(A005) Redding vir altyd onbeperk of nie

Jy het Jesus as jou redder aangeneem, maar oor die tyd van die pad afgedwaal en sonde gedoen. Jy weet nie meer of jy nog gered is nie.

Die vraag kom baie op, ek glo en bely Jesus het vir my sonde gesterf en God het Hom weer uit die dood opgewek, so ek is gered, maar kan ek weer hierdie redding verloor deur dinge wat ek doen?

Kom ons werk deur die redding wat voorsien word deur God se genade wat ontvang word deur geloof:

  • God het Jesus aarde toegestuur om vir almal se sonde te sterf –

1Jo 2:2 AOV En Hy [Jesus Christus] is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.

  • Die wêreld is nie outomaties gered nie, daar is meer betrokke vir elkeen om gered te word. Die mens ontvang hierdie boodskap van redding wat die saad is en die Heilige Gees laat die saad ontkiem, maar die mens moet uiteindelik die besluit neem om te glo en te verklaar dat Jesus vir sy sonde gesterf het en weer deur God uit die dood opgewek is –

Rom 10:9-10 AOV As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.

  • Wanneer die mens hierdie aksie neem word sy gees nuutgemaak of weergebore en hy is nie meer verlore nie –

Joh 3:16 AOV Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Dit is egter net God en die betrokke persoon wat weet of hy ernstig was met die belydenis en werklik weergebore is.

  • Die mens se siel word nie verander met redding nie en die siel, wat die verstand, wil en emosies is, moet vernuwe word deur die Woord en dissipelskap –

Rom 12:2 AOV En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Indien die persoon nie die Woord begin lees en deur ander geleer word wat God se wil is nie, gaan hy slegs aangaan met sy lewe soos hy nog altyd gelewe het, hy gaan nie van beter weet nie.

Beteken dit nou die mens is volmaak na hy weergebore is?

Soos reeds gesê die mens se gees is nuutgemaak met weergeboorte en geseël deur die Heilige Gees –

Efs 1:13 AOV in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,

Die mens se gees is nuutgemaak en God se saad is in die mens se gees en die mens se gees kan nie meer sondig nie –

1Jo 3:9 AOV Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.

God sê egter die mens gaan steeds sondig solank hy hier op die aarde is –

1Jo 1:8 AOV As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

Dit beteken die siel gaan steeds sondig solank die mens op die aarde is, maar die gees kan nie sondig nie.

Die Woord sê verder vir ons Christus het eenmaal vir altyd vir die mens se sonde gesterf –

Heb 9:11-12 AOV Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.

Israel moes gereeld diere offers vir hulle sonde bring, maar Christus se offer vir die mens sonde was slegs eenmaal vir altyd nodig.

Die vraag kom nou op, is Christus se offer vir die mens se sonde net vir die sonde wat gedoen is tot en met die mens se weergeboorte of is dit ook vir die mens se sondes na weergeboorte?

Die mens solank hy op die aarde is sal nie volmaak wees nie, maar Christus se offer het klaar al die sonde weggeneem vir eens en altyd.

1Jo 1:8 AOV As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

Die probleem is egter wanneer die mens weer sonde doen maak hy homself weer oop vir invloed van die duiwel en kan dit lei tot aanval op die liggaam bv siekte en die dood van die liggaam hier op die aarde –

Jak 1:14-15 AOV Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.

God sê egter verder dat as die mens sy sonde aan Hom bely sal hy vergewe word en die invloed van die duiwel verbreek word –

1Jo 1: 9 AOV As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Nou kom ons weer by die vraag, kan ‘n wedergebore mens sy redding verloor deur sonde?

1 Joh 1:8 sê die mens is nie sondeloos na weergeboorte nie, sy siel en liggaam neig steeds na sonde maar hy sal sy redding behou.

Voorbeelde uit die Skrif is:

  • 1Ko 5:3-5 AOV ….. om hom wat so iets gedoen het, in die Naam van onse Here Jesus Christus, as julle vergader het en my gees saam met die krag van onse Here Jesus Christusom so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus.

Hier gaan dit oor ‘n man wat saam met sy stiefma as man en vrou saamgeleef het en uit die gemeente verban moes word daaroor om nie die gemeente te beïnvloed nie. Die belangrike deel is verder dat sy liggaam liewer moet opgeoffer word sodat sy gees gered sal wees. Hierdie man se sonde was nie genoeg om sy redding te verloor nie.

  • 1Ko 3:10-15 AOV Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels— elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Hier word verduidelik dat alles wat die mens doen, sleg of goed, na weergeboorte gaan hy oor verantwoording moet doen voor Christus en gaan hy daar volgens beloon word. Al was sy optrede baie sleg sal hy steeds gered wees.

Met weergeboorte kom die Heilige Gees in die mens woon en Hy gaan hom lei deur sy gewete, om te weet wat is reg en wat is verkeerd. Dit hang egter van die mens af of hy gaan luister na sy gewete of nie. Indien hy aangaan met sy lewe soos voor weergeboorte kan daar ‘n vraagteken wees of hy regtig gered is of nie.

Dit is egter ook moontlik om God te verwerp na die mens weergebore is –

Heb 6:4-6 AOV Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.

In hierdie geval is die mens verlore en kan nie weer gered word nie.

Ter afsluiting –

  • God het elkeen lief en vergewe almal se sonde (2 Kor 5:18-19), maar elke persoon moet self besluit uit sy vrye wil of hy God se genade gaan aanvaar of nie.
  • Netso moet elkeen self besluit of hy met God en Jesus ‘n verhouding gaan bou of slegs voortploeter met sy lewe (Rom 12:2).
  • ‘n Mens kan nie net sommer sy redding verloor nie, al maak hy baie foute want Jesus doen vir ons voorspraak by God (1 Joh 2:1) en ons weergebore gees is sonder sonde (1 Joh 3:9).
  • Wanneer ‘n mens nie die sonde gaan teenstaan nie en teenoor God bely nie (1 Joh 1:9), gaan die sonde hom verhard wat kan lei na ‘n harde en moeilike lewe hier op die aarde (Rom 6:16) en selfs tot ‘n vlak om God te verwerp (Heb 6:4-6).
  • Solank die mens se gewete hom aanval is hy gered, want dit is God wat hom deur die Heilige Gees waarsku (1 Joh 3:19-22 & 1 Tim 1:18-19), maar wanneer hy God verwerp, sal daar nie meer ‘n gewete wees wat hom waarsku nie (Tit 1:15).
  • Dit kom daarop neer, die mens moet self besluit om redding te aanvaar en self weer besluit om van hierdie redding afstand toe doen met die opvolgende besluit om God te verwerp.

Gebed –

  • Dankie Vader vir U onbeperkte liefde vir ons,
  • Dankie vir Jesus wat vir ons sonde gesterf het,
  • Dankie dat ons nou toegang tot U het,
  • Dankie dat U nie toelaat dat ons U maklik weer kan verloor nie,
  • Dankie vir U woord wat ons lei in die pad wat U wil hê ons moet loop hier op aarde
  • Amen