Jy is ‘n weergebore kind van God maar:
- Jy twyfel of jy steeds of jy gered is,
- Jy weet nie of God jou lief het nie,
- Jy lewe steeds onder wette en gebruike wat op jou afgedwing word deur die kerk.
Hierdie is vir almal, maar in die besonder vir die wat elke Sondag in die kerk sit of voorheen kerk toe gegaan het en twyfel oor baie dinge en baie probleme ondervind.
Luk 4:17-19 AOV En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is: (Jes61:1-2) Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.
Jesus het gekom om die duisternis van hierdie wêreld, wat deur die duiwel beheer word, met Sy lig te vervang en vryheid te bring vir diѐ wat in Hom glo.
Hierdie eerste deel gaan oor: Ontdek jou vryheid wat Jesus vir jou gegee het, mbt ons geestelike lewe.
Jy is ‘n weergebore kind van God, maar jy lewe steeds in twyfel en onsekerheid:
- Jy twyfel of jy werklik gered is en saam met God en Christus in die hemel sal wees wanneer jy sterf hier op die aarde.
- Jy voel of glo nie dat jy goed genoeg is vir God om jou lief te hê nie.
- Jy kan nie aan God se wette voldoen soos aan jou verkondig word nie.
- Jou fokus bly op sonde – wat is sonde en wat doen jy alles verkeerd doen.
Wat sê Jesus egter vir jou:
- Jy twyfel of jy werklik gered is – het jy gedoen wat in Rom 10:9-10 ANV staan?
“As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.”
As jy met jou mond bely het, dat Jesus vir jou sonde aan die kruis gesterf en in jou hart glo dat God Jesus uit die dood opgewek het, dan is jy weergebore en sal jy saam met God en Jesus in die hemel wees wanneer jou liggaam hier op die aarde sterf. Dit is so maklik.
Efs 2:8 AOV Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;
Wanneer jy weergebore word ontvang jy God se genade, omdat jy glo en hierdie genade is vir almal beskikbaar, maar die voorwaarde is hulle moet glo in Jesus se sterwe en opstanding.
Gaan kyk ook na die lesings “A001 Redding en weergeboorte” asook “A005 Redding vir altyd onbeperk of nie”
- Jy twyfel of God jou lief het. God sê die volgende vir jou –
1Jo 4:10 AOV Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes.
God het almal lief en jy is nie die uitsondering nie, God het jou lief ongeag wat jy gedoen het of nog gaan doen, goed of sleg.
Wanneer jy weergebore word, word jou gees (jy bestaan uit gees, siel en liggaam – 1 Tes 5:23) nuut gemaak en ons staan dan sonder sonde in geregtigheid voor God –
2Kor 5:17+21 AOV [17] Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. [21] Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
Dis selde dat iemand iets ‘voel’ wanneer hy weergebore word, want dit is jou gees wat vernuwe word nie jou siel, waar jou gevoelens is nie. Jou siel word vernuwe deur die bestudering van die Woord van God (Rom 12:2) en moet nog leer om oop te maak sodat die Heilige Gees vanaf jou gees na jou siel kan deurvloei. Volgens my prentjie is dit wanneer jy met die Heilige Gees gedoop word.
Jy word ook ‘n kind van God met weergeboorte–
Rom 8:14-16 AOV Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;
Hoe kan God jou nie liefhê nie, jy is dan sy kind en Hy het Jesus vir jou laat ly en sterf?
- Daar word of was gereeld vir jou vertel jy moet doen wat die wet (10 gebooie Eks 20) sê, maar jy kan nie daarby hou nie en voel veroordeel omdat jy dit nie hierdie wette kan nakom nie. Wat sê God egter vir jou oor Sy wet –
Gal 5:16-18 AOV Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie. Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie.
Hou op om op die wet te konsentreer, al wat jy moet doen is om na die Heilige Gees te luister wat jou waarsku deur die Woord en deur jou gewete wanneer jy op die verkeerde pad is.
1 Joh 1:8-9 sê ons vlees gaan steeds sonde doen, maar as ons dit besef en bely sal God ons vergewe –
1Jo 1:8-9 ANV As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.
Jy is vry in Jesus:
- God het jou lief ongeag wie jy is en wat jy gedoen het (Joh 3:16).
- As jy na Jesus toe kom sal Hy jou nie wegwys nie (Joh 6:37)
- Moenie dat mense geestelike laste (wette en gebruike) op jou lê, wat nie van God is nie.
Dit kom van die duiwel wat jou lewe wil moeilik maak, met die hoop dat jy van God sal wegbeweeg.
Jesus het ook die Skrifgeleerdes beskuldig dat hulle swaar laste op die mense geplaas het (Luk 11:46) en Jesus verklaar ook sy juk is lig (Mat 11:29-30).
- Jy is ‘n kind van God (Rom 8:14-16).
- God wil ’n verhouding met jou hê, daarom moet jy sy Woord lees onder die leiding van die Heilige Gees om Hom te leer ken (1 Joh 3:24 & Rom 12:2).
- Deur dit wat God vir jou deur Jesus gedoen het, verlang God dat jy Hom ook moet liefhê en dit is om sy opdragte na te kom (1 Joh 5:3).
- God se opdrag is om jou naaste lief te hê, dis ‘n aksie van ondersteun hulle met aandag, finansieel, hulpverlening, ens. maw help hulle waar jy kan in wat hulle nodig het. (1 Joh 3:23).
- Vergeet van sonde, die Heilige Gees sal jou waarsku indien jy op die verkeerde pad is en waar jy afgedwaal of verkeerd gedoen het, bely dit teenoor God en Hy sal jou vergewe.
- In Jesus het jy die wêreld oorwin en leef in daardie vryheid –
1Jo 5:4-5 AOV Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?
Die tweede deel gaan oor: Ontdek jou vryheid wat Jesus vir jou gegee het, mbt jou fisiese lewe wat insluit gesondheid, finansies, ens.
Gebed –
- Dankie Vader vir U onbeperkte liefde,
- Dankie vir Jesus wat vir ons sonde gesterf het,
- Dankie Vader dat ek weet dat ek U kind is,
- Vader waarsku my deur U Heilige Gees van verkeerde lering wat my vryheid sal steel en vanaf U sal laat wegdwaal,
- Maak ook asb my oë oop vir hulp wat U ander kinders benodig,
- Ek vra dit in die naam van Jesus Christus
Amen
