Die Belangrikheid van God se Kerk
Saamgestel deur Petrus vd Merwe
Wat vertel die woorde “God se Kerk” vir ons, is dit?
- ʼn Gebou waar ʼn gemeente bymekaar kom?
- ʼn Byeenkoms van ʼn groep gelowiges?
- ʼn Demonasie van ʼn groep gelowiges?
Wat sê die Woord?
Mat 16:16-18 Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” [17] “Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. [18] En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. ”
Die begrip “U is die Christus, die Seun van die lewende God. ” is die rots waarop Jesus Sy kerk bou, maw die basis of fondament van Jesus se kerk.
Die kerk is nie soos die embleem van een kerkgroep wat ʼn rots is waarop ʼn gebou staan met die leuse “Die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie”. Hierdie prentjie plaas die beeld in jou gedagtes dat die gebou waar gelowiges bymekaar kom is die kerk en die gebou is heilig, maar dit is nie net die prentjie nie, baie gelowiges glo die gebou van samekoms is heilig en ek aanvaar dit kom uit die Ou Testament en Evangelies waar die Tempel van God, heilig was.
Vandag se gebou waar gelowiges by mekaar kom, is net ʼn gewone gebou wat vir die praktiese sy/gebruik van bymekaar kom daar is, en is nie heilig nie.
Wat beteken die woord “KERK” wat hierbo in vers 18 gebruik is?
Volgens die Strong-woordeboek is die Griekse woord “ekklēsia” wat beteken “Christian community of members on earth or saints in heaven or both” of in kort “assembly” wat “vergadering / byeenkoms / samesyn van gelowiges” beteken in Afrikaans.
Die gelowiges vorm saam die liggaam van Christus soos ons sien in
1Kor 12:27 Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ‘n lid daarvan.
In 1 Kor 12 sien ons ook dat ons as gelowiges saam die Kerk van Christus vorm en dat ons die enigste agent van Christus op aarde is om Sy werk hier op aarde uit te voer.
Ons opdrag is om God lief te hê, om ons naaste lief te hê, uit te gaan en dissipels te maak. Hoe gaan ons dit doen as ons mekaar nie ondersteun soos die verskillende liggaamsdele in ‘n liggaam mekaar ondersteun nie.
Hoe ondersteun ons as gelowiges mekaar in die liggaam / kerk?
- Gesamentlike aanbidding van God in samekomste,
- Gebede vir mekaar,
- Bemoeding van mekaar, ens.
Ongeag van die groep van gelowiges waar ons betrokke is, is ons almal deel van dieselfde liggaam – Jesus se liggaam.
1Kor 12:13 Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk.
Maak nie saak in watter gemeente, dominasie of onafhanlike kerk ons betrokke is nie, ons is steeds almal deel van Jesus se liggaam.
Wanneer ons nou verder na die “vergadering / byeenkoms / samesyn van gelowiges” kyk, sê die Woord nie in watter formaat, hoe groot, wanneer en waar dit moet plaasvind nie, behalwe dat dit ordelik moet wees. 1 Kor 14:40
Ons lees ook in Heb 10:25 – Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.
Hierdie vertel ons dat samekomste belangrik is, hoekom?
- Gesamentlike aanbidding van God (Mat 18:20),
- Leering uit God se Woord (1 Kor 14)
- Gebede vir mekaar (Jak 5:16),
- Bemoeding van mekaar (1 Tes 5:11+14),
- Bedien mekaar met gawes wat elkeen ontvang het – profesie, leering, genesing, ens. (1 Kor 14)
Om weg te bly van die samekomste is die weerhouding van gawes, wat deur die Heilige Gees aan jou gegee is, van ander gelowiges wat daarmee bedien moet word.
Kom ons kyk na die verskillende byeenkomste van vandag se voordele en nadele:
- Huiskerke – klein groepie mense wat weekliks of meer bymekaar kom en God aanbid soos enige byeenkomste van ander groepe. Hierdie was een van die normale tipe byeenkomste in die eerste kerke en word steeds gebruik as ʼn begin met die plant van ʼn gemeente wat oor tyd sal groei tot ʼn groter gemeente.
Positief –
- Almal ken mekaar en ondersteun mekaar.
- Elke persoon wil voel hulle is deel van ʼn groep wat omgee vir hulle en kleiner groepe, soos hierdie, is die regte plek.
Negatief –
- Weens die grootte van die groep kan stabiliteit ʼn probleem word wanneer elkeen nie getrou (committed) teenwoordig is nie.
- Indien die persoon wat leering gee nie opgelei is en/of deeglike ondersoek doen met dit wat voorgehou word uit die Woord, kan dwaalleer maklik voorkom.
- Hulle het ook geen of min invloed in die gemeenskap waar hulle woon.
- Klein tot middelslag gemeentes – Lidmaatgetalle van 40 tot 300, hierdie gemeentes bedien die grootste deel van vandag se aktiewe gelowiges en kan gesien word as ooreenstemmend met byeenkomste wat in tempels plaasgevind het in die begin.
Positief –
- Leiers wat leeringe gee is gewoonlik opgelei
- Leiers is meestal gereedelik beskikbaar vir ondersteuning van gelowiges in die gemeente en selfs die gemeenskap waar die gemeente is.
- Reik uit na buite in beperkte mate.
Negatief –
- Die leier doen alles en kan homself/haarself oorwerk.
- Leier kan gemeente in enige rigting stuur positief of negatief indien daar nie behoorlike verantwoordbaarheidstelsels is nie.
- Gelowiges ken nie mekaar goedgenoeg en kan nie werklik veilig voel soos in ʼn kleiner groep nie en kan maklik verloor word as daar nie kleinergroepe beskikbaar is nie.
- Alle ouderdomsgroepe kry nie altyd genoegsame aandag nie.
- Fondse nie altyd voldoende om tenminste een sendeling te onderhou nie.
- Groot en Mega gemeentes – Lidmaatgetalle oor 300.
Positief –
- Hulle kan alle ouderdomsgroepe bedien met opgeleide leiers.
- Hulle uitreiking is groot en wyd – ondersteuning van sendelinge en TV-evangelisasie weens fondse wat beskikbaar is.
Negatief –
- Individue raak verlore in die getalle as daar nie aandag gegee word dat elkeen iewers betrokke raak in kleinergroepe nie.
- Benodig goeie bestuurstelsel, anders kan probleme ontwikkel en die gemeente wegdwaal of binnegevegte ontstaan.
- Selgroepe / kleingroepe – groepe van tot 12 gelowiges wat weekliks by huise bymekaar kom met ʼn leier, maar staan onder die leiding en leering van die groter gemeente se leiers.
Positief –
- Soortgelyk as huiskerke is dit ʼn intieme ruimte waar elkeen kan behoort en na omgesien kan word.
- Leering vind onder beheer plaas en behoort nie na dwaalleer te draai nie.
- Is die nodige ondersteuningsbasis vir die individue vir alle gemeentes groot of klein.
- Is die plek waar dissipels gemaak word.
Negatief –
- Groep kan ʼn broei-groep word. Dit beteken dat hulle net op hulself ingestel is en minder betrokke bly by die res van die gemeente.
Opsomming
- Jy is deel van die Kerk van Christus
- Opdrag – Heb 10:25 – Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan
- Wanneer jy wegbly van die samekomste van die gemeente is die gemeente kruppel, want jy weerhou die gawes wat jy van die Heilige Gees ontvang het, van die gemeente (liggaam).
