Hoe om die Bybel te lees en te verstaan

Jy mag dink, dis ‘n ‘stupid’ stelling (onnosel), mens lees mos met jou oë en verstand, woord vir woord. Ja dis reg, maar as mens sommer net lees, omdat lees lees is, gaan jy ‘n paar goed mis. Ons lees die Bybel om meer van God, Jesus en Heilige Gees te leer. Wanneer ons iemand wil leer ken, wil ons meer en meer van hulle weet, want dis hoe ons ‘n verhouding bou.

Probeer om met elke gedeelte wat jy lees die volgende vrae te vra;

  • Wat sê die gedeelte van God, Jesus en Heilige Gees?;
  • Wat sê dit in die situasie of omstandighede van die tyd?;
  • Wat sê dit vir jou vandag?

Nog ‘n manier is om Heilige Gees te vra om goed vir jou uit te lig. Wanneer jy lees let op vir goed wat uitstaan, ‘n gedeelte of woord wat uitspring vir jou (dit lyk of die letters in vet skrif geskryf is of dat dit regtig uitspring om jou aandag te kry). Dis nie jou verbeelding nie, dis Heilige Gees wat iets vir jou uitlig, openbaar.

Kyk vir woorde of sinsnede(gedeelte van ‘n sin) wat herhaal word. Let op vir werkwoorde of enige so iets wat vir jou uitstaan of jou aandag trek en dink daaroor, vra vrae daaroor.

‘n Paar leesprogramme waarna jy kan kyk.


Inligting oor die Bybel en die indeling van die Bybel

Die woord Bybel kom van die oorspronklike naam van die papirus of byblos-riet waarmee boekrolle gemaak is en die woord boekrol is daarvan afgelei.

Die boek van die Bybel is oor ‘n tydperk van 1500 jaar geskryf, in 3 verskillende tale (Hebreeus, Aremees en Grieks) deur 40 verskillende skrywers. Onder die skrywers was; konings, herders, ‘n visserman, ‘n dokter, ‘n fariseër en vervolger van Christene, militêre leiers, ‘n werker, politieke leier en selfs ‘n belasting-gaarder.

Vir ‘n Boek om vir soveel jare te oorleef en bewaar te bly is ‘n wonderwerk van God!

Ou Testament Indeling:

  • Pentateug-boeke: is die eerste 5 boeke van die Bybel en is almal deur Moses geskryf.
  • Geskiedkundige-boeke: dit is die volgende 12 boeke, van Josua – Ester.
  • Digterlike-boeke: is die 5 volgende boeke van Job – Spreuke.
  • Groot Profetiese-boeke: is die volgende 5 boeke van Jesaja – Daniël ( Hulle word ‘groot’ genoem omdat hulle boeke langer is as die ander profete se boeke.)
  • Klein Profetiese-boeke: Dit is die laaste 12 boek van die Ou Testament, van Hoséa – Maleági.

Nuwe Testament Indeling:

  • Evangelies of Goeie Nuus (Gospel): Matteus – Johannes, en bied die grondslag om die res van die Nuwe Testament te verstaan.
  • Geskiedenis: Handeling gee vir ons die geskiedenis van die kerk nadat Jesus opgevaar het na Sy Vader.
  • Sending briewe:
    • Paulus se Sending Briewe aan die gemeentes; Romeine -Filemon.
    • Algemene Sending Briewe; Hebreërs – Juda.
  • Profetiese boek: Openbaring

Die Nuwe Testament vertel ons van Jesus se lewe op aarde en Sy werk op die kruis vir ons verlossing. Die Nuwe Testament leer ons van God se liefde en Jesus se opoffering vir ons en hoe om prakties ons geloof uit te leef.


Beginsels om die Bybel te verstaan.

  1. Ingesteldheid of gesindheid

Ons ingesteldheid of gesindheid (houding) waarmee ons die Bybel lees is belangrik om dit wat ons lees werklik te verstaan.

Jes 57:15 ‘So sê die hoë, verhewe Een wat vir altyd bestaan, wie se Naam die Heilige is: “Ek woon in ‘n hoë, heilige plek, maar ook saam met die mens wat berouvol en nederig is. Ek gee nuwe krag aan dié wat nederig is en aan dié wat verdruk word, en nuwe krag aan dié wat berouvol is.’ (NLV)

Isa 57:15 ‘For thus says the High and Lofty One Who inhabits eternity, whose name is Holy: “I dwell in the high and holy place, With him who has a contrite and humble spirit, To revive the spirit of the humble, And to revive the heart of the contrite ones.’ (NKJV)

Spr 9:10 ‘Wysheid begin daar waar daar ontsag vir die Here is. Hy wat die Heilige God ken, het werklik insig.’ (NLV)

Pro 9:10 “The fear of the LORD is the beginning of wisdom, And the knowledge of the Holy One is understanding.’ (NKJV)

Hierdie twee verse praat van ons houding teenoor God en Sy Woord. Dit vra dat ons vrees (respek, eer, ontsag) vir God, nederig en berouvol moet wees om insig te kry en daardeur in wysheid en kennis te groei.

2. Gehoorsaamheid:

Dit is baie belangrikom na God en Sy woord te luister. Ongehoorsaamheid aan God is waar sonde begin het en wat die val van die hele mensdom veroorsaak het. Gen3.

Volgens die woord van God word ongehoorsaamheid met dwaasheid (nie slim nie) vergelyk. `

Mat 7:26 ‘En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het.’ (ANV)

Die Bybel sê ook dat gehoorsaamheid jou wyser maak!

Psa 119:98 U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig.

Psa 119:104 Uit u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad.

Kyk net wat sê Spreuke oor gehoorsaamheid, dit gee jou wysheid en gesondheid! Dis lewe en genesing wanneer ons luister en dit in ons harte bewaar. Dis die wyse raad van ‘n pa.

Spr 4:20-23 ‘My seun, luister na wat ek sê, neig jou oor tot my woorde, 21 laat hulle nie wyk uit jou oë nie, bewaar hulle binne-in jou hart. 22 Want hulle is die lewe vir die wat hulle vind, en ‘n genesing vir hulle hele liggaam. 23 Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.’ (AOV) (Hart is jou gees en jou siel (denke,wil emosie))

Jesus het Sy dissipels uitgestuur en die volgende vir hulle gesê:

Luk 10:16 Wie na julle luister, luister na My; en wie julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.

Wanneer ons gehoorsaamheid verstaan soos God dit bedoel, sal dit die Woord vir ons oop maak en sal die beloftes wat daaraan verbonde is ook ons deel word.