Agtergrond:

  • Zimpeto is een van Iris Ministries se uitreike. Hier gaan dit om wees-, verwaardelose-, mishandelde- en  arm kinders. Daar is 250 kinders in die sentrum en ook ‘n skool vir 1000 kinders wat voorsien in die omgewing. Verder is daar ook ‘n kerk-gedeelte wat uitreike na die omgewing doen.
  • Zimpeto is aan die noordekant van en steeds in Maputo.
  • Ons was September 2012 by Zimpeto Iris om te kyk wat daar gebeur. Hulle was ook op soek na ‘n bestuurder vir onderhoud.
  • 04 Oktober 2012 het ons hulle laat weet ons sal graag daar wil betrokke raak.
  • Daarna moes ons baie inligting voorsien en op 6 Desember 2012 het hulle ons laat weet ons moet kom enige tyd na 7 Januarie 2013.
  • Daar word ooreengekom dat ons 10 Januarie 2013 daar sal wees.
  • 6 Januarie 2013 laat weet hulle ons die goeie nuus dat daar ‘n 3 slaapkamer huis, waarvan daar net so 4 of 5 is op die sentrum, vir ons beskikbaar is. Verder gaan ek moet help met die voertuie en ‘n groep kinders. Alta moet help met ontvangs van gaste en die dogters leer naaldwerk doen. Ma Nellie moes ook help met die ontvang van besoekers.

Die res van gebeure na ons aankoms volg.

19 Januarie – 30 Junie 2015

Ons het ‘n bietjie lui geword om te skryf maar ons is oor die vingers geraps, so hier gaan ons weer.
Januarie tot Maart was erg warm met hoë humiditeit. Ons het agter gekom dat dit moeilik is om ‘n voldag se hande-arbeid te kan handhaaf met die hoë temprature, dit voel soms ons het sleg geword. Verder wil dit nou voorkom of ons geklimatiseer het, want nou hier in Junie met temperature van 21° -24°C kry ons koud en soek ‘n warmding en kombers op die bed. Alta se neus wat altyd eers so by 16°C koud geword het in Middelburg, word nou al by 24°C koud in Maputo.
  
Met die 27 kinders gaan dit goed, kinderdag 1 Junie was groot pret vir die kinders, met sport by die skool en by die sentrum klere en presente. Dit was ‘n suksesvolle dag en met die ondersteuning van die Lewende Gemeente Maputo, wat 31 Mei ons groepie kinders bederf het met geskenke en eetgoed was dit nog ‘n groter ervaring vir die kinders. Hulle het ook vir elke kind ‘n sokkerbal gegee, wat die ‘educator’ mal gemaak het met die geraas wanneer elkeen sy bal in die camarata gehop het, dit gaan nou rustiger met die balle behalwe dat ons nou elke dag so 2-4 balle moet stywer pomp.

Saam met die al geskenke wat hulle gekry het, het hulle ook ‘n fiets vir die camarata gekry. Ons moet nou 23 seuns leer fiets ry en die plek daarvoor is ook nou nie volop waar daar met ‘n fiets gery kan word nie, as gevolg van die natuurlike sandput waarin ons bly. Wees verseker dit is makliker om jou eie 3 kinders te leer fiets ry as 23 energieke seuntjies wat glo dit is net op klim en trap en dan ontdek dit werk nie so maklik nie. So daar is begin met ‘n middag na badtyd vir 1 kamer op ‘n slag. Ons ontdekking is dat uit die hele span is daar net 1 wat kan onafhanklik ry en ‘n groot aantal het geen voetkoördinasie nie, hulle trap met een voet tot onder en in plaas daarvan oor te beweeg met die ander voet om met die te kan trap, trap hulle agter toe. Selfs met die balanseer wiellietjies kan hulle nie regop bly nie, met die gevolg dat die trappe en wiellietjies afgehaal is en nou moet hulle die fiets met hulle voete stoot en leer om te balanseer.
            Gebed: Ons se dankie vir talle skenkings en bydraes om die dag vir die kinders besonders te maak.
Daar is in die verlede min ag geslaan op huiswerk, maar hierdie jaar is besluit dat die kinders beter beheer moet word en ag gegee moet word aan hul huiswerkopdragte. Daar was nogal teenstand uit die meesonverwagte oorde. Die persepsie het posgevat dat die sentrum se kinders nie huiswerk hoef te doen nie, by die kinders en die ‘educators’. Dit het inspanning en motiveering gekos om almal sover te kry om saam te werk, maar dit gaan al beter en die kinders se toets uitslae lyk alreeds beter as in die verlede.
            Gebed: Ons is dankbaar vir die vordering wat gemaak is. Vir die onderwysers en ‘educators’ se samewerking en bid dat die kinders besonder goed sal vorder in die skool.

