Verhouding met God

Saamgestel deur Alta vd Merwe

Julle sal saam stem, hoe beter jy iemand ken, hoe beter is julle verhouding en  hoe moeiliker sal jy ‘n leuen  oor die persoon glo.

Wat sê julle is nodig om ‘n verhouding te laat werk? Enige verhouding.

Verstaan, waardering, kennis, gemaklik wees, vertroue, liefde en tyd saam doen.

‘n Verhouding is dus die vrug of gevolg van wat jy weet van iemand, so jy het kennis van die persoon.

Kom ons kyk wat het in Gen3:1-5 gebeur

Gen 3:1 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?

Die duiwel toets ons kennis sodat hy kan weet hoe om ons te mislei

Gen 3:2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet 3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe.

God het niks gesê van aanraak nie, maar die duiwel sien ‘n gaping/gebrek in Eva se kennis van God – dis ‘n ope uitnodiging vir hom om in te kom.

Gen 3:4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie;

Sy woorde veroorsaak twyfel (doubt) en twyfel is ‘n struikelblok, dit laat jou val – omdat jy nie met sekerheid weet nie en nie weet hoe om dit onmiddelik reg te stel nie.

Die Bybel sê nie hoeveel tyd Adam en Eva saam met God gehad het voor die sondeval nie, maar sy het nie ‘n volledige kennis van God gehad nie, daarom het sy gou getwyfel.

Gen 3:5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.

Die duiwel het voordeel getrek uit die situasie, hy het ‘n opening in die deur gesien en met goed gekose subtiele woorde (subtle words suggestions)  laat blyk dat God nie wil hê dat hulle soos Hy moet wees nie, dat God dinge van hulle weerhou.

Die waarheid is egter dat hulle reeds alles gekry het wat God vir hulle gehad het.

Die duiwel het ‘n begeerte (created lust) geskep vir dit wat hulle alreeds gehad het.

Hy het twyfel (doubt) gesaai teen die karakter (nature) van God en God ‘n leunaar gemaak.

Ons sien dus hoe belangrik dit is om die een te ken met wie jy in verhouding wil wees, twyfel verbreek vertroue en dit veroorsaak ‘n breek in verhoudings net soos in Adam en God se verhouding gebeur het.

Hoe bou ons ‘n verhouding?

Soos ons in die begin gesê: spandeer tyd saam, leer mekaar ken, deur gesprekke en saam doen. Verstaan mekaar en dan bring kennis waardeering, vertroue, gemak, daarmee saam  kom liefde. Maar dit neem tyd, dit gebeur nie oornag nie.

Hoe sal ons ‘n verhouding met God, Jesus en Heilige Gees bou?

Op presies dieselfde manier; spandeer tyd in God se Woord, deur die Woord te lees, daaroor te dink, dit te bestudeer, deur met God te praat deur gebed en in geestelike-tale (tongues) te praat en te luister as God praat. Hy praat deur Sy Woord, drome, visies, deur mense en om Hom te hoor praat.

God het dit vir ons makliker gemaak deur Jesus vir ons te gee en so ons te her-enig (reconsile) met Hom, Hy wil ons nie oordeel nie, Hy wil nie ons oortredeinge teen ons hou nie.

Rom5:17 Die oortreding van hierdie een mens, Adam, het veroorsaak dat die dood oor ons regeer, maar deur die een, Jesus Christus, word vir ons nog veel meer gegee: Almal wat God se oorvloedige genade-geskenk van vryspraak ontvang, sal koninklik oor die sonde en die dood triomfeer. (NLV)

God vra nie volmaaktheid nie, net ‘n ja en dankie Here.

‘n Goed ontwikkelde verhouding met God neem alle angs weg en ons het dan ‘n goddelike vrees / respek vir God wat ons versterk.

Dis positief, hierdie vrees is nie negatief nie.

Dis nie ‘n bewende angs nie. Nee, daardie vrees is van die duiwel, dis ongesond.

Vrees is marteling – ons het vrees vir mense, vir hoogtes, spinnekoppe, vliegtuie, hospitale, kos soorte …ens.     ….Fobies lê ons aan bande, dit beperk ons, hou ons terug. Dis van die duiwel.

Fear = false evidence appearing real

Maar God is liefde en wil ‘n verhouding met Sy kinders hê, ons is volmaak in Sy liefde.

1Joh 4:18 Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.

* Kopiereg voorbehou inligting mag gebruik word soos nodig, maar mag nie in enige vorm verkoop word nie.*