie ongemaklik. Die ergste wonde is aan sy arms en op sy rug, dus sy slaap is nie gemaklik nie. Is daar iewers ’n verpleegster wat ’n tydjie kan kom help.

15-21 September 2014

Ons het heerlik gerus en net iets gedoen as ons regtig nie anders kon nie of dit wou doen, praat van sleg wees! Ons het ook besef dat ons dit regtig nodig gehad het.
Dit is egter ook lekker om terug te wees en die kinders het sommer grootter geword. Ons het ook ’n nuwe seuntjie by gekry terwyl ons weg was, hy is baie klein vir sy 8 jaar, meer soos ‘n 5-6 jr. Die mamma het hom en sy sussie by die hek by die sekuriteitswagte gelos en gesê sy gaan vir hulle koekies koop. Ons het vandag die sussie wat jonger is, in die kerk gesien, sy is die mooiste klein dogterjie, met pragtige groot ogies, ’n klein moedertjie en vol liefde vir haar boetie.
Dit was besig van die oomblik dat ons hier gekom het, en die hele week. Dis opvang wat agter wee gebly het terwyl ons weg is en uitsorteer wat alles gedoen is in die tyd dat ons weg was. Die kinders se klere het aandag nodig, wat te klein is moet vervang word, asook die goed wat stukkend is het aandag nodig. Alta help ook vir die naweek uit by die babas.
Voor ons weg is het ons die seuns belowe dat ons almal wat verjaar, 4 van hulle, se verjaarsdae sal vier en een groot partytjie sal hou. Hulle was baie opgewonde. Hulle het hoender en pasta bestel en ons het hoenderboudjies teen ’n goeie prys gekry. Dit met koolslaai,’n koek en nog wit paashase en vrugtesap het die tafel laat kreun. Die hoender, het Alta 9:30 in die oond gesit, maar die stoof wou nie die mas opkom nie en later het sy maar die mikrogolfoond ingespan om dit gaar te  kry. Hulle het elkeen ’n tweede en party selfs ’n derde porsie kom haal. Dit nadat hulle ’n uur en ’n half vroeër, middagete gehad het.
Gebedsversoeke:
Bid asseblief dat die nuwe seuntjie goed sal inskakel en dat sy gesondheid spoedig sal verbeter. Hy het ’n neus en keel infeksie wat ook sy oë affekteer en ook ’n uitslag, om sy neus en mond en op sy arms. Ook dat hul ma sal terug kom en ten minste vir hulle sal kom kuier.
’n Dogter van so 8jaar sukkel met allergie en asma, nou het sy polipe ( hoop dis reg gespel) wat op haar stembande groei en sedert die vorige operasie is dit so ongeveer 8 weke en sy moet weer geopereer word, haar stem is alreeds weer geaffekteer en dit kos elke keer 10000 dollar. Bid vir goeie verloop van operasie, genesing en finansies.

Hier was ook ’n ongeluk, wat daartoe gelei het dat een van die werkers met petrol gebrand het. Die genesing het aanvanklik goed gevorder , maar daar is ’n infeksie op een plek wat  nie regkom nie en hy moes terug hospitaal toe. Bid ook vir finansies in die geval, want elke 4 dae wat die verbande vervang moet word kos dit 500 dollar. Dit is geweldig pynlik en dit neem 3 ure om dit te doen. 

11 – 15 Augustus 2014

Die week is besig en daar is baie dinge wat gedoen moet word, ons gaan Vrydag vir ’n maand huistoe en sien uit na die rus. Ons moet egter ons dinge so organiseer dat ons ander vir ’n maand kan los met ons verantwoordelikhede. Die paartjie van Bella Vista gaan nog ’n maand aanbly (in ons huis) en vir ons na ons camarata omsien. Die kinders speel asof dit uit die mode gaan, maar bly weg van die huis en camarata, ek dink hulle is bang hulle moet een of ander iets leer. Ons sien hulle net as hulle snoepgoed soek of ’n pleister. Die groottes kom net in die aande vir hulle brood. Ons lig hulle in dat ons nie seker is of hulle steeds brood in die aande gaan kry terwyl ons weg is nie en die een se kommentaar was hulle sal bid vir brood. Die groot seuns vra al vir ongeveer ’n maand vir kortbroeke en skoene en ons het nie om te gee nie. Dinsdag kry ons toe ’n donasie en daar is kortbroeke en skoene, hulle sien dit voordat dit uitgesorteer is en kan nie wag nie. Toe ons sê dis reg hulle kan kom, is al 7 soos blits daar. Hulle is almal met kouse, ’n kortbroek, ’n T-hemp en  ’n paar skoene daar weg. Al wat hul nou nog begeer is flip-flops. Ons vertrou dat dit ook binne kort sal opdaag en ook dat ons alles goed beplan en agterlaat vir die wat moet instaan.