Die kinders het nou te veel geword om elkeen ‘n afsonderlike verjaarsdag-patytjie te hou en gevolglik word daar nou eenmaal per maand een groot partytjie gehou vir almal wat die maand verjaar. Hulle kry pasta en ‘n hoenderige sous en is baie opgewonde oor die vooruitsig en gewoonlik gebeur die etery net na middagete gehad het. Ons probeer ook om vir hulle ‘n koek te gee, dis baie belangrik by enige feesgeleentheid hier, as die stowe werk!

 Daar is ‘n 5 aan ‘n kant sokkerbaan vir die kinders gebou en is op 30 April geopen met ‘n wedstryd tussen die sendelingmans (met dieselfde aantal groot seuns van die sentrum, om ons af te los) teen die werkers. Ons onfikse klomp sendelinge het so 3 minute gespeel dat weer afgelos vir dubbel die tyd waarna ons weer so 3 minute gespeel het en ons was ook in die moeilikheid dat ons nie altyd net 5 op die baan was nie. Ons het gewen 1 – 0. Baie trots op ons self.


Ons het ook by ‘n selgroep van die Lewende Gemeente ingeval en kom elke Dinsdag in Maputo by Hendrik en Kitty by een. Dis besonders om so ‘n saam groei en leer geleentheid in ‘n vreemde land in Afrikaans te kan hȇ, selfs al praat ons soms Engels en lees uit ons Engelse Bybels. Ons is nou 8 Suid-Afrikaners op die basis en 5 van ons woon die groep by.
            Gebed: Dankbaarheid vir die voorreg om in vrede en veiligheid bymekaar te kan kom, vir elkeen se bydrae in die land en vir elkeen in die groep se persoonlike omstandighede.
Ons is nou 8 Suid Afrikaners hier, 3 getroude pare en 2 enkelopendes (die meerderheid onder die sendeling nationaliteite). Die een enkelopende is ‘n gewese boer van die Wes-Transvaal en van dag een af was hy in die moeilikheid by ‘n ouer enkellopende vroulike sendelinge tot groot plesier vir ons ander Suid Afrikaners (ons het iets om hom mee te terg in Afrikaans en net ons verstaan dit). Dit het weer sterk na vore gekom hoe moeilik dit kan raak tussen mense met verskillende persoonlikhede in ‘n klein gemeenskap om saam te leef.

‘n Egpaar van Engeland oor wie ons al geskryf het en met wie ons goeie vriende geword het, is nou permanent terug huis toe wat vir ons negatief is. Die laaste Suid Afrikaanse egpaar wat Januarie geariveer het en ook ons ouderdomsgroep is maak egter daarvoor op.

17 November 2014 – 18 Januarie 2015

Dit is ’n  lang tyd sedert ons laas geskryf het, maar dit was ook baie besig.
Ons was die naweek van 21-23 November in Middelburg en het ’n paar dinge daar gedoen wat aandag nodig gehad het en toe ook saam met ’n paar bekendes gekuier en Sondag weer by ons ou kerk gekuier. Dit was besonders en lekker om op te vang en te hoor hoe dit met almal gaan. Dankie vir al die goeie wense en gebede, dit dra ons.
Daarna het ons ouma opgelaai en gaan kennis maak met ons nuwe kleindogter. Ons is die volgende oggend Bloemfontein toe, waar ons ‘n week by ons oudste dogter gaan kuier het en toe terug is na die tweede oudste om weer daar ’n week te kuier. Daarna is ons terug Middelburg toe om nog sake te gaan afhandel, Nelspruit toe om dinge daar te gaan doen en toe Marloth toe. Daar het ons skenkings uitgesorteer en besluit wat kan later gaan en wat nou moet saam terug vir die kinders vir Kersfees. ’n Paartjie het vir die naweek kom kuier en ons is die Maandag terug Zimpeto toe. Naby Matola het ’n oorlaaide bakkie met ‘n sleepwa aan ons linkerkant, tussen die geelstreep en die skouer van die pad by ons probeer verby steek en ons getref met die sleepwa se wiel. Die skade was nie te erg nie, maar dit was ’n lang proses om by die polisie en versekering alles gedoen te kry. Dis ‘n bestuuring dat niemand beseer is nie. Die kar is nog nie reg nie, met al die vakansiedae in hierdie tyd, sloer dinge maar.
Kersfees was baie warm en besig, ’n lang dag, met almal spoggerig in hul nuwe klere. Nuwe jaar het vinnig gevolg en die kinders is vermaak en besig gehou, en die aand is afgesluit met vuurwerke middernag.
Maandag 5 Januarie het ons die 8 seuntjies van camatata 5 ontvang. Almal baie opgewonde oor die nuwe bly plek. Sover gaan dit goed en lyk dit of hulle goed inskakel, hoop en bid dit hou aan. Daar is 2 wat bekend is vir die moeiliheid  wat hulle maak. Ons het ook een van die groot seuns gegroet, wat in die huis, wat sy ma vir hulle agtergelaat het, ingetrek het. Ons het dus nou ‘n dorm met 23 kleiner seuns en 4 grotes.
Ons is dankbaar vir talle seeninge en ons pragtige kinders en kleinkinders en die voorreg om ook hier die hande en voete van Jesus te kan wees en ’n verskil vir hierdie kinders te kan maak.
Bid asseblief vir ons in hierdie jaar vir:
Baie geduld en insig wat hierdie kinders betref, en aanleer van die taal,
Die veranderinge en aanpassings vir die wat huis toe gaan of hier moet inskakel,
Volgehoue finansies om te kan doen wat ons doen en ook vir die finansies van Iris Global en Zimpeto,
Gesondheid, beskerming teen malaria muskiete en bose magte,
Goeie vordering  van die kinders in die skool en vir die onderwysers om hul beste te lewer,
Dat die wat na die kinders omsien (educators) werklik vir hulle sal omgee.

