Kerk vanaf 10:00 tot 12:30. Die besoekers en ons nuwelinge word vorentoe geroep en daar word vir ons spesiaal gebid deur handoplegging deur verskeie mense en een persoon wat ‘n gebed vir almal doen. Dis ingrypend vir ons. Ons kry ook die eerste keer die geleentheid om saam met al die sendelinge (ons is ook nou sendelinge, ek het altyd gedink jy kan net ‘n sendeling wees as jy kan preek en vir ander mense voltyds van Jesus vertel) die hande op te lê en te bid, vir ‘n groep wat op ‘n stadium vorentoe beweeg het op uitnodiging van die persoon wat leiding geneem het. Ook nuut vir ons. Dit is net ‘n bietjie moeilik met lofprysing want ons verstaan nog nie die taal nie en kry dit ook nie gevolg op die bord nie. Preke word getolk na Engels of Portugees.
Na kerk vat ons die pad vismark toe waarvan Francois my vertel het. Ons het die gids wat ons Vrydag rondgewys het saam genooi vir ‘n 3 ledige doel, dankie te sê vir sy hulp, seker te maak ons kom daaruit en ons te help met die vismark. Dit reen steeds en ons ry weer ‘n nuwe pad. Daar ge-arriveer stap ons in ‘n geroesmoes in. Jy kan vir jou vis kies wat vir jou gaar gemaak word. Daar is alles waaraan jy kan dink uit die see. Die probleem is egter almal praat met jou, baklei onderling met mekaar en dit oorweldig jou. Na ons so half deur die plek is, steek ons half moedeloos vas by een stalletjie, ons besluit ons gaan Stone Fish vat. Onseker hoeveel genoeg is eindig ons met 7kg se vis vir 1500 meticas (R500). Weg is ons saam met ‘n vrou wat vir ons die vis gaan gaar maak, by haar kombuis en eethoekie. Terwyl ons wag vir die kos wil elke smous sy produkte aan jou verkoop, van sandale tot skilderye. Die kos arriveer en ons eet lekker, die vis is regtig goed voorberei, net die oë van die visse kyk nog vir jou en vir die rekord, ek het net een graat gekry, wat ek gesien het met die inskep, en Alta kry al die grate. Na ete kom die res van die rekening, 1100 meticas (R388). Totale koste R888, ons het skoolgeld betaal en sal volgende keer van beter weet, maar het darem nog vis huistoe ook gebring.
So as julle kom kuier en wil vismark toegaan, sal ons julle vat maar julle betaal die ete.
More begin ons werk, ook nie regverdig nie, die ander nuwelinge kry ‘n week om hulle self hier te vind voor hulle begin werk en ons net 3 dae.
Mosambiek
We were involved at Iris Global Ministries Children Centre, Zimpeto, Maputo in Mozambique from 2013 till 2015.
Ons was betrokke by Iris Global Ministries Children Centre, Zimpeto, Maputo in Mosambiek van 2013 tot 2015.
11 Januarie 2013 die 2de dag
Dit reen en is heerlik koel. Eerste vergadering met die direkteure (of base). Ons kry weer ander werk. Alta moet help met ‘n nuwe program waar ‘n groep kinders na ‘n nuwe huis verskuif word. Die kamer vir hulle moet nog ingerig word en ons kry ook elkeen werk daarmee. Alta en Ma Nellie moet ook, sodra die kinders verskuif is, hulle in die middae vir 2 ure besig hou. Verder neem Alta die babahuis se toesig oor wanneer die huidige toesighouer huistoe gaan vir 6 maande. Ek moet elektriese onderhoud doen op die sentrum, die Mozambique elektrisien oplei, die sentrum deurgaan en kyk waar die elektrisiteit aandag nodig het en moet ook na die voertuie omsien.
Daar moet winkel toe gegaan word want daar is kos by Marloth vergeet. ‘n Plaaslike jongman stem in om ons te gaan wys waar die winkels is. So 14:00 vertrek ons stad toe met druk verkeer. Ons vind Shoprite (kos is baie duurder as in SA), en ons sal moet leer om Portugees te praat, ons verstaan nie eers as die kassier vra of ons kleingeld het nie en die aanmaak koeldranke se etikette is ook Potrugees. By Maputo Mall naby die hawe, kry ons simkaarte vir Mosambiek, vandaar wys hy waar Game en die vismark is. Ek kry deeglike ondervinding hoe om in Maputo te bestuur, jy gee nie toe nie en moet heeltyd weet wat 360 grade om jou aangaan, voertuie ry steeds al is die verkeerslig rooi vir hulle en vleg dan deur die dwars verkeer met hoeters wat ooral raas. Die geheim is wanneer dit druk raak en daar is verkeersopeenhopings val agter ‘n taxi in en gee vir niemand ‘n geleentheid om voor jou in te kom nie. Ons is regdeur Maputo en met ‘n stiller agterroete terug Zimpeto toe. Hierdie roete het so ‘n 2km sandpad ingesluit wat vol damme water was. Ek het ‘n kans gehad om die Kia se 4 wiel te gebruik. Ons was 4 ure later terug by die huis, lekker moeg.
Aankoms by Zimpeto
Ons laai wat ons kan by Marloth en val in die pad so 130km om te ry. Grenspos is hierdie keer nie ‘n probleem nie en ons gaan vinnig deur. Lugversorger werk hard want daar is ‘n hittegolf. Verkeer deur Maputo is druk en stadig. Ons arriveer 11:30 by Zimpeto.
Ons huis word vir ons gewys en daar is ‘n koelteboom vir die Kia. Hulle is smart, hulle het die huis skoon gemaak, beddens is opgemaak en daar is kos gekoop en dit is in die rakke en yskas gepak.
Dit is baie warm en niemand het energie om baie te doen nie. ‘n Gereelde koue stort help. So deur die tyd daag daar ander mense op om te groet (daar is ook nog ‘n Suid Afrikaner Catherine Kloppers wat ook kort gelede gearriveer het). Laat middag word daar vir ons klaar voorbereide kos gebring.
Vroeg vroeg is ons in die bed en probeer slaap in die hitte met die waaiers aan.
Hier is ‘n paar foto’s.






