(K002) Beskerm jou inkomste – Spr 27:18

Spr 27 :18 “Wie sy vyeboom versorg, eet van sy vrugte. Wie omsien na die belange van sy werkgewer, sal voordeel daaruit trek.”NLV

Wat sê hierdie stukkie?

Prakties met die natuur – versorg die vrugteboom wat vir jou vrugte voorsien waarvan jy sal hou om te eet of dalk verkoop vir inkomste.

Netso werk dit met jou werk wat jy van God ontvang het.

Jy het ‘n werkgewer wat werknemers nodig het om sy besigheid te help bedryf,

maak nie saak of dit ‘n klein besigheid is of ‘n groot besigheid wat takke oral oor die wêreld het nie,

maak nie saak hoe hoog of klein jou pos waarin jy werk is nie.

Hierdie werk gee vir jou maandeliks ‘n salaris waarvan jy en jou familie lewe.

Wanneer jy getrou jou werk waarvoor jy aangestel is doen sal dit met jou goed gaan.

Dit is vir jou werkgewer voordelig wanneer jy jou werk getrou doen,

maak nie saak hoe belangrik of nietig die werk is wat jy doen nie.

Jou werkgewer kry jou deel van die werk gedoen teen die beste prys.

Sy kliënte is ook gelukkig met die diens of produk wat hulle ontvang en hou aan om na hom terug te kom vir meer.

Solank jou werkgewer sy produk of dienste verkoop kry gaan jy ‘n inkomste verdien.

Moenie kyk wat die ander werkers doen of hoe hulle optree nie, doen dit wat die Here van jou verwag.

Jy werk eintlik vir die Here –  

Kol 3:23-24. “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie 24  omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan.” 

Jou optrede kan die ander om jou en jou werkgewer beïnvloed om beter te werk en hulle selfs na Jesus te lei as hulle verlosser.

Kom ons bid saam

Dankie Vader dat ons U kinders kan wees

Dankie Vader dat U ons versorg soos U ons belowe in U Woord.

Heilige Gees plaas asb. ‘n wag voor ons monde sodat ons eers sal dink voor ons praat en wanneer ons praat dat dit opbouend vir almal sal wees wat dit hoor.

Heilige Gees herinner ons asb. ook dat wanneer ons ons werk uitvoer dat dit vir die Here is en ook vir onsself.

Ons vra dit in die naam van Jesus Christus

Amen