4 – 10 Augustus 2014

Verlede week is ’n pastor oorlede en Dinsdagaand een van die siek kinders. Die twee sterftes raak veral die personeel in veskillende areas erg.  Die dogter was baie siek en daar is baie kere gebid vir beterskap. Daar was tye wat dit beter gegaan het, maar haar liggaam kon net nie al die infeksies hanteer nie. Sy het nog 2 sussies wat ook hier in die sentrum is. Bid assebief vir hulle en die wat baie met haar te doen gehad het. Hulle vind dit moeilik met die leemte wat nou daar is.
Die paartjie van Bella Vista wat by ons kom eet het, gaan in die huis kom bly vir die tyd wat ons weg is en ook na die camarata om sien in die tyd.
Alta het die week waar moontlik die Life School lesings probeer bywoon, dit is interresant om dinge wat mens weet op ’n ander manier te hoor. Die sprekers het dit vanuit ‘n ander hoek benader as waaraan ons gewoond is. Die week het oor ‘The Fathers Heart’ gegaan.
Woensdagaand met home group het een van die spekers by die Life School met ons gepraat. Sy Spiritual Gift is om engele te sien. Dit was baie interresant wat hy alles vertel het. Hy vertel toe hy dit die eerste keer beleef het was hy baie benoud en het nie geweet wat aangaan nie, en ’n paar dae later het hy gaan stap en toe sien hy engele in die veld dans. Hy sê hy het gedink hy raak koekoes en vra toe vir die Here of hy dit nou altyd gaan sien en toe kom die antwoord ‘Ja’. Hy wou glad nie daaroor praat nie en een van sy vriende kom toe agter wat aangaan en vra vir hom hoekom hy niks sê nie. Hy sê hy was baie banger vir die engele as vir die vriend. Sy vriend het  hom toe in kontak gebring met iemand anders wat ook dit beleef.
Die skole het Vrydag gesluit en die kinders is alreeds rusteloos. Hulle is ook Sondag deur besoeker geseën, wat hulle trakeer het op pizzas by die swembad.

28Julie – 3 Augustus 2014

Dinsdagaand nooi ons ’n paartjie wat besoekers is. Wel eintlik is hulle sendelinge wat in die gemeenskap bly, Bella Vista. Jonk getroud nog nie eens ’n jaar nie. Hulle stories is uitsonderlik en hulle is baie braaf om in sulke omstandighede te leef.
Ons doen ’n program met die kinders in die middae om hulle besig te hou en goed te leer wat hulle nou nie juis in die skool leer nie. Ons het ’n leerling educator wat  net soos ons voel (nie dat die educators nie help nie), dat die kinders te min weet van wiskunde en lees. Hy het regtig die week sy kant gebring het, maar die kinders kla en wil nie meer programme na skool doen nie. Gelukkig sluit die skool die einde van die week.
Home group was oor ’n woord wat jy kies om op te konsentreer vir ’n tydperk tydens jou stilte tye. Daar is ook woorde uitgedeel en as jy wil, kan jy die woord gebruik of self een kies. Alta kry so die woord ‘boldness’ en Pertus ‘shh…’ Daar is nogal goed wat mens op die hart het en nie altyd die plek of veral moed het om te sê nie, dis nou vir Alta en baie snaaks, Petrus wat redelik min praat kry die woord om stil te bly, hy besluit om op luister te fokus aangesien hy moet stil bly. Voorbidding vir die sal waardeer word.

Een van ons klein seuntjies het waterpokkies, min en ver uit mekaar, 3 in die gesig, 3 op elke bene en vier op sy lyf en dit lyk ook nie of daar nuwes by kom nie. Dis ongeveer 3 weke sedert die laaste geval. Hy verstaan nie mooi waarom hy in isolasie geplaas is nie en is baie eensaam. Bid asseblief dat almal in die camarata beskerm sal word teen siektes en veral vir die kinders wat HIV positief is, is dit ’n groot risiko.

