Selfgesentreerdheid – Die Bron van alle Hartseer

Wat is selfgesentreerdheid?

Spr 16:18 Hoogmoed lei tot ondergang. Hooghartigheid (selfverheffing) kom net voor die val. NLV

Spr 13:10 ‘Selfverheffing lei altyd tot twis. …’

Selfgesentreerdheid (hoogmoed) maak jou kwaad, want jy kry nie wat jy wil hê nie.

Selfgesentreerdheid (hoogmoed) veroorsaak ‘n reaksie op wat ander doen of nie doen nie.

Selfgesentreerdheid (hoogmoed) is die vrug van vrees.

Selfgesentreerdheid (hoogmoed) is jou fokus wat op die verkeerde plek is, gewoonlik jou eie ek en jou klein wêreldjie.

Wat is hoogmoedig? Hoogmoed is om meer van jouself te dink as wat goed is vir jou. Ons dink aan woorde soos arrogant, eie geregtig, selfvoldaan ens.

Die teenoorgestelde van hoogmoedig is; om te min van jouself te dink, uiter mate skaam te wees, jouself onwaardig ag en dink jy is nie goed genoeg nie, jy dink jy is tot niks in staat nie. Dit is nederig op ‘n negatiewe manier.

Om dit te verduidelik, dink aan ‘n besemstok. Een punt verteenwoordig hoogmoedigheid en die teenoorgestelde punt van die besemstok verteenwoordig skaamheid.

Die hoogmoedige is so selfvoldaan dat hy niemand in ag neem nie, behalwe homself. Die skaam en teruggetrokke persoon is so bewus van hulself en wat ander van hulle dink, dat dit eintlik ook net oor hulle-self gaan. ‘Wat sal die mense sê/dink?’

Nou die ideaal sal wees om die middelpunt te kry en in perfekte balans te leef. Dit is makliker gesê as gedoen.

Spr 13:10 sê dat hoogmoed of selfverheffing tot twis lei. (Engels sê, ‘By pride comes nothing but strife’ NKJV, contention in KJV) Dit veroorsaak spanning en ‘n stryery.

Die is ‘n sensitiewe onderwerp en mens wil selde hoor dat jy verantwoordelik is of verkeerd is. So dink mooi en in die regte gesindheid aan die onderwerp en laat God toe om jou te wys waar jy staan.

Waar het Selfgesentreerdheid begin?

Gen 3:1-6 sien ons Adam en Eva wat deur die duiwel mislei is. Hy het hulle, wat reeds alles gehad het wat God hulle kon gee, laat twyfel of God regtig vir hulle die beste gegee het en ‘n behoefte is geskep om soos God te wees?

Gen 3:4-5 ‘Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie, 5 maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.”’ (ANV)

Hier is hulle fokus en gehoorsaamheid weg geskuif van God af, na hul eie belange. Daardie begeerte (a want) word ‘n behoefte (a need). Die fokus is heeltemal verskuif van God af na self.

Hoe herken ons Selfgesentreerdheid?

Hierdie is die teken van Selfgesentreerdheid. Hoogmoed: Ps 10:4; Vrees: Ps 23:4, Ps 55:3-9; Treur: Mat 5:4; Twis: Spr 13:10; Depressie: Job 10:20-21.

Hoe hanteer ek hierdie tekens in my lewe?

Hierdie verse gee die antwoorde.

  1. Hoogmoed: Spr 16:18 ‘Hoogmoed lei tot ondergang. Hooghartigheid kom net voor die val’(NLV) Lees ook Spr16:18-20; Mark7:21-23
  2. Vrees: 1Joh 4:18 ‘Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.’ (AOV) Lees 1Joh4:7-21
  3. Treur: Psa 119:50 ‘Dit is my troos in my ellende, dat u belofte my lewend maak.’ (AOV) sien ook Ps119:76;  1Thess3:2.
  4. Twis: Spr 3:5Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.’ (AOV) Sien ook Ps28:25.
  5. Depressie (terneergedruk, mismoedig): Luk 4:18b ‘…Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees;’ (AOV)

Om die skrifgedeeltes saam te vat kom dit daarop neer dat ons ons fokus van onsself moet verskuif en op Jesus fokus. Hebr 12:2; Mat 22:37-39. ‘n Openbaring, (deeglike verstaan) van God se liefde vir ons, maak dit ook duidelik.

Mat2 4:27-31 Petrus wat op die water loop en die oomblik wat sy fokus verskuif na sy eie vermoëns en die omstandighede rondom hom, het hy begin sink.

Dit sal ‘n ruk neem of jouself te leer om jou fokus op die regte plek te hou. Sterkte! Hou jou fokus op Jesus.