Opgestel deur Petrus van der Merwe
Inleiding:
Ek het baie gelees en na verskeie geestelike leiers geluister wat as kenners van die Boek Openbaring en die eindtyd beskou word. Daar is egter ‘n verskeidenheid verklarings, waarvan baie volgens my nie ooreenstem met die Bybel nie.
Uit alles wat ek gehoor en gelees het, het ek die volgende saamgestel, gebaseer op hoe ek glo die Heilige Gees my gelei het, in ooreenstemming met wat God deur sy Woord aan ons wil oordra.
Of hierdie interpretasie van die Boek Openbaring korrek is of nie, is nie die belangrikste vir ons as gelowiges nie. Dit kan eerder gesien word as die hoop wat Jesus Christus vir ons bied in die wêreld waarin ons leef. Wat wél van uiterste belang is, is dat ons glo in Jesus Christus as ons Verlosser (Rom. 10:9-10) en dat ons God liefhet soos Hy van ons verwag (1 Joh. 3:23-24).
Hierdie studie is saamgestel oor ‘n tydperk van verskeie maande, van Augustus 2024 tot Maart 2025, tydens ‘n oorlog tussen Israel en Hamas, asook ander belangrike wêreldgebeure. Op sekere plekke het ek ‘opmerkings’ gemaak wat moontlik verband hou met hedendaagse gebeure.
Openbaring 1 – Die Begin van die Openbaring
Openbaring 1:1-3 (AOV): Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het, wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus alles wat hy gesien het. Salig [geseënd] is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.
Jesus het hierdie openbaring oor die eindtyd in ‘n profetiese vorm aan die apostel Johannes gegee sodat Christene kan weet wat voorlê.
In profesieë word dikwels simboliek gebruik. Die beste manier om profesieë te verstaan, is om dit eers letterlik te lees en slegs as ‘n letterlike interpretasie onmoontlik is, dit dan simbolies te beskou. Byvoorbeeld: die “Lam van God” verwys na Jesus, maar Hy is nie letterlik ‘n lam nie; dit simboliseer dat Hy geoffer is vir ons sondes.
Verder moet ons onthou dat die apostel Johannes hierdie dinge waargeneem en beskryf het soos hy dit in sy tyd verstaan het. Die mense van daardie tyd het nie die moderne tegnologie gehad wat ons vandag het nie, en selfs basiese wetenskaplike kennis soos dat die aarde rond is en om die son wentel, was toe nog nie bekend nie.
Openbaring 2 & 3 – Die briewe aan die sewe gemeentes
Hierdie sewe gemeentes het werklik bestaan in die tyd toe die apostel Johannes die opdrag van Christus ontvang het om aan hulle te skryf.
Verder word hierdie briewe ook as ‘n profetiese woord beskou, wat die oorhoofse karakter van die Kerk deur die eeue heen weerspieël. Dit kan soos volg geklassifiseer word:
- Efese – Die Liefdelose Gemeente (Apostoliese tydperk tot ongeveer 100 n.C.).
- Smirna – Die Vervolgde Gemeente (Martelaarskerk van 100 tot 300 n.C.).
- Pergamus – Die Kompromitterende Gemeente (Die staatskerk wat die grondslag gelê het vir die Katolieke stelsel, 300 tot 500 n.C.).
- Thiatíre – Die Korrupte Gemeente (Begin van Katolisisme, van 500 n.C. tot nou).
- Sardis – Die Dooie Gemeente (Begin van die Hervormingskerk, 1500 n.C. tot nou).
- Filadelfia – Die Getroue Gemeente (Begin van die Sendingkerk, 1800 n.C. tot nou).
- Laodicéa – Die Louwarm Gemeente (Die Afvallige Kerk wat tans aktief is).