21 – 27 Julie 2014

Dinsdag het ons ’n vergadering met die base en die administrateur van die sentrum oor die dokumente wat ons nodig het vir verblyf permitte. Die proses is feitlik tot stil stand gebring deur nuwe wetgewing en ’n kantoor wat nie voorbereid is op al die ekstra werk nie. Daar is talle mense wat deur die proses geraak word en besoekers word terug gestuur of weggewys by lughawens op ’n daaglikse basis. Die sendelinge kry ook al minder verlenging vir visas.
Een van die seuns het vir die besoekers ’n ander naam as sy eie gegee, wat toe op hom boemerang. Hulle, ’n man en vrou van Amerika, koop toe ’n bal vir hulle en soek die kind en niemand weet van so ’n kind nie. Hulle kom saam camarata toe en help met ’n middag program en sy sê vir my dis dié kind en sê toe ook dat hy vir die kinders gesê het dat hulle almal in die camarata gaan neem vir pizza. Wel ons kan dit nie toe laat nie en hy word dus gestraf met geen verversings vir ’n week nie en hy moes almal om verskoning vra. Hy loop heel week met ’n suur gesig rond omdat hy nie snoepgoed kry nie.
Die groot seuns kom elke aand vir hulle snoepgoed. Hulle kom eet ’n brood en ’n half  met margarien, grondbonebotter en soek dan ook iets om te drink en dit alles na hulle aandete gehad het. Die 7 van hulle neem behoorlik die kombuis oor en jy kan nie glo hoe hulle kan mors nie. Hulle vee elke aand die kombuis, maar vergeet om die tafel skoon te maak en as hulle die skottelgoed was, is dit erg half en word dit nat weg gepak.
Vrydagmiddag bak Alta en een van die klein seuntjies, koek want Saterdag was dit sy verjaarsdag. Die Saterdag is daar ook sokker en ander spelletjies gereël en die partyjie is vroeg en vinnig verby, sodat hulle ook by die ander goed kan wees.
Dit gaan redelik met meeste van die kroniese siek kinders, daar is ’n paar wat nie beter word nie, maar dit gaan darem ook nie slegter nie. Bid asseblief vir die kinders wat ly as gevolg van hul ouers se sondes.

Bid asseblief ook vir die seun wat leuns vertel en dat hy sal besef dat dit hom nêrens gaan bring nie en dat ’n gees van waarheid met hom en al die ander sal wees.


7 – 20 Julie 2014

Daar word steeds geverf, die beddens is klaar en die vensterrame word begin. Ons het  positiewe kommentaar van een bestuurder oor hoe die dorm lyk, gekry.
Daar is probleme met die internetkoppelling en die spoed is stadig.
Die verblyfpermitte is verder ook ’n probleem, die konsulaat in Nelspruit wil toestemming vanaf Immigrasie in Maputo hê voor hulle ’n visa uitreik en die briewe is tans by Immigrasie vir goedkeuring. Mosambiek het begin vasskop oor toegang tot Mosambiek. Daar is probleme met instroming van mense na Mosambiek want daar is nou geld te maak in Mosambiek.
’n Besoekende pastoor van Australië praat interessant oor uitbranding Maandagaand en Woensdagaand gee ’n pastoor van America ’n praatjie. Hy vertel ons dat hy op 16 ’n gelowige geword het na ’n lewe van dwelms en alles wat daarmee gepaard gaan. Maar die intreressante is dat sy hele gesin, oupa en ouma ingesluit binne 3 maande hulle lewens aan Jesus gee.
’n Sendelingpaartjie van Noorweë met hulle 2 kinders is gedurende die week vir ’n paar dae Nelspruit toe. Daar het hy egter siek geword en die hospitaal beland. Ons het aangebied om hulle hierdie naweek, wat ons terug moet terug gaan SA toe, in Nelspruit  te gaan haal. Gevolglik is ons Donderdag hier weg SA toe en Vrydagoggend deur Nelspruit toe om hulle te kry en weer terug Marloth toe waar hulle die naweek saam met ons deurgebring het. Hulle kon nie regtig vasstel wat hom makeer nie. Hy vertel dat van hulle vriende in Noorweë hom laar weet het dat een ’n visioen gehad het waar ’n engel hom weg ruk van demone en ’n ander een dat hy ’n stem gehoor het wat sê dat hy gesond is. Byde het met hom binne ’n uur gekontak nadat hul die ervaarings gehad het en daarna het hy ’n verligting ervaar en begin om beter te voel. ( Hy het die vorige week of twee vir mense gebid en demone uitgedryf.)

