Die Huwelik
Saamgestel deur Alta vd Merwe
Die oumense het gesê:
‘Trou is nie perde koop nie’,
(wat beteken dis ‘n moeilike besluit).
Trou is verseker die tweede belangrikste besluit van ‘n mens se lewe, naas om Jesus aan te neem.
Hoekom trou mense, wat is hulle redes?
- Dink ons regtig oor die dinge of doen ons net?
- Trou jy want jy droom oor ‘n prins – prinses troue?
- Trou jy om uit die huis te kom?
- Is die huislike omstandighede moeilik?
- Trou jy omdat almal dit doen of jou ouers dit verwag?
- Trou jy om jou seksdrange te wettige?
- Trou jy om heel en goed te voel? Niks wêrelds, gaan vir jou heel of goed laat voel nie. Geestelik gaan dit definitief nie werk nie.
- Trou julle om ‘n gewettigde kind te hê, want die meisie is swanger?
- Trou julle, want julle is lief vir mekaar? Almal het goeie voornemens, maar soos die lewe gebeur en ‘n probleem steek kop uit en so verdwyn die liefde. en dan haat julle mekaar.
- Wat is julle persepsie van liefde?
- Wat is jou verwagting van ‘n huwelik?
Waar kom die huwelik vandaan?
Toe God, Adam geskape het was dit ‘n perfekte verhouding en samesyn (fellowship) met God.
God het Adam opdragte gegee van wat hy op die aarde moes doen.
Toe sien God dat Adam alleen is en vir die eerste maal sê God, dat iets nie goed is in Sy skepping nie.
Gen 2:18 Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas. (AOV)
Toe maak God die vrou.
Gen 2:22 En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ‘n vrou en bring haar na die mens. (AOV)
En in vers 24 stel God die verbond, kontrak of huweliksverbintenis in tussen die man en vrou.
Gen 2:24 Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees. (AOV)
Die huwelik, soos ons dit vandag noem, is ‘n instelling van God van die begin van die skepping af.
Wat is die Doel van ‘n huwelik? (purpose)
Wanneer ons nie die doel van iets verstaan nie, misbruik ons dit en ly die gevolge.
Dis soos om ‘n mes te gebruik om ‘n skroef los te draai, jy buig gewoonlik die mes, want dis nie waarvoor ‘n mes ontwerp is nie.
Of die doel gaan verlore en die ontwerp of konsep verdwyn.
Wanneer ons nie dink oor en verstaan wat die doel van die huwelik is nie, sal ons net na-aap en doen soos ons ander sien doen en die waarde sal by ons verby gaan.
Spr 24:3 Daar is verstand (wysheid) nodig om ‘n huis te bou, insig (verstand) om sy fondamente te lê, 4 kennis om sy kamers te vul met allerhande kosbare en mooi (lieflike) goed. 5 Dit is die wyse man wat sterk is, die een wat kennis het, wat werklik mag (krag)het. (ANV)
Sien jou lewe as die huis wat jy bou.
A. Natuurlike Doel van die Huwelik:
Baie mense glo daar is net een regte persoon vir elke mens. Daar is ‘n probleem met so ‘n persepsie.
Wat word dan van ons vrye wil en keuse? Wat gebeur nou as Sannie vir Piet bedoel was maar met Johan trou? Waar gaan Piet nou ‘n maat kry? En trou almal dan nou van hier af met die verkeerde maat? Wie mis nou vir wie waar?
a)Samesyn (fellowship)
Gen 2:18 Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas. (AOV)
God gee iemand, (nie net een spesifieke persoon nie) waaarby ons kan pas en ons sal help – sodat ons ‘n goeie span saam sal maak – iemand wat saam met jou visie sal hê en saam met jou ondervindinge kan deel – jou beste vriend sal wees, iemand met wie jy die pad kan stap.
b) Getrouheid (faithfulness) Gen 2:24 Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.
Hierdie gedeelte is geweldig ryk en hou soveel in.
Dit praat van getrouheid en prioriteite en een word:
Verlaat die ouers en kleef aan mekaar, is die opdrag. Dit geld beide partye al praat die Skrifgedeelte net van die man. Om getrou te wees beteken, jy laat niks tussen jou en jou eggenoot, huweliksmaat, kom nie. Dit beteken ook verlaat jul vriende en ontwikkel vriendskappe waar die paartjie saam by aansluiting vind. Enkellopende en veral teenoorgestelde geslag vriende word agter gelaat of
neem nou ‘n baie laer posisie in. Moenie ruimte laat vir misverstande en agterdog nie.