Die Wegneem van die Kerk, ook genoem die Wegraping
Daar word geglo dat die Kerk van die aarde weggeneem sal word voordat die gebeure wat vanaf Openbaring 4 beskryf word, plaasvind. Hierdie wegraping word ondersteun deur die volgende redes:
- Van Openbaring 4 tot 18 is daar geen verwysing na die Kerk nie. Dit is eers in Openbaring 19:7 dat die bruid van Christus weer genoem word. Ons, die Kerk, is die bruid van Christus (2 Kor. 11:2; Ef. 5:25-27).
- Christus se brief aan die gemeente in Filadelfia toon dat dié wat aan Jesus se offer vashou, van die komende verdrukking gered sal word. Openbaring 3:10 (AOV) “Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar ‘in’ [van of uit]die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel” (Die oorspronklike Grieks dui daarop dat “in” eintlik “van of uit” behoort te wees, soos dit ook in die KJV en NKJV vertalings staan.)
- Vanaf Openbaring 6 begin God sy oordeel oor die aarde uitstort. Maar volgens God se genade is ons gered en sal ons nie onder sy oordeel kom nie. Romeine 5:9 (AOV) Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn. En 1 Tessalonisense 5:9 (AOV) bevestig ook: “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus.”(Sien ook 1 Tess. 1:9-10.)
- Vanaf Openbaring 6 maak die Antichris sy verskyning, maar dit kan slegs gebeur sodra die Kerk nie meer op aarde is nie en die Heilige Gees na die agtergrond beweeg. Die Heilige Gees bly egter steeds aktief om diegene wat in hierdie tyd tot redding kom, te ondersteun – 2 Tess. 2:7-8 AOV “Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak.”
- Jesus het ook belowe om ‘n plek vir ons in die huis van God voor te berei en ons te kom haal – Joh. 14:2-3, AOV “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
- Hoekom sou God sy gelowiges ook laat ly onder Sy oordeel wat oor die wêreld uitgestort word, as ons reeds deur Sy genade vergewe is? Paulus verwys in twee gedeeltes na die gelowiges wat weggeneem word vanaf die aarde en finaal met Christus in die hemel sal wees:
- 1 Tessalonisense 4:14-17 (AOV) “Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem. Dit sê ons vir julle op grond van wat die Here gesê het: Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie. Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees.”
- 1 Korintiërs 15:50-54 (AOV) “Wat ek bedoel, broers, is dit: vlees en bloed kan nie aan die koninkryk van God deel kry nie. Die verganklike kan nie aan die onverganklike deel kry nie. Kyk, ek maak ‘n geheimenis aan julle bekend: Ons sal nie almal sterwe nie, maar ons sal almal verander word. By die laaste trompet sal dit in ‘n oomblik, in ‘n oogknip gebeur, want die trompet sal weerklink, en die dooies sal as onverganklikes opgewek word, en ons sal verander word. Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike. En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: ‘Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.’”
Hierdie verse wys dat diegene wat reeds gesterf het, sal opstaan met onverganklike liggame en dat diegene wat nog lewe, ook verander sal word. Daarna sal almal saam in die lug opgeneem word om Christus te ontmoet, waarna hulle vir ewig saam met Hom sal wees.
Hierdie gebeurtenis word nie beskou as Christus se tweede koms nie, want Hy kom nie fisies tot op die aarde nie. Die gelowiges ontmoet Hom in die lug en nie al die bewoners van die aarde sien Hom nie.
[Opmerking: Sommige glo dat daar nie ‘n wegraping is nie, of dat dit tydens of aan die einde van die verdrukking plaasvind. Ander beweer selfs dat Christus reeds die tweede keer gekom het. Dié wat hierdie standpunte glo moet egter die bogenoemde tekste verduidelik.]
Openbaring 4 & 5 – Wat die Apostel Johannes in die hemel sien
Na die opdrag om aan die gemeentes te skryf (Openbaring 2 & 3), lees ons verder:
Openbaring 4:1 (AOV) “Ná hierdie dinge het ek gesien kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur.”