Die kinders se reaksie was interresante, Donderdagmiddag terwyl ons pak daag die kinders by ons op en wil weet watter sendeling staan in vir ons by die dorm. ‘n Groot betoog gaan op na hulle hoor wie die sendeling is, want hierdie sendeling gee nie snoepgoed nie (die maag is die belangrikste en hulle is deeglik bewus wie gee en wie nie.)

30 Junie – 6 Julie 2014

Dit was ’n baie besige week. Die jong Suid-Afrikaners verf steeds beddens in die camarata. Daar is ook hulp van ’n paar meisies van Engeland en Amerika (dink dis  die jong boertjies wat die eintlike trekpleister is.) So tussen deur gaan hulle ook op uitreike en daar is nog ’n paar beddens wat verf benodig teen die einde van die week. Daar is hoop vir Suid-Afrika as alle jong mense van hulle kalliber is.
Ons het ook ’n noodhulplesing Dinsdagaand gehad van ’n besoeker. Die sendelinge was op hulle stukke en ons lê soos ons lag.
Donderdagaand is dit ons beurt om by die Oasis-span (die span van Natal) te eet. Voor ete bid hulle vir ons. Daarna was dit kerk en aan die einde van die diens word al die besoekers (± 30) gevra om vir elke kind, pastoor en sendeling te bid, ons vorm ’n ry en elke besoeker bid vir elk van ons. Dit is ’n ongelooflike ervaring behalwe vir die agtergrond musiek wat oorverdowend was en dit moeilik gemaak het om al die gebede te hoor.
Ons nooi al die Suid-Afrikaners om Vrydagmiddag saam te kom braai, enigste tyd wat oop is, aangesien die ouer groep (Oasis) elke aand etes voorsien aan sendelinge. Die grootbaas gee ook ’n bydrae vir ekstra vleis. Al is meeste van die klomp Engelssprekend, kuier ons soos net Afrikaners kan. Vrydagaand eet al die sendelinge saam met Oasis.
Die wat siek is raak bietjie minder, soos die waterpokkies en maagvirus die wyk neem. Ons bid steeds vir ’n paar ander wat kroniese siektes het en ook vir die dogterjie Lucia wat laas jaar so siek was. Daar steek ’n paar simptome kop uit wat ons op ons hoede plaas aangaande haar gesondheid.
Een van die grootseuns het Dinsdag verjaar en het ’n ete bestel saam met 10 van sy maats en ons het besluit om dit Vrydagaand te doen.
Ons word weer gevra om Sondag nog ’n ete vir so 50 mense te hanteer hier by ons huis.
Sondagoggend preek Amy Lancaster en sy hou tot die kleintjies se aandag met haar preek. Sondagaand het ons worship in die prayer room met wonderlike ondervindinge.
Dus het die week ernstige beplanning geverg om alles glad te laat verloop.

Woensdagaand hoor ons van ’n groep Amerikaners oppad na die Pemba Iris basis, wat by Pemba Lughawe toegang tot Mosambiek geweier is omdat hulle nie visums het nie. Al die lande waar Mosambiek konsulate het moet die besoekers hul visums daar kry voor hulle Mosambiek toe kom. Slegs besoekers van lande waar daar nie konsalate is nie mag tot in Mosambiek vlieg en by die lughawens visums kry. Donderdag word hulle op vliegtuig Suid Afrika toe en ons word ingelig dat die span by ons moes kom kuier vanaf Sondag tot Woensdag. 