Kleef beteken;- klou aan, word een, word ‘n eenheid, een vlees.
Prioriteitlys in verhoudings:
Nommer 1 in jou lewe moet God wees,
Nommer 2 moet jou vrou of man wees,
Nommer 3 jou kinders,
Nommer 4 jou werk, want jy moet sorg vir jou gesin.
Nommer 5 jou ouers,
Nommer 6 jou vriende en eers daarna kom stokpertjies en die sulke bedrywighede.
1Kor 7:2 maar weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man. (ANV)
c) Eenheid (unity)
Dis God se ontwerp vir die huwelik. Die kleef en samesyn ontwikkel tot ‘n eenheid. Dis nie ‘n verbindtenis tussen God en die man nie en ook nie ‘n verbindtenis tussen God en die vrou nie. Nee, dis ‘n verbintenis-verhouding tussen God en die huwelikspaar as ‘n eenheid, as huishouding.
(Drie-koord tou is sterker as ‘n twee-koord tou.)
Gen 5:1-2 Dit is die stamboom van Adam. Die dag toe God Adam geskape het, het Hy hom gemaak na die gelykenis van God. 2 Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle geseën en hulle mens genoem, die dag toe hulle geskape is.
Hier is hulle saam-wees, ‘man en vrou het Hy hulle geskape’, ook as ‘n eenheid beskryf.
Kom ons kyk weer na Gen2:24 nou na die laaste gedeelte.
Gen 2:24 Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.
Hoe bou mens hierdie eenheid in ‘n huwelik?
Ons kom as twee individue uit verskillende agtergronde bymekaar.
Hoe praat ons met mekaar? Wat is ons houding teenoor mekaar?
As mens saam leef en julle is nie ten gunste van mekaar nie en jou eie ek, kry die eerste plek,
gaan dit nie eenheid bewerkstellig nie. Dit laat die ander persoon in die pad voel en
maak hulle waardeloos. Dit sal eerder ‘n breuk tussen julle veroorsaak as om ‘n goeie verhouding te bou, maar as julle ‘n ja-houding in julle harte teenoor mekaar het en mooi goed sê en doen vir mekaar, dan bou ‘n mens ‘n wedersydse houding van omgee, met positiwe reaksies tot gevolg.
Dit bring mens nader aan mekaar en agape-liefde kan in so ‘n omgewing en verhouding vloei tussen julle. Standhoudende liefde is ‘n aksie of werk, nie ‘n emosionele gevoel nie. Onthou liefde soos God se agape-liefde, is ‘n gee liefde (‘n aksie, ‘n daad, jy doen iets goed) met ‘n gesindheid (houding, ‘attitude’) van vergewing.
Geen huwelik is sonder probleme nie, op een of ander stadium sal daar ‘n probleem of twee opduik.
Die lewe gebeur en daarby kom die huwelikspartye uit verskillende agtergronde en omstandighede.
Hulle kom uit gesinne wat moontlik nie normaal funksioneer (disfunksional) nie of uit gebrokke gesinne. Daarby is jou normaal, nie wat iemand anders as normaal beskou nie. Wat vir een aanvaarbaar is, is glad nie vir die volgende persoon aanvaarbaar nie. Sommige gesinne hou daarvan om aan mekaar te raak en liefde is tasbaar. Wat een as liefde gee beskou, is nie wat die ander een as liefde verstaan nie. In ander gesinne is daar nooit liefde gewys nie en al voel hulle lief vir iemand, weet hulle nie hoe om dit oor te dra nie. Boon-op is daar ook nog verskillende liefdestale, wat dinge nog komplekser maak.
In Titus sê dit liefde kan aangeleer word
Tit 2:3-4 Die ou vroue moet ook in hulle gedrag wees soos dit die heiliges betaam, geen kwaadspreeksters of aan baie wyn verslaaf nie, maar leraresse van wat goed is, 4 sodat hulle die jong vroue kan leer om versigtig te wees, hulle mans en kinders lief te hê,
Die Bybel vertel ons op verskeie plekke hoe om mekaar lief te hê.
Mat 22:37-39 En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. 38 Dit is die eerste en groot gebod. 39 En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Bewys jou goedgesindheid en vrygewigheid teenoor jou eggenoot en geliefdes.
d) Familie
Gen 1:28 En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.
