Hoe om die Heilige Gees te Ontvang
Jesus het telkemale gesê; Vra en julle sal ontvang. Die volgende vers is een van so ‘n bevestiging. In hierdie vers staan daar egter, selfs as julle vir die Heilige Gees vra. Die Heilige Gees was nog nie uitgestort nie en min het dit verstaan.
Luk 11:13 ‘As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?’ (AOV) Kyk ook na Mat 18:19; Mat 21:22; Mrk 11:24; Joh 11:22; Joh 14:14; Joh 15:16.
Jesus het belowe dat die Heilige Gees sou kom na Sy Hemelvaart.
Luk 24:49 ‘En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte.’ (AOV)
In Handelinge lees ons van die krag wat ontvang is met die uitstorting van die Heilige Gees. Hand 2:1-4. Daar is ook ‘n beskrywing in Hand 10 hoe die Heilige Gees op nie-Jode gekom het. In Hand 10:44 word die Heilige Gees op hulle uitgestort terwyl Petrus nog die Woord aan hulle bring.
Jesus se bediening het eers begin nadat Hy deur Johannes die Doper gedoop is en die Heilige Gees op Hom gekom het.
Joh 1:32 ‘En Johannes het getuig en gesê: Ek het die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly.’ (AOV)
Om die Heilige Gees te ontvang, moet ons in Jesus Christus glo en dit met ons mond bely. Dan vra ons in gebed om die Heilige Gees te ontvang. Gebed: Dankie Vader God en Jesus, vir alles wat Jesus vir my op die kruis kom gedoen het. Dankie vir die beloftes wat ek ontvang het. Ek vra dat die Heilige Gees in my kom woon en my lei. Baie dankie, ek glo, ek het die Heilige Gees ontvang! Amen (So sal dit wees).