Hierdie woorde “wat ná hierdie dinge moet gebeur” dui daarop dat daar ‘n einde aan die Kerk is – die groep aan wie Johannes geskryf het. Die Kerk is nie meer op die aarde nie, en nou gaan Christus aan hom wys wat volg:
- In Openbaring 4 sien ons ‘n beskrywing van God, sy troon en die aanbidding van God deur almal teenwoordig. Die 24 ouderlinge wat daar voorkom, word beskou as ‘n voorstelling van die Kerk.
- In Openbaring 5 sien ons ‘n boek met sewe seëls, wat die eerste sewe oordele van God oor die mense op die aarde. Slegs Christus is waardig om hierdie boek oop te maak.
Die Groot Verdrukking: Openbaring 6 tot 19
Hierdie gedeelte handel oor God se oordeel oor die aarde en al die mense wat daarop woon. Dit vind plaas oor ‘n tydperk van sewe jaar. Gedurende hierdie tyd is Satan aktief deur sy valse profeet en die Antichris, wat die mense van die aarde onderdruk en vernietig, veral dié wat Christus as hul Verlosser aanvaar het ná die begin van die verdrukking en nog op die aarde is.
- Openbaring 6-11 dek die eerste helfte van die verdrukking.
- Openbaring 12 handel oor die middel van die verdrukking.
- Openbaring 13-19 beskryf die tweede helfte van die verdrukking, wat die ergste sal wees.
God se oordele gedurende hierdie tydperk van 7 jaar bestaan uit drie fases:
- Die eerste oordeel: die sewe seëls
- Die tweede oordeel: die sewe trompette (basuine)
- Die derde oordeel: die sewe plae, ook bekend as die goue skale of bakke.
Openbaring 6 – Die Eerste Ses Seëls
- Eerste seël – Die wit perd:
Hierdie ruiter stel die Antichris voor, wat op ‘n wit perd kom om Christus na te boots as ‘n prins van vrede. Hy dra ‘n boog sonder pyle, wat ‘n valse vrede simboliseer, en ‘n kroon wat mag voorstel.
[Opmerking: Die ruiter het geen pyle nie, wat kan beteken hy is nie ‘n leier van ‘n nasie met ‘n weermag nie. Sommige beskou dit as ‘n verwysing na iemand soos Klaus Schwab van die Wêreld Ekonomiese Forum, wat geen land verteenwoordig nie, maar tog groot invloed het op wêreldleiers en werk aan ‘n eenwêreldregering.] - Tweede seël – Die rooi perd:
Die ruiter dra ‘n groot swaard en bring ‘n wêreldwye oorlog waarin baie mense sterf. Daar word gesuggereer dat die ou Romeinse Ryk weer sal herleef en gebiede soos Noord-Afrika, Europa en die Midde-Ooste sal insluit.
[Opmerking: Moslem-migrasie na Europa neem toe, en sommige sien dit as ‘n sistematiese oorneming van gebiede waar hulle nog nie beheer het nie.] - Derde seël – Die swart perd:
Die ruiter hou ‘n skaal in sy hand, wat dui op voedselrantsoenering en ‘n ekonomiese ineenstorting. Dit verwys na hongersnood wat ná die oorlog sal plaasvind. - Vierde seël – Die vaal perd:
Hierdie ruiter se naam is Die Dood, en die hel volg hom. ‘n Kwart van die wêreldbevolking sterf weens oorlog, hongersnood, siektes en wilde diere.
[Opmerking: In die oorlog tussen Rusland en Oekraïne beweer sommige dat die sterftesyfer nader aan 2 miljoen is. Daar is ook geraam dat COVID-19 en verwante mediese reaksies wêreldwyd ongeveer 6.9 miljoen sterftes veroorsaak het.] - Vyfde seël – Die siele onder die altaar:
Dit verteenwoordig die mense wat ná die wegraping tot geloof gekom het en vir hul geloof gemartel is. Hulle ontvang wit klere en word meegedeel dat hulle moet wag totdat nog ander martelaars by hulle aansluit. Daar is dus mense wat tydens die verdrukking tot bekering sal kom, maar hulle sal met hul lewens betaal. - Sesde seël – Groot natuurrampe tref die aarde:
Die son word swart, die maan word soos bloed, en reuse aardbewings ruk die wêreld.
