Vaste Verbindtenis
Saamgestel deur Alta vd Merwe
God is toegewyd aan ons. Hy hetnet na die sondeval belowe om vir ons ‘n verlosser te gee. Jesus.
Gen 3:15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.
Daarna het God ‘n verbond met Abraham en sy nageslag gemaak, Gen12. Die mens moes net gehoorsaam wees en God het alles verder op Hom geneem en al Sy beloftes getrou nagekom. Dus ons kan sien dat God toegewy is aan ons.
Wat beteken ‘n vaste verbintenis of toewyding? In Engels is dit ‘commitment’. Dis moeilik om in Afrikaans ‘n woord te kry wat reg verstaan word.
Die woordeboeke sê: ‘commitment’
seriousness – erns; sincerity – opregtheid; allegiance – trou; loyalty – lojaliteit; dedication – toewyding; entity – eenheid; engagement – verbindtenis; involvement – betrokke; oath – eed; swearing – sweer (eed); assurance – versekering, gerusstelling; pledge – pand, belofte; guarantee – waarborg; security – sekuriteit;
As ons dan al hierdie woorde moet saamvat om ‘commitment’ te omskryf sal dit:
Toewyding – dedication, oorgawe – surrender, vertroue en getrou/ toevertrou – faith +faithful – trust, vaste verbintenis – commitment.
Kom ons kyk wat Jesus vir die skare wat Hom gevolg het sê oor toewyding:
Luk 14:25-26 En groot menigtes het saam met Hom gegaan, en Hy het Hom omgedraai en vir hulle gesê: 26 As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. (AOV)
Dis baie kras gestel, Jesus het die mense geskok met die stelling.
Wat het Jesus bedoel met die woorde?
Beteken dit ons moet almal haat?
Dis dan in kontras met wat Jesus deurentyd gesê het!
Ons moet mekaar tog liefhê, die Bybel sê dit dan op soveel plekke.
Jesus het gesê in Mat22:37-40 en dan lees ek
Mar 12:33 en om Hom lief te hê uit die hele hart en uit die hele verstand en uit die hele siel en uit die hele krag, en om die naaste lief te hê soos jouself, is meer as al die brandoffers en die slagoffers. (AOV)
Sê Mat6:33 wat Jesus bedoel het?
Mat 6:33 Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
Jesus vra toewyding van ons, die eerste plek in ons lewens, soveel so, dat alles in ons lewens, agter Jesus moet plek in neem en ver genoeg na Jesus, sodat dit nie sal kan kompeteer vir Jesus se eerste plek nie. Jesus wil dat ons Hom die belangrikste sal maak in ons lewens en dan na Hom, kom al die ander mense en dinge.
Mat 6:21 want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.
Wat die belangrikste is in ons lewens is, is waar ons fokus is, en daarom is dit waar ons harte is. Jesus wil ons alles hê, Hy soek ons volle aandag en toewyding.
God se rangorde in verhoudings is:
Drie-eenheid (God, Jesus, HG) en daar na ons eggenoot (lewensmaat) , dan ons kinders, dan ons werk, dan kleinkinders, dan ouers, daarna al die ander dinge.
Gen2:7-23; Ef5:15-33 Mat6:21
In ons finansies moet God ook eerste wees, so ook in ons huwelike en in elke area van ons lewens. Dis totale oorgawe (surrender) en vertroue (trust) in elke area van ons lewens.
Ons moet soos Joshua kan sê
Jos 24:15 ‘… ek en my huis, ons sal die HERE dien.’
Hoe doen ons dit?
Kom ons kyk na ‘n stukkie van Abraham se geskiedenis.
Heb 11:17-19 Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer, 18 aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word—want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek; 19 daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang.
Abraham moes vir Isak gaan offer, hy het geensins getwyfel, dat God nie ‘n ander plan het nie!
Deur wat was Abraham in staat om Isak te offer? Net deur geloof ! Hy het gestaan op God se belofte dat sy nageslag uit Isak sou kom, hy het geweet en geglo dat God Sy beloftes sal nakom. Hy het God geken en geweet uit sy verhouding met God, dat hy Hom kan vertrou en Hom met toewyding gevolg, selfs as hy nie verstaan het nie.
Vis storie.
Daar was ‘n wetenskaplike wat ‘n vis wou teël wat buite die water kan leef. Hy het jare aan die projek spandeer en toe hy dit eindelik reg kry, was hy baie opgewonde en loop toe na ‘n kollega toe met die vis. Hy loop oor ‘n bruggie en struikel en daar trek die vis deur die lug en beland in ‘n dammetjie. Die vis weet nie wat hom getref het nie, hy ken nie water nie, maar toe hy asem haal in die water, kom hy agter dis waar hy hoort, hy kan beter asemhaal, hy kan nou ook makliker beweeg, hy swem. Eindelik is hy in die regte omgewing!
Die water is die regte omgewing waar hy hoort.
Waaraan is die vis nou toegeweid?
Aan water, hy is uitverkoop aan die water, dis waar hy hoort! Water is die regte omgewing of verhouding vir hom.
Wat is die regte omgewing of verhouding vir jou? Waar hoort jy?
God is ons regte omgewing, waar ons hoort. Hy het ons geskape!
Is jy uitverkoop aan God?
Die wêreld en dit wat vir ons voorgehou word is vals, dis soos die vis wat sonder water probeer leef het, want dit was wat aan hom voorgehou is.
Hand 17:27 God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, (ANV)
Ons was gemaak, geskape om ‘n verhouding met God te hê. Deur ‘n verhouding met God, leer ons Hom ken en vertrou, sodat ons soos Abraham kan vertrou. Om te kan leef soos Paulus en die apostels geleef het, naby God, deur dik en dun.
Hierdie verhouding met God en die toewyding is sonder moeite, as ons dit vanuit ons ware kennis van God en in verhouding met God doen. Dit kom natuurlik, want ons is geskape met ‘n hunkering na ons skepper. Dis moeite vry, dis ‘effortless’.
As ons uitverkoop is aan God, is die verhouding nie werk of moeite nie, dit kom natuurlik.
Kom ons vra onsself;
Dit wat ons as belangrik beskou in die lewe, dit wat al ons aandag opeis, dit waaraan ons uitverkoop is, gaan dit nog saak maak as ons dood is?
Met ander woorde; het dit waarmee ons besig is, ewigheidswaarde?
* Kopiereg voorbehou inligting mag gebruik word soos nodig, maar mag nie in enige vorm verkoop word nie.*