3 – 16 November 2014

Die week was besig met tieners wat hul wil wil afdwing en ’n houding het van ek is groot en maak soos ek wil. Gordyne hang en maak, klere uit sorteer en sien wat kort en wat moet gekry word. Ons is besig om die goed wat ons van skenkings ontvang het uit te sorteer vir Kersfees, soos Kinderdag, is Kersfees die ander groot dag en almal kry klere en speelgoed op die twee dae. Ons gaan oor ’n week Suid-Afrika toe vir ’n paar dae, om by die kinders en Ouma te kuier en ook om ons nuwe kleinkind te verwelkom. Ons het baie T-hemde vir die kleiner seuns, maar min vir die groter seuns en kort broeke, onderbroeke en kouse is vir almal in groot aanvraag. Dan is daar ook die gereed maak vir die klompie kleintjies wat ons van die ander ‘camarata’ gaan ontvang net ’n paar dae na Kersfees.

20 Oktober – 2 November 2014

Een van ons groot seuns is huis toe gestuur en ons is hartseer.  Ons het ook ’n verjaarsdag gehad  en daar is nog 2 in die kommende week. Die gewone dinge hou ons besig en ons begin voorbereidings tref vir die vakansie van die kinders wat 14 November begin asook vir Kersfees.
Ons het ’n besoeker van Slovakia wat vir die kinders T-hemde gebring het en vir hulle gekleurde kleremerkers  gegee het om dit mee te versier. Sy het vir hulle Jesaia 49:16 gegee en vertel dat hulle name in Jesus se hande geskryf is en dat Hy hulle elkeen ken en alles van hulle weet. Hulle moes hul hande saam met die teks gedeelte op die hemde sit. Dit lyk of dit nogal ’n impak op hulle gemaak het. Die groot seuns is nie so gewillig om hulle name in hul hand afdrukke te skryf nie. Foto’s is op facebook.
Ons was Saterdagoggend na ’n Amerikanse ‘garage sale’  toe by die wonings van die mense van die Amerikaanse ambassade. Was nogal interresant om te sien wat hulle uitgooi. Ons het ’n klompie DVD’s vir die kinders teen R30-00 gekoop. Sowat van sekuriteit is nie oral te kry nie. Daarvandaan is ons na die nuwe Builders Warehouse in Matola. Dit lyk net soos die winkels in SA maar hulle het ’n bietjie deurmekaar geraak waar hulle is, onderandere die elektriese proppe SA se 3 punt proppe en nie Mosambiek se 2 punt proppe nie. Dis was egter ’n winsgewende uitstapie want ons kon daar toerusting vir die sentrum kry wat baie goedkoper is as op ander plekke. Daarna is ons see toe waar ons ’n laat middagete by ons gewone restaurant langs die see geniet het.
Terwyl ons nog wag vir ons kos, word ons verwittig dat een kind met ’n bynes gekaring het en dat die bye almal aanval. Na ons vir die hoof educator gesê het om die kinders in hulle dorms toe te maak en die bye uit te los, hulle sal self tot rus kom, het hulle steeds ’n vuur langs die boom gaan maak (waaroor ons verwittig is dat dit buite beheer geraak het) wat die bye verder kwaad gemaak het. Ons het so ’n uur of wat later by die sentrum opgedaag met die verwagting dat die keniso (rietafskortings) van die sentrum afgebrand sal wees met bye oral, maar alles was rustig met geen by insig behalwe by die nes nie en materiaal, wat vir die vuur gebruik is, wat nog rook langs die boom. Slegs ’n klompie kinders het bysteke opgedoen en met geen erenstige nagevolge nie. Interresant die kinders vertel jou baie bye het hulle gesteek, maar as jy vra waar die steek plekke is kan hulle net een of twee wys, of glad nie. Iets steek een se voet in die sand en toe kry die bye ook daarvoor die skuld, ’n dag later.
Sondag is ons in die kerk hier en die kinders moes ’n bietjie vasgevat word. Hulle gesels en loop uit net wanneer hulle wil. Ons het ‘n lekker Sondagmiddag rus in gepas.
Gebedsversoeke:
Dit gaan beter met die man wat gebrand het, hy het Maandag veloorplantingsoperasie gehad op beide arms en vel is van sy bobene geneem, die dokters was nie heeltemal tevrede met die wonde aan sy arms nie. Bid asseblief vir verdere geneesing en beskerming teen infeksie.
Bid asseblief ook vir die kinders wat wanneer die vakansietyd aanbreek, huis toe gestuur sal word en ook vir die wat nog met aanpassing sukkel.