[Opmerking: Openbaring 6:15 sê dat konings, rykes en ander in grotte en rotse sal skuil. Vandag bou baie superrykes ondergrondse bunkers om hulself te beskerm teen ‘n komende krisis.]
Openbaring 7 – Die 144 000 en die groot menigte uit die verdrukking
- Die 144 000 – Dit is 12 000 uit elke stam van Israel wat ná die wegraping Jesus as Verlosser aanvaar het. Hulle word deur God verseël met Sy merk op hul voorkoppe en word beskerm teen die oordele wat oor die aarde kom. Hulle sal as evangeliste optree om die evangelie te verkondig.
- Die groot menigte – Dit bestaan uit mense van elke nasie, volk, stam en taal, te veel om te tel. Hulle aanbid God nadat hulle gedurende die verdrukking gered is deur Jesus as Redder te aanvaar. Dit bewys dat God se genade nooit eindig nie.
Openbaring 8 – Die sewende seël en die eerste vier basuine
- Die sewende seël – Wanneer hierdie seël oopgemaak word, heers daar ‘n stilte van ‘n halfuur in die hemel, wat as ‘n afwagting beskou word oor wat op die aarde gaan gebeur.
- Die goue wierookbak – Die gebede van die heiliges word saam met vuur van die altaar op die aarde uitgegooi. Dit veroorsaak stemme, donderslae, weerligstrale en ‘n aardbewing. Sommige glo dit is God se antwoord op die gebede van die siele onder die altaar (Opn 6:9-10), wat God gesmeek het om hul bloed te wreek.
Nadat al die seëls oopgemaak is, word die boek geopen en begin die sewe basuine se oordele:
- Die eerste vier basuine raak die natuur en die mense op die aarde.
- Die laaste drie basuine het demoniese elemente en is so verskriklik dat elkeen as ‘n “wee” (erg, verskriklik) beskryf word (Opn 8:13). Die eerste vier basuine:
- Eerste basuin – Die aarde – Hael en vuur word op die aarde uitgegooi, wat ‘n derde van die bome en alle gras vernietig.
- Tweede basuin – Die see – ‘n Groot brandende berg (miskien ‘n asteroïde) val in die see. ‘n Derde van die see word in bloed verander, ‘n derde van die seediere sterf, en ‘n derde van die skepe vergaan.
[Opmerking: Daar is ‘n asteroïde met die naam Apophis, wat in Grieks “die god van chaos” beteken. Dit sal op 13 April 2029 baie naby aan die aarde verby beweeg – tussen die aarde en die satelliete – wat dit die naaste verbyvlug van so ‘n groot asteroïde tot dusver maak. Dit sal weer in 2036 verbykom. Daar is ook ‘n tweede asteroïde, 2024 YR4, wat in 2024 ontdek is. Dit wentel elke vier jaar om die son en kan op ‘n stadium baie naby aan die aarde kom, of selfs ‘n botsing veroorsaak. Hierdie asteroïde beweeg tans agter die son in, wat dit onsigbaar maak, maar dit sal in 2028 weer sigbaar word. Teen daardie tyd sal sy baan noukeuriger bereken word om te bepaal of dit die aarde op 22 Desember 2032 kan tref. Die huidige kans word op 3,1% beraam, maar daar is ook ‘n moontlikheid dat dit die maan kan tref (soos verwys in die 4de Basuin). Beide hierdie asteroïdes is groot genoeg om aansienlike skade te veroorsaak indien een van hulle die aarde tref.]
- Derde basuin – Varswater – ‘n Ster genaamd Alsem (Wormwood) val in die varswaterbronne en maak ‘n derde van die riviere en waterfonteine giftig.
- Vierde basuin – Die hemelliggame – ‘n Derde van die son, maan en sterre word getref, wat veroorsaak dat ‘n derde van die dag en nag se lig verdwyn.
