Waterdoop
Saamgestel deur Alta vd Merwe
Water se hoof doel is om te verfris en skoon te maak.
En die Woord sê dat, ‘Die Woord ons skoon was’; dis ons denke en ons word gewas met die bloed van Jesus van ons sondes.
Jesus het ook gesê dat Hy die Lewende Water is.
Doop kom van baptiso, dis ʼn Griekse woord en beteken – dompel, toe onder, – baptise; means plunge, immerse.
Die oorspronklike woord gebruik vir doop beteken nie besprinkeling nie. Ons het oor jare dit deel gemaak van doop.
Wat is die rede vir doop? En wanneer word dit gedoen?
Om gedoop te word moet ‘n mens in Jesus glo. In Sy lyding en sterwe en opstanding en dit wat Hy vir ons op die kruis gedoen het, moet ons glo. Met ander woorde jy moet Jesus as jou verlosser aanvaar en Hom in jou lewe in nooi. Doop is ‘n natuurlike uitvloeisel, daad, van jou geloof in Christus. Om te glo is ‘n besluit wat jy moet neem. Babas kan nie besluite neem nie en ook nie uitspreek of verklaar wat hulle glo nie. Jesus het beveel dat gelowiges gedoop moet word. Doop is ‘n opdrag van Jesus.
Mat 28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
Is doop ‘n voorwaarde vir redding?
Nee, doop is ‘n erkenning, verklarende aksie dat jy glo. Wedergeboorte vind plaas voordat jy gedoop word. Doop is ‘n aksie van jou geloof – ‘n verklaring van jou geloof. Geloof in Jesus bring genade en daarom word jou sondes vergewe, want Jesus het klaar die prys betaal, en dan volg die doop uit gehoorsaamheid.
Wat is Waterdoop?
Rom 6:3-10 Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. 5 Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; 6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. 7 Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. 8 As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, 9 omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie. 10 Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God.
Jy het jou lewe vir Jesus gegee. Jou gees is nou nuut. Die doop is die einde van jou ou lewe en die vestiging van jou nuwe lewe.
(Sien die prentjie van doop in jou verbeelding; Jy gaan onder die water in, die sonde gaan dood en jy staan op uit die water skoon gewas van die sonde, jy is vry van sonde se houvas op jou en jy leef in Christus.)
Rom6:3-7 Ons is gedoop in Christus se dood.
Rom6:4 Ons het saam met Hom opgestaan uit die dood.
Rom6:6,7 Ons dien nie meer die sonde nie. Ons is vry van sonde.
Rom6:4,8 Ons leef in Christus.
Rom6:9,10 Dood heers nie meer nie, maar lewe.
Ons is met Christus verenig, ons is deel van Christus:
Gal 3:27 want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword.(ANV)
Kol 3:3 Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.
Die ou lewe is afgelê, ou gewoontes is agtergelaat.
Die nuwe lewe in Christus is opgeneem of aangetrek.
1Pe 3:21 waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus
Paulus se doop
Na Paulus se Damaskus ondervinding, is Ananías na hom toe gestuur en hy het hom bygestaan en hy het weer gesien, en toe sê Ananías vir hom:
Hand 22:16 En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.
En Paulus het ‘n kragtige bediening gehad, wat ons nog steeds beïnvloed en krag gee.
Jesus se doop
Mat 3:13-17 Toe het Jesus van Galiléa na die Jordaan, na Johannes gekom om deur hom gedoop te word. 14 Maar Johannes het Hom ernstig teëgegaan en gesê: Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe? 15 Maar Jesus het geantwoord en vir hom gesê: Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul. Daarna het hy Hom toegelaat. 16 En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom. 17 En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.
Waarom is Jesus gedoop?
Hy was nie sondig nie!
Jesus het ‘n moeilike opdrag aanvaar waarop Sy Vader Hom gestuur het. Sy doop was ‘n sigbare aanduiding van Sy radikale toewyding, van sy diensbaarheid. Jesus se gehoorsaamheid, Sy bereidheid om onderdanig te wees en om Sy lewe neer te lê vir die wil van Sy Vader, is waarom Hy gedoop is. Johannes het dit bevraagteken en Jesus se antwoord sien ons in:
Mat 3:15 Maar Jesus het geantwoord en vir hom gesê: Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul. Daarna het hy Hom toegelaat.
Jesus het die regte ding gedoen en God se seëning, is ‘n bewys dat God tevrede was met Sy Seun, Jesus.
Agter elke gelowige se doop, is die doop van Jesus. Gehoorsaamheid is die sleutel! Hy is ons rede om gedoop te word.
Jesus se doop! was Sy vrystelling in Sy bediening, en met ons doop vind ons, ons vrystelling in die opdrag van die kerk. Mat28:19
Opsomming:
- Doop is ‘n opdrag van Jesus wanneer ons Hom aanneem as ons verlosser. Mat 28:19
- Ons moet self die besluit neem, niemand kan dit namens ons doen nie.
- Doop is die agterlaat van die sondige natuur.
- Doop is die begin van jou nuwe lewe saam met Jesus.
- Daar is seëninge wat saam met die doop kom.
* Kopiereg voorbehou inligting mag gebruik word soos nodig, maar mag nie in enige vorm verkoop word nie.*