23 – 29 Junie 2014

Dit gaan beter met die maaggriep en waterpokkies. Wil lyk of die meeste nou gesond is en nuwe gevalle is baie minder. Die baba wat in die hospitaal was, is ook terug en ook Kenssane is ontslaan uit die hospitaal, maar hulle is nog nie weer 100% nie en het nog gebede nodig.
Die kinders was baie opgewonde die hele week, hulle is genooi om Vrydag, by die presidentsvrou te gaan eet. Alta was besig om veral die skoen situasie uit te sorteer, vir die besoek, hulle klere wat hulle kinderdag gekry het, is goed vir die besoek. Wanneer hulle skoene nog goed is en hulle sien een kry ’n paar, dan breek hulle hulle sin sodat hulle ook nuwes kan kry. Ons kan nie sulke gedrag toelaat nie en die wat dit doen kry dan net nie skoene nie, maar ons kan hulle ook nie met vlenters na die presidentsvrou toe stuur nie. (Het Salomo se wysheid nodig.) 80 van die jonger kinders is saam met die educators en een van die sendelinge met die bus weg. Hulle is nie die dag skooltoe nie en het lekker geëet en is toe nog met speelgoed ook bederf.
Hier is ’n groepie van 6 jong Suid-Afrikaners van die Kaap waar hulle studeer, maar klink of meeste oorspronklik in Natal op plase gebly het. Hulle het aangebied om te help met verfwerk in die camarata en het begin om beddens te verf en dit sal gaaf wees as  hulle ook nog by van die vensterrame kan uitkom. Dan het daar ook ’n ander Suid-Afrikaansespan gekom. Hulle is van Howick en is ouer mense en hulle maak kos en dan kan die sendelinge saam eet. Een is ‘n ‘Auto Electrician’ en het aangebied om met die voertuie te help wat probleme in sy veld gee.

Die sendeling wat vir die kinders Engels geleer het, gaan vir so 3 maande huis toe. Die kinders is baie lief vir haar en sy bederf hulle baie. Almal is jammer om haar te sien gaan, maar ook baie bly dat sy bereid is om terug te kom. 

9 – 15 Junie 2014

Dis ’n bedrywige week, met die internet wat nie lekker werk nie en voorbereidings om die sokkerwêreldbekker opgestel te kry sodat die kinders die sokker op die grootskerm in die saal te kan kyk.
Kensanne, die Downsindroom dogterjie wat laas jaar die hartoperasie gehad het, het longontstekking en is in die hospitaal. Sy is baie swak en ons bid vir haar om gesond te word en goeie behandeling te kry. Almal se vriende, ondersteuners en familie bid saam.
Sommige van die kinders is erg opstroppelis en hou ons en die ‘educators’ besig. Bid asseblief vir insig en wysheid om hulle so te hanteer, dat hulle wyser uit die situasie sal kom.
Alta neem die nuutse sendelinggesin om ’n paar inkopies te gaan doen. Hulle kom van Noorweë met ’n dogterjie wat pas 2 geword het en ’n seuntjie van 7maande. Inkopies met die bus en twee klein kindertjies met net 1uur tyd in die winkels, is ’n uitdaging op sy eie, wat nog van taal en goed wat onbekend is en etikette wat alles eers gelees moet word in ’n ander taal as jou moedertaal.
Woensdagoggend kom Alta toe eindelik 11uur by die verf uit en laat die laaste venster oorstaan vir Saterdag. By Home Groep praat ons oor vergiffenis en hoe dit in verskillende kulture werk, met arbiters of nie. Een van die Mosambiekers vertel toe dat daar baie moeilike situasies is, wat hulle ondervind met voorvadergeeste en bindings. Hy vertel dat as die ouers op ’n stadium nie skuld kon betaal nie, ’n dogter as bruid belowe word en dat sy nooit daarvan weet nie. As sy dan trou werk die huwelik nie, omdat daar ’n spirituele huwelik was, wat dan probleme gee. Laat mens wonder wat alles oor die kinders is, waarvan ons geen benul het nie en wat die invloede daarvan is.
Donderdagaand na kerk begin die sokker en ons kyk die openingserimonie en die wedstryd tussen Brasil en Cameroen? Dis koud in die saal en kom laat in die bed, eers na 00:30. Vrydagaand begin die sokker vroeër en hou darem ook vroeër op.

Saterdagoggend is dit skoonmaak van die tuin en huis. Sondag is die ete vir die borge en die studente, wat hulle ondersteun en ons tuin en huis is die plek waar dit alles gebeur. Die kombuis het kos gemaak en ons het ’n slaai gemaak, tafels gedek en bedien en skottelgoed gewas. Daar bly baie kos oor veral vleis (hoender) en ons nooi al die sendelinge om Sondagaand te kom help minder te maak. Dis ’n heerlike kuier met net enkles wat nie kon kom nie.