Integriteit van God se Woord
Integriteit beteken: – om 100% eerlik, opreg, onberispelik, betroubaar, onomkoopbaar en onbeskaamd of rein te lewe.
God se Woord is onberispelik. Daar is op verskeie vlakke al bewys, dat wat in die Bybel geskryf staan, waar is. Daar is geologiese opgrawings wat plekke en omstandighede uit die Bybelse tyd bewys, as korrekte feite in die Bybel. Selfs op die mediese gebied is al bewyse gevind wat ooreenstem met wat die Bybel sê.
Daar is ongeveer 300 000 kruisverwysings in die Bybel. Dit is waar ‘n woord of ‘n gedeelte ooreenstem met ‘n ander skrifgedeelte. Dit is veral merkwaardig as ons in ag neem dat die 66 Bybelboeke deur 40 verskillende mense (wat mekaar meestal nie geken het nie) oor ‘n tydperk van ongeveer 1500 jaar geskryf is.
Daar is ook profesieë wat in die Ou Testament vertel is, wat eers in die Nuwe Testament waar geword het. Profesieë in verband met Jesus in die Ou Testament het eers in die Nuwe Testament waar geword. Daar was ongeveer 400 jaar tussen die Ou Testament en die begin van die Nuwe Testament.
2Ti 3:16-17 ‘Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.’ (AOV)
Die skrifgedeelte sê, dat die Woord van God, deur God geïnspireer is en gegee is om waardevol te wees in kennis en opvoeding. Om verkeerde dinge uit te wys, sodat dit reg gestel kan word en om ons toe te rus vir goeie werke, (Ef2:10)
Daarom moet ons dit dag en nag bedink, bepeins en volgens lewe. Kyk ook na Spr 4:20-23.
Jos 1:8 ‘Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.’ (AOV)
Ons hoef nie te twyfel in God se Woord nie. Ons aanvaar dit as die volle waarheid en rig ons lewens daarvolgens. Dit het die toets van tyd deurstaan en as ons in ‘n verhouding met God staan, ervaar ons Sy teenwoordigheid in en om ons.