Openbaring 9 – Die vyfde en sesde basuin – Die eerste twee wee
- Vyfde basuin – Eerste wee – Pyniging – ‘n Ster (waarskynlik ‘n gevalle engel) val uit die hemel en kry die sleutel tot die bodemlose put. Wanneer dit oopgemaak word, verdonker rook die son en lug. Sprinkane met ‘n spesiale opdrag verskyn – hulle mag nie plante beskadig nie, maar moet mense wat nie God se seël het nie, vir vyf maande lank pynig. Hierdie sprinkane het sterte soos skerpioene, en die mense sal vreeslike pyn ervaar, maar hulle sal nie kan sterf nie.
- Sesde basuin – Tweede wee – Massadood – Vier engele by die Eufraatrivier word losgelaat om ‘n derde van die mensdom dood te maak deur vuur, rook en swawel. Tog weier die mense om tot inkeer te kom en bly hulle in sonde volhard.
Tekens van die eindtyd (Opn 9:20-21): Hierdie verskillende aspekte van morele en geestelike verval word uitgelig as kenmerke van die eindtyd en is vandag duidelik sigbaar in die wêreld – Aanbidding van valse godsdienste, Moord, Towery en okkultisme, Seksuele losbandigheid en Diefstal.
Openbaring 10 – Die magtige engel
Die engel was groot en magtig, met een voet in die see en die ander op die land, terwyl hy ‘n boekie in sy hand hou. Hy het met ‘n luide stem geroep, en sewe donderslae het geantwoord, maar die Apostel Johannes is beveel om die woorde van die stemme te verseël. Daarna is hy opdrag gegee om die boekie te eet en is beveel om weer te profeteer.
Openbaring 11 – Opdrag om die tempel te meet en die twee getuies
Meting van die tempel (Vers 1-2) – Johannes het ‘n riet ontvang om die tempel van God te meet, maar hy moes nie die buitenste voorhof meet nie, want dit is aan die heidene gegee, en hulle sal die heilige stad vir drie en ‘n half jaar vertrap.
[Opmerking: Daar is tans geen tempel in Jerusalem nie, wat beteken dat daar weer een gebou moet word. Voorbereidings is reeds aan die gang, soos die teel en voorbereiding van die rooi vers (heifer) vir die offers en die reinigingsrituele van die tempel. Sommige getuienisse dui daarop dat die planne vir die tempel voltooi is en net gewag word vir die regte oomblik om met die bouwerk te begin.]
Die twee getuies van God (Vers 3-14) – God stuur twee getuies om vir drie en ‘n half jaar te profeteer. Hulle sal bonatuurlike mag hê om hulself te beskerm en wonders te verrig. Ná hul bediening sal ‘n sataniese engel hulle doodmaak, en mense sal hulle dood vier. Maar drie en ‘n half dae later sal God hulle opwek uit die dood, en die hele wêreld sal dit aanskou en met vrees vervul word. Hulle sal dan in ‘n wolk opvaar na die hemel, terwyl almal kyk. Kort daarna sal ‘n groot aardbewing plaasvind, waarin ‘n tiende van die stad verwoes sal word en seweduisend mense sal sterf. Die oorblywendes sal met ontsag gevul wees en God verheerlik. Die tweede “Wee” is dan verby.
[Opmerking: Daar is ‘n aanname onder sommige gelowiges dat die twee getuies Henog en Elia is, omdat hulle nooit ‘n fisiese dood gesterf het nie en albei profete van God was.]
Die sewende basuin (Vers 15-19) – Die derde “Wee” – Wanneer die sewende basuin blaas, word aangekondig dat die koninkryke van die wêreld aan God en Christus behoort en dat Hy tot in ewigheid sal regeer. Die 24 ouderlinge aanbid God en Sy grootheid. Die hemelse tempel open, en die verbondsark word sigbaar, gevolg deur weerligstrale, stemme, donderslae, ‘n aardbewing en groot haelstorms.
Openbaring 12 – Die vrou en die draak
- Vers 1: Die vrou simboliseer Israel, en die son, maan en twaalf sterre stem ooreen met Josef se droom in Genesis 37:9-10, wat na Israel en sy twaalf stamme verwys.
