Wie se Stem Hoor ek?

Ons hoor verskeie stemme en soms is dit moeilik om te onderskei of dit my eie stem, God se stem of die duiwel se stem is wat ons hoor.

God kommunikeer nie net deur Sy stem met ons nie, dit gebeur min. Meestal is dit deur Sy woord, deur drome of visies of ’n ervaring in jou gees, ’n knop op jou maag of ’n ongemaklike gevoel of ’n gevoel van; dis goed, of reg. Ons sê ook ‘ek sien net rooi ligte toe ek dit hoor’. Dis verskillende maniere wat God en Heilige Gees met ons praat. Die duiwel kry ook sy voet in die deur en daarom moet ons weet hoe om te onderskei tussen die stemme wat ons hoor. Die karakter is ’n sterk aanduiding van wie aan die woord is.

Hoe weet ek dis God wat praat?

  • God se stem is getrou aan Sy karakter; liefdevol, opreg, vriendelik, opbouend, kalm en rustig. Gal5:22-23; 1Joh4:9-10&19; Rom8:31.
  • God se stem bring vrede en sekerheid. (nie twyfel of verwarring of uitputting nie). Joh14:27; 1Pet5:7.
  • God se stem is getrou aan Sy Woord. (en sal nie Sy Woord ongeldig maak nie.) Spr30:5; 2Tim3:16.
  • God se stem sal eenheid bevorder. (nie verdeeldheid of skeiding veroorsaak nie.) Ef4:1-3 en 11-13.
  • God se stem bring korreksie/verandering, aanvaarding en oortuiging. (dit kla jou nie aan nie, laat jou nie skuldig voel nie, selfs wanneer dit jou korrigeer.)Kol1:8-9; 1Kor10:13.
  • God se stem bou op en gee rigting en versterk. (dit breek nie af nie en maak nie moedeloos nie) Kol3:16

Jak 3:17  ‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg.; ANV

Fil 4:7  ‘En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.’ ANV

Wanneer is dit my eie stem?

  • My eie stem sal my saak bevorder, vb. ‘ek moes gewen het, ek het die hardste gewerk’.
  • Neem nie ander in ag neem nie, is onbedagsaam.
  • Eien die beste toe vir jouself, vb. neem die grootste stuk koek vir self, is selfsugtig, deel nie, is nie die minste nie.
  • Dis op myself gefokus; ek, my en ekself of myself. Bevoordeel net eie belange.
  • Sal self bevorder vb. ‘Kyk hoe oulik of goed is ek’.
  • Neem nie verantwoordelikheid nie, sal eerder iemand blameer.

Luister as jy oorvertel of in gesprek is, na wat jy hoor jyself sê.

Is dit: ‘ek wil’, ‘ek sal’, ‘my’, ‘myne’, ‘dis nie wat ek wil hê nie!’ ‘Dit maak my kwaad’ en so voorts.

Dikwels klink die gesprek soos ’n twee of drie jarige se besitlikheid oor sy speelgoed.

1Jn 2:1 ‘Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.'(AOV)

Wanneer is dit die vyand se stem?

  • Die vyand se stem sal sonde, vrees, minderwaardigheid, kommer, agterdog, woede, selfsug en rebellie bevorder.
  • Die stem is krities, veroordelend en kla jou aan of iemand anders en laat jou hopeloos en verlore voel, vb. jy het alweer alles verkeerd, jy sal dit nooit reg kry nie, jy moes opgelet het, jy is te dom.
  • Die stem laat jou emosies van vrees, rusteloosheid, agterdog en skuldgevoelens ervaar, vb. Sê nou net iets gebeur, jy weet hy is nie eerlik nie, doen iets vir iemand uit skuldgevoelens (dit lei tot werke en uitputting) ens.
  • Sal sonde aanmoedig, bv. ongehoorsaamheid, niemand sal weet nie, opstandigheid of rebellie.
  • Dit sal jou aanspoor om uit te stel, vb. Moet nie nou bid of getuig nie, later sal daar baie tyd wees.
  • Aankla: jy het dit alweer gemis, jy moes dit gister al gedoen het, ens.
  • ’n Dringend, haastige of drywende gevoel, dit moet nou gebeur. (dis nie die vrede van God nie).

Sy taktiek het nog nie verander nie, dis hoe hy Eva mislei het, hoe hy Jesus probeer versoek het en jou aanval en mislei met halwe waarhede en leuens.

Afsluiting

Wees waaksaam, neem elke gedagte gevange, besef wat jy dink en bring elke gedagte in lyn met God se Woord. God het beter planne vir jou, jy kan dit weerstaan, moet nie afdaal na die vyand se vlak nie. Staan vas in die Woord van God.

Gal 5:1 ‘Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie’. AOV God is goed, getrou, opreg en vir jou! Hy het jou lief en wil vir jou net die beste hê. Hy is nie daarop uit om jou te breek of skade te laat ly nie. Joh3:16; Joh10:10; Rom8:31.