COVID en daarna

Net na ons die Dissipel-evangelisasie-kursus in Maart 2020 voltooi het, verskyn COVID en met die beperkings het niks gebeur nie.

Ons het gedurende hierdie tydperk verskeie boodskappe op WhatsApp-groepe en Facebook geplaas met die boodskap, stel jou vertroue in God en nie in die wêreld nie, vanweë al die negatiwiteit wat op alle sosiale media was.

Julie 2021 begin ons help in die kerkkantoor, 2 dae per week. Ons hoof pligte is algemene administrasie, boekhouding en toesig oor die skoonmakers.

Die pligte het mettertyd toegeneem, en ons is baie besig wanneer ons in die kantoor is.

Ons het ook ‘n paar keer gepreek toe die pastoor siek was en ons is nou deel van die groep wat boodskappe oor offergawes doen en bediening van nagmaal Sondae tydens die dienste.

Aan die begin van 2022 het een van die lidmate begin met uitreiking na ‘n plakkerskamp op ‘n plaas hier naby. Die inwoners is meestal Mosambiekers wat in die omgewing los werk doen. Ons het ook betrokke geraak met prediking en Oktober is 33 van hulle gedoop. Dit was ‘n hoogtepunt en die hoofman by hierdie plakkerskamp het ook vertel dat van daar met die uitreiking begin is die verhoudinge tussen die mense en hulle optrede verbeter het. Daar is minder onderlinge struwelinge en die mense ondersteun mekaar. Waar Jesus en Sy liefde aanvaar word, is daar vrede.

Tot nou toe het ons nog nie verdere rigting van God gekry oor ons pad vorentoe nie. Ons glo wat ons nou mee besig is, is wat God van ons verwag in die seisoen.