- Vers 3: Die draak is Satan, en sy sewe koppe verteenwoordig sewe koninkryke wat hy gebruik het om Israel te probeer vernietig (Opn 17:9-11).
- Vers 5: Die “kind” verwys na die 144 000 Joodse gelowiges uit Openbaring 7:1-8, wat verseël is en ná die eerste drie en ‘n half jaar van die verdrukking hemel toe geneem word.
- Vers 6-12: Daar breek ‘n oorlog in die hemel uit tussen Satan en die aartsengel Migael. Satan word oorwin en saam met sy gevalle engele op die aarde neergewerp (Vers 9). Hy, wat voorheen die aanklaer van die gelowiges was, is nou uit die hemel verwyder. Die aarde word gewaarsku dat die duiwel woedend is, omdat hy weet sy tyd is min.
- Vers 13-17: Satan probeer om Israel aan te val, maar God beskerm haar. Satan begin toe oorlog voer teen die ander Jode en Christene wat nie saam met haar is nie.
[Opmerking: Sommige glo dat die Jode in Petra sal skuil en dat God hulle daar sal beskerm.]
Hierdie gebeure vind plaas in die middel van die sewe jaar lange verdrukking. Op hierdie stadium verbreek die Antichris sy verbond met Israel (Daniël 9:27).
Openbaring 13 – Die Antichris
- Die Koninkryke (Verse 1-4): Die sewe koppe verteenwoordig sewe koninkryke wat Israel sal aanval. Hierdie verenigde koninkryk word gesien as ‘n herlewing van die ou Romeinse Ryk, wat destyds die Midde-Ooste, Europa en Noord-Afrika ingesluit het. Dit sal die basis vorm van die Antichris se wêreldryk, wat uiteindelik sal uitbrei na ‘n eenwêreldregering (Vers 7).
- Die Antichris (Verse 1-10): Hierdie figuur, voorgestel as ‘n dier uit die see, ontvang sy mag van die draak (die duiwel). Omdat die duiwel ‘n gees is, gee hy sy krag aan die Antichris (Vers 4), en die wêreld aanbid hom. Die Antichris mislei mense met sy vleiende woorde (Vers 5), en gebruik leuens om sy mag te versterk:
- Eerstens, hy tree as ‘n geslepe politikus op (Vers 5).
- Tweedens, hy word ‘n militêre leier wat oorlog voer teen die heiliges en mag kry oor alle nasies (Vers 7).
- Derdens, hy word ‘n godsdienstige figuur wat homself in die tempel as God verklaar (2 Tessalonisense 2:4) en die wêreld dwing om hom te aanbid (Vers 8).
- Die Valse Profeet (Verse 11-18): ‘n Ander dier, wat uit die aarde opkom, simboliseer die valse profeet. Die duiwel gee hom bonatuurlike mag om wonders te verrig en ‘n eenwêreldgodsdiens te vestig (Verse 11-15). Hy implementeer ook ‘n eenwêreldekonomie (Verse 16-18), waarin mense die merk of naam van die dier moet hê om te kan koop of verkoop. Die valse profeet word geïdentifiseer in Openbaring 16:13 en 19:20 wat daarna verwys wat hy gedoen het.
Openbaring 14 – Die Lam en die Engele
- Die Lam (Verse 1-5): Jesus Christus, wat 28 keer in Openbaring as die Lam beskryf word, verskyn hier saam met die 144 000 Jode wat in die eerste helfte van die verdrukking tot geloof gekom het en opgeneem is in die hemel (Openbaring 7:3).
- Drie Engele en Hul Boodskappe (Verse 6-13):
- Die Eerste Engel (Verse 6-7): Verkondig die ewige evangelie (Hebreërs 13:20) en roep die mense op om God te vrees en Hom te aanbid, want sy oordeel is op hande.
- Die Tweede Engel (Vers 8): Verkondig die val van Babilon, wat alle valse godsdienste simboliseer.