Bid asseblief ook vir skerming teen malaria, dis reenseisoen en daar is dus meer muskiete.

6 – 19 Oktober 2014

Ons sê totsiens aan ons SA besoekers wat na 3 weke terug gaan huis toe, hulle het baie gehelp met die seuns en die camerata. Daar is egter ’n moontlikheid dat hulle binne die volgende paar maande dalk langtermyn hier gaan wees saam met ons.
Die jong paartjie wat op Bella Vista gewerk het is nou ook permanent hier en hulle help ook met die camarata. Jenna hanteer berading want sy praat Shangaan vlot en Theo het die rekenaarnetwerk oor geneem. Saam met hulle, ons, Gaby en die ander paartjie wat moontlik kom, gaan die Suid Afrikaners die meeste van een nasionaliteit wees, so ons mag dalk die meeste word, maar nou is die Aussies nog die meeste.
Alta is besig met gordyne vir die ‘pastors’ se kantore. Ook is die vrou wat die die naaldwerkkamer begin het hier en dit is bedrywig. En die camerata hou haar voltyds besig. Een van ons eerste groep kleinseuntjies was in die hospitaal vir ’n week met longontsteking. Twee ander was ook uit die skool vir ’n paar dae, een met  maagkrampe en naarheid en die ander een het geval en sy lip stukkend gebyt in die proses, hy het steke binne-in sy mond gekry en nog ’n sny aan die bo-kant ook. Hy was ’n paar dae erg ongemaklik met ’n renosterlip.
Petrus het begin om die geboue se elektrisiteit en die elektriese netwerk deur te gaan, maar met die werks-etiek hier gaan dit ’n geruime tyd neem.
Ons het ’n winderige week gehad met ’n buie of 2 reën wat die temperatuur leefbaar hou.
Een van die sentrum se voertuie is verlede Vrydag in die stad gesteel, nogal die beste 4×4 dubbelkajuit wat ons gehad het.
Woensdag was die nasionale verkiesing en sover gaan dit nog rustig hier om ons, maar volgens nuusberigte gaan dit nie so goed meer na die noorde toe nie. Finale uitslae sal glo eers 2 weke na die verkiesing beskikbaar wees.
Gebedsversoeke:
Bid asseblief vir die kinders wat siek is, veral vir die wat se immunstelsels nie so maklik by hou nie. Bid asseblief vir die een wat indie hospitaal was en een vandie ouer seuns sukkel ook met sy gesondheid. Klein Kenssane se gesondheid is ook op en af, al sedert Februarie.
Bid vir die dogterjie wat elke 8 weke  geopereer moet word vir poliepe wat op haar stembande groei.

Bid ook vir die man wat gebrand het, dit gaan al beter met hom, maar daar is nog ’n paar maande wat voorlê voordat hy heeltemal gesond sal wees.

29 September – 5 Oktober 2014

Dis ’n bedrywige week met besoekers wat help in die camerata met geroeste vensterrame afskuur en verf.
Kinders maak goed in die naaldwerk projek en dit word in die winkel verkoop. Dis maandeinde en die berekeninge moet gedoen word, sodat die kinders hul wins kan kry. Ook is die vrou wat vantevore die naaldwerk projek behartig het, hier vir 3 maande. Daar is ’n klomp goed wat aandag moet kry en pryse moet aangepas word.
Die kinders se klere moet ook uitgesorteer word, en daar is goeie donasies en ons moet sommige stoor en kersfees goed moet begin om georden te word.
Een van die groot seuns het ons die week besig gehou, hy het ’n kleiner seun by die skool geklap dat die vingermerke op sy gesig gelê het. Hy is gestraf deur op sy bed te wees na skool en hy moes saam met ’n persoon werk oor sy agressie. Hy was glad nie lus vir die sakie nie, maar ons het vasgestaan en hy het bly kla.

Een van die groot seuns is terug na se ouerhuis, so ons het nou net 6 groot seuns oor in die dorm.