Spreuke
Betekenis: Kort gesegde om Goddelike wysheid en moraliteit te leer.
Skrywer: Grootste deel is deur Salomo geskryf of saamgestel en Agur en Lemuel het van die latere dele geskryf.
Doel: Om mense te leer om ‘n lewe te leef wat getuig van moraliteit, wysheid, dissipline, regverdigheid en verstandigheid. Anders gestel, om ‘n lewe te lei wat goed is vir jou en ander, en God se goedkeuring sal hê.
Tema:
- Wysheid – Daar is 2 soorte mense; die wat dwaas, hardkoppig en sleg is en niks met God te doen wil hê nie en die wat wys is, soek God en is lief vir Hom. God gee wysheid aan die wat Hom soek en lei hulle om goeie besluite te neem.
- Verhoudings – Spreuke gee riglyne hoe om verhoudings te ontwikkel en vol te hou. Elke verhouding het liefde (Goddelik), toewyding en morele standaarde nodig om goed te ontwikkel en volgehou te word.
- Spraak – Wat ons sê en hoe ons dit sê, maak baie van ons bekend. Wat ons sê is belangrik (Spr18:21) en beïnvloed meer as net onsself, laat dit dus mooi en goed wees.
- Werk – Ons is verantwoordelik om ons werk deeglik en met toewyding te doen. (Kol3:23) Werk doelgerig, nie laks of net omdat dit ‘n opdrag is nie. Doen dit tot God se eer.
- Sukses – Alles wat ons is of het kom van God af. ‘n Verhouding met God en gehoorsaamheid, bring sukses op alle vlakke van ons lewens.
Inhoud:
A. Wysheid vir Jongmense (Spreuke1:1-9:18)
B. Wysheid vir Alle Mense (Spreuke10:1-24:34)
C. Wysheid vir Leiers (Spreuke25:1-31:31)
Gehoor: Die mense van Israel.
Tydperk: Die boek is in Salomo se tyd begin, 970-931voor Christus. Die voltooide boek, waarskynlik eers teen 400 tot 350 voor Christus.
