Krag van ‘n Gees Vervulde Lewe.

‘n Nuwe gees is reeds deur Esegiël geprofeteer.

Eseg 36:25-27 ‘Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. 26 En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. 27 En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.’ (AOV)

Nadat Jesus Sy Lewe vir ons afgelê het op die kruis en die dood oorwin het, het Hy ook belowe om vir ons, wat Hom as ons Verlosser aanneem, die Heilige Gees te gee. Dit was voordat Hy opgevaar het na die hemel en Sy Vader.

Joh 14:16-17  ‘En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees’. (AOV). Ook Joh 14:23-27

Dit was dieselfde Gees wat Hy belowe het toe Hy die Groot Kommissie of opdrag vir die Dissipels en ons gegee het. Dit is waar ons outoriteit gegee is om ons siekes te genees en die Goeie Nuus na al die nasies te versprei.

Mat 28:18-19 ‘En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. 19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.’ (AOV) Sien ook Mrk 16:16-18 en Luk 24:49.

Jesus het gesê dat ons wat glo, groter werke sal doen as wat Hy op aarde gedoen het. Dit is wat ‘n krag vervulde lewe in Christus is, om die Heilige Gees te hê en in verhouding met God te leef.

Joh 14:11-12 ‘Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self. 12 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.’ (AOV)