- Die Derde Engel (Verse 9-11): Waarsku dat enigiemand wat die Antichris aanbid en sy merk ontvang, aan God se ewige oordeel onderwerp sal word.
- Die Getroues en Hul Beloning (Verse 12-13): Diegene wat nie die Antichris aanbid of sy merk aanvaar nie, maar Christus aangeneem het (Openbaring 20:4), sal rus van hul arbeid en beloon word.
- Die Twee Oeste (Verse 14-20):
- Die Graanoes (Verse 14-16): Christus samel sy volgelinge in en neem hulle na Hom.
- Die Wingerdstok-Oes (Verse 17-20): ‘n Engel oes die goddelose en gooi hulle in ‘n groot parskuip buite die stad, waar hulle verpletter word. Die bloed vloei tot by die perde se tooms oor ‘n afstand van 200 myl. Dit is ‘n eerste verwysing na die Slag van Armagéddon, wat weer in Openbaring 16:16 voorkom.
Openbaring 15 – Die begin van die laaste sewe plae
Diegene wat die Antichris en sy merk teengestaan het en hul lewens daarvoor gegee het, staan op ‘n see van glas, gemeng met vuur. Hulle prys God met harpspel en gesange.
Daarna kom sewe engele uit die tempel, elk met een van die laaste sewe plae van God. Aan elkeen word ‘n goue skaal (of bak) gegee, gevul met die grimmigheid van God.
Openbaring 16 – Die laaste sewe plae van God word uitgegiet
- Eerste plaag (vers 1-2) – Die eerste engel giet sy bak oor die aarde uit, en almal wat die merk van die Antichris het, kry kwaai en bose swere.
- Tweede plaag (vers 3) – Die tweede engel giet sy bak in die see, en die water verander in bloed. Alle seelewe sterf.
[Opmerking: Sommige glo dit verwys na die Middellandse See, aangesien die oordele op die Antichris en sy koninkryk val, wat ooreenstem met die gebied van die ou Romeinse Ryk (vers 2 – die merk van die dier & vers 10 – die troon van die dier).] - Derde plaag (vers 4-7) – Die derde engel giet sy bak oor die riviere en waterbronne, en hulle verander in bloed. Die engel van die waters verklaar dat God regverdig is, omdat Hy nou diegene wat die bloed van die heiliges vergiet het, bloed gee om te drink.
- Vierde plaag (vers 8-9) – Die vierde engel giet sy bak oor die son, en die hitte word so intens dat mense gebrand word soos deur vuur. In plaas daarvan om hulle te bekeer, laster hulle God.
- Vyfde plaag (vers 10-11) – Die vyfde engel giet sy bak uit oor die troon van die Antichris se koninkryk, en daar is ‘n duisternis oor dit. Die mense het in die donkerte baie pyn verduur tot die vlak dat hulle hul tonge gekou het en het steeds die swere gehad.
- Sesde plaag (vers 12) – Die sesde engel giet sy bak uit oor die Eufraatrivier, wat opdroog. Dit maak die pad oop vir die nasies van die Ooste om Israel binne te val.
- Die drie onreine geeste (vers 13-16) – Onreine geeste kom uit die duiwel, die Antichris en die valse profeet (die sataniese drie-eenheid). Hierdie geeste verrig bonatuurlike wonders en het die konings van die wêreld bymekaar te maak vir oorlog teen God in Armagéddon.
- Sewende plaag (vers 17-21) – Die sewende engel giet sy bak in die lug uit, en ‘n stem vanaf die troon in die tempel roep uit: “Dit is verby.” Daar volg stemme, donderslae, weerlig en die grootste aardbewing in die geskiedenis. Jerusalem word in drie dele verdeel, stede val, eilande verdwyn, en berge stort ineen. Enorme haelkorrels, ongeveer 36 kg elk, val op die aarde, maar steeds laster die mense God oor hierdie plaag.
Die slag van Armagéddon volg hierna en word beskryf in Openbaring 19:15-21. Maar eers word bykomende inligting gegee in Openbaring 17:1 tot 19:10.
