Vaste Verbintenis (Commitment) – Getroue Toewyding

Getroue toewyding is die vrug van ‘n goeie verhouding met God ons Vader.

God vra ons toewyding aan Hom. Hy wil dat ons Hom nommer een in ons lewens sal maak.

Mat 6:33 ‘Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.’ (AOV)

Luk 14:26 ‘As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.’ (AOV)

Hierdie skrifgedeelte is op ‘n harde manier gestel. Haat jou ouers en selfs jouself! Jesus wou dit by die mense tuis bring, hoe ernstig dit vir ons moet wees om Hom te volg.

Soos bo gestel, vloei al ons verhoudings uit ons verhouding met God. As ons ons aan God kan toewy, sal ons in ons verhoudings ook die ander persoon se belange eerste stel, bo ons eie begeertes en behoeftes. Ons sal bereid wees om te dien en nie om net te ontvang nie.

Huwelike wat die tyd deurstaan, is ‘n voorbeeld van so ‘n verhouding van toewyding in getrouheid. Daarom is ‘n goeie, liefde volle huwelik vir ons die prentjie van die kerk. (Ef 5:23, 25-27, 32; Openb 21:2, 9) Jesus se bruid – die kerk.