Identiteit in Christus
Ons Identiteit in Christus, is ‘n uitvloeisel van ons verlossing, wanneer ons Jesus erken as ons verlosser en Hom nooi om in ons te kom woon. Dit is wedergeboorte.
Joh 3:5 ‘Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.’ (AOV)
Nou is die vraag: wat gebeur met my as ek Jesus as my verlosser aanvaar?
2Kor 5:1 ‘Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.'(AOV) Ef 4:24
Wat het nuut geword? Ek lyk en voel dan nog dieselfde.
Ons word nuut in ons gees met wedergeboorte en ons gees word ook geseël. Ef 1:13
Dis hier belangrik om te verstaan hoe God ons gemaak het. Onthou dat ons eerstens na God se beeld geskape is, wat Gees is. Ons gees is eerste, dan het ons ‘n siel (denke/intellek, wil en emosies) en ons het ‘n liggaam om te kan funksioneer op die aarde. Die Gees van God woon in ons.
Dit is duidelik uit die volgende skrif dat ons gees, siel en liggaam is;
1Thes 5:23 ‘En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!’ (AOV)
Ons gees is dus nuut en soos Christus, maar ons siel en liggaam moet nou in lyn kom, om soos ons gees te word. Ons gees het onmiddellik verander. Vir ons siel om te verander is ‘n groei proses, waar ons ons denke aanpas om te word soos ons gees is. Ons moet ons verstand aanpas by wat God se Woord van ons sê. Rom 12:1-2. Ons liggaam sal volg, in gehoorsaamheid aan ons denke en gees.
Ons wedergeboorte maak ons ook geregtig voor God. Dit beteken ons kan voor God staan sonder sonde-skuld, want Jesus het dit volledig vir ons betaal, ons is vry van sonde! (die beteken nie dat ons nooit weer sondig nie, net dat ons nie meer ‘n slaaf van sonde is nie.) 2Kor 5:21 en 1Joh 1:8
Ons identiteit is nou in Christus en op die Woord van God. Dis nie meer gebaseer op dit wat mense van ons sê of dink of wat die wêreld vir ons voorhou as die waarheid nie.