God gee hier duidelike opdragte. Wees vrugbaar en vermeerder, vul die aarde, en heers oor die aarde.
Gemeenskappe is gebaseer op gesinne en families, maar die aanslae en druk van wêreldse sieninge en die weg beweeg van God se model breek gesins-eenheid dees dae baie af. Ons samelewing is gevul met egskeidings, kinders wat vaderloos groot word, bevoordeling van vroue in werksposisies en leiersposisies wat mans misken in hul posisie as leiers volgens God se plan. Daar is ook homosekuele verhoudings en geweld wat nie God se liefde en opdragte weerspieël nie.
B. Hemelse Doel van die Huwelik.
Ef 5:31 Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef (joined NKJV) en hulle twee sal een vlees word. 32 Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente. (AOV)
Die huwelik is ‘n spieëlbeeld van Christus se verlossingswerk en liefde vir Sy kerk. Elke huwelik behoort die patroon of prentjie te weerspieël van Christus en Sy kerk vir wie Hy sy Lewe opgeoffer het. Die huwelik tussen man en vrou is ‘n beeld van God se liefdesverhouding met die kerk, Sy bruid.
Heb 13:5 Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.
Christus is getrou en het Homself verbind (committed) om ons by te staan en nooit te verlaat nie.
God het ‘n nimmer eindigende liefde vir Sy (kinders en) kerk.
Paulus wat sy lewe en tyd gewei het om God se woord aan die heidene te bring, beskryf sy siening van die kerk so, in 2Kor11:2.
2Kor 11:2 Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel.
Hoeveel te meer voel God so?
Ons sien God se liefde ook, so getrou, regdeur die Ou Testament. Kan ons sê dat ons liefde en toewyding aan mekaar in ons huwelike ook dié getuienis of prentjie deurgee aan die wêreld?
C. Geestelike Doel van die Huwelik.
Ja, liefde en romanse is deel van die huwelik, maar dis soveel meer en het daarom ‘n goeie verstaan nodig, soos in die begin gesê is. Kom ons lees Eph 5:21-29 Wat vir ons ‘n duidelike prentjie gee van hoe ‘n huwelik behoort te funksioneer en ook hoe God, die kerk, Sy bruid hanteer en lief het.
Eph 5:21 en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God. Dit sê ons, almal, moet aan mekaar onderdanig wees
22 Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Wanneer die man nie God volg nie, kan ons nie net doen wat hy sê nie. Ons moet eerstens aan God gehoorsaam wees en dan aan ons eggenoot.
23 Want die man is die hoof van die vrou, Die man neem die leiding, hy beskerm en voorsien, maar is nie ‘n diktator nie. soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. 24 Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees. 25 Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het 26 om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, 27 sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. Die huweliks paar word gewas, geheilig, deur die huweliksverbond (huweliks-kontrak) in Christus en deel met mekaar wat hulle van God ontvang en die Woord was ons ook.
28 So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; 29 want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente.
Christus is ons bron vir vreugde en vrede, nie ons eggenoot nie. Ons moet egter ons eie ek en lewe neerlê vir ons eggenoot, net soos Jesus vir ons Sy lewe neer gelê het. Julle is twee, nie meer een alleen, wat aan niemand verantwoordelik is en net jouself in ag hoef te neem nie, wees vriendelik en leef in agape-lief met mekaar om in die huwelik ‘n eenheid weer te gee.
Petrus het die volgende belangrike stelling oor die man en vrou in die huwelik gemaak.
1Pe 3:7 Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.
Kom ons sluit af met ‘n gebed vir huwelike.
Vader God, ons dank U vir U groot liefde vir ons.
Ons dank U, vir al die huwelike waar dit goed gaan en dat mense mekaar goedgesing is en lief het. Dankie vir egpare wat getrou is teenoor mekaar en U saam loof en prys. Vader ons vra ook dat U ons sal lei en beskerm teen die aanslae van die wêreld se persepsies van huwelike. Dankie, dat ons U seën kan spreek oor elke huwelik. Dankie dat U elke huwelikspaar sal rig en lei om positief teenoor mekaar te wees en getrou aan mekaar te wees. Dat hulle aanslae sal identifiseer en met wysheid sal teenstaan. Dankie, vir U uitnemende liefde vir ons. Amen.
