Die Voordele om in Tale te Spreek
Tale spreek, kom veral voor in Handelinge nadat die dissipels die uitstorting van die Heilige Gees ontvang het. (Hand 2:4) Ons noem dit ook Doop in die Heilige Gees. (Tale en profesieë is kenmerke van doop in die Heilige Gees)
1Kor 12 en 14 vertel ons meer van die gawes van die Gees, lees dit gerus gereeld.
Spreek in tale klink vreemd as mens dit die eerste keer hoor. Dit klink na ‘n gebrabbel, amper soos ‘n baba wat geluidjies maak. Jou verstand sal jou ook probeer wysmaak dat dit tyd mors is, maar dit bring seën en salwing op jou.
‘n Mens gebruik nie jou verstand wanneer jy in tale praat nie, jy bid vanuit jou gees, direk met God se Gees. Jy spreek onbekende, konfidensiële goed (geheime) in intimiteit met God. (1Kor 14:2,13-14). Jy sal vind dat hoe meer jy in tale praat, dat dit:
- jou ʼn verstaan en insig in dinge gee wat jy nie vantevore gehad het nie,
- jou rustig maak en jou houding of ingesteldheid verander,
- dat dit jou opbou en jou geloof versterk. 1Kor 14:4
Daar is twee verskillende aanwendings van hierdie tale; een is vir die opbouing van gelowiges in die kerk opset. Wanneer daar in ‘n taal gepraat word, moet daar ook ‘n interpretasie gegee word. Die ander is ‘n persoonlike taal wat jy tot God deur jou gees spreek of bid.
Soms gebeur dit dat iemand in tale praat en dan is dit ‘n taal wat iemand verstaan wat naby sit en verstaan wat jy sê, maar dit is nie ‘n taal wat jy geleer het op enige stadium nie. Dit is dan ‘n boodskap net vir daardie persoon. Dit is ook wat die dissipels ondervind het toe hulle in tale gespreek het. Dit was tale wat die mense van ander gebiede verstaan het. Hand 2:5-11
Loof en prys God deur in tale te praat en te sing. 1Kor 14:15. Dit bou op, versterk en tree in deur die Heilige Gees.
