Wat gebeur as ‘n Christen sonde doen?
Sonde verwyder ons van God, dit is hoekom Adam en Eva gaan wegkruip het vir God. Gen 2:24 en Gen 3:8. Kyk ook na Jes 59:2.
God het egter ‘n plan gemaak om ons verhouding met Hom te herstel. Hy het Jesus vir ons gegee. (Joh 3:16) Jesus het vir ons gesterf. Sy oorwinning oor die dood, het vir ons verlossing gebring. Verlossing van sonde, siekte en ellende. Hy het betaal met Sy bloed, sodat ons vry van sonde en siekte en in vrede voor God kan staan. Jes 53:3-6, Jes 53:10-11.
Ons beste voornemens is om nie te sondig nie, maar ons weet almal dat ons wel steeds sondig en dit nog sal doen. Die verskil is dat ons nie meer slawe van sonde is nie.
1Jn 1:8 ‘As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.’ (AOV)
Nou hoe hanteer ons dan sonde? Die Heilige Gees sal jou oortuig as jy iets verkeerd gedoen het. So, jy gaan erken dat jy verkeerd was, jy bely (wys jou spyt daaroor) en vra vergiffenis en neem die besluit om dit nie weer te doen nie. ‘n Goeie plan is om die Heilige Gees te vra om jou daarmee te help.
1Jn 1:9 ‘As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.’ (AOV)
Sonde het gevolge, al is ons wedergebore. Wat ons sê en doen is saad en ons oes dit wat ons saai! Ons keuses en woorde is nie altyd in lyn met God se Woord (Bybel) nie en dit laat die deur oop vir die duiwel om toegang tot ons lewens te kry. Volgehoue sonde bring ons gouer by liggaamlike dood. (Rom6:12)
Gal 6:7-8 ‘Moenie ’n fout maak nie. God laat nie met Hom spot nie: Wat mense saai, sal hulle ook maai! Hulle wat op die land van hulle sondige geaardheid saai, sal op grond daarvan die dood oes, terwyl hulle wat op die land van die Gees saai, op grond daarvan die ewige lewe sal oes.’ (NLV)
Gebed in geloof bring wonders.
Jak 5:15-16 ‘En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word. 16 Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.’ (ANV)
Amen!