Openbaring 17 – Babilon, die Prostituut en die Dier
Die prostituut verteenwoordig al die valse godsdienste in die wêreld, ingestel deur die duiwel. Sy is dronk van die bloed van die heiliges wat deur die eeue heen gestort is. Hierdie gedeelte fokus op die val van die wêreld se valse godsdienste.
- Verse 1-6 – Die apostel Johannes sien ‘n visioen, en vanaf vers 8 gee die engel die verklarings.
- Vers 8 – Die dier wat uit die afgrond opkom, is ‘n gevalle engel (Openbaring 11:7). Die ongelowiges sal hulle verwonder oor hierdie dier.
- Verse 9-11 – Die sewe koppe verteenwoordig sewe koninkryke onder beheer van die duiwel. Die vyf koninkryke wat geval het sedert Israel as volk ontstaan het, is Egipte, Assirië, Babilon, Mede-Persië en Griekeland. Die sesde ryk was die Romeinse Ryk, waarin Johannes geleef het. Die sewende ryk sal van korte duur wees gedurende die eerste 3½ jaar van die Groot Verdrukking. Die agtste ryk is die Antichris self, wat homself as god verklaar en absolute wêreldbeheer oorneem.
[Opmerking: Kan die sewende ryk moontlik Islam wees? Islam is besig om lande deur immigrasie oor te neem met die oogmerk om wêreldoorheersing te verkry.]
- Verse 12-14 – Die tien konings, wat nog nie heerskappy ontvang het nie, sal hulle mag aan die Antichris oorgee. Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar Christus sal hulle oorwin.
[Opmerking: Die Antichris sal tegnologie benodig vir sy heerskappy, soos beheer oor koop en verkoop, asook monitering van mense se bewegings en uitsprake. Sommige meen die tien konings sonder koninkryke (vers 12) kan invloedryke individue wees, soos tegnologiese magnate, wat hulle mag aan die Antichris oorgee.]
- Verse 15-17 – Die sewende koninkryk, wat oor die wêreld se godsdiens regeer, sal deur die tien konings vernietig word. Hulle sal hulle mag aan die Antichris, die agtste koninkryk, oorgee. Die Antichris sal homself as die enigste god en wêreldleier verklaar gedurende die laaste 3½ jaar van die Groot Verdrukking.
Openbaring 18 – Babilon, die Wêreld se Finansiële Stelsel en die Val Daarvan
- Verse 1-3 – ‘n Engel verklaar dat Babilon, beide geestelik en materieel, die middelpunt van boosheid is. Die hele wêreld neem hieraan deel (Openbaring 18:9).
- Verse 4-8 – ‘n Tweede stem waarsku die gelowiges om Babilon te verlaat, sodat hulle nie verlei word en saam met haar geoordeel word nie.
- Verse 9-10 – Die leiers van die wêreld rou oor Babilon se val, want hulle verloor hul finansiële rykdom.
- Verse 11-16 – Handelaars treur, omdat niemand meer hulle goedere koop nie. Interessant genoeg bevat die lys van verlore handelsware ook “mensesiele” (mensehandel), wat die wêreld se boosheid beklemtoon.
- Verse 17-19 – Die menigte op skepe wat handelsprodukte vervoer, treur oor hul ekonomiese verlies.
- Vers 20 – Die hemel en die heiliges word aangemoedig om bly te wees, want God het Babilon geoordeel.
- Verse 21-23 – ‘n Engel gooi ‘n groot klip in die see as ‘n simbool van Babilon se totale verdwyning.
- Vers 24 – Die bloed van al die heiliges wat ooit op aarde vermoor is, word aan Babilon toegeskryf, want sy was die duiwel se hoofstad.
Hierdie gebeure vorm die finale fase van God se oordeel oor die aarde, wat oor sewe jaar plaasvind en begin in Openbaring 6 met die opening van die sewe seëls. Dit word opgevolg deur die sewe basuine en eindig met die sewe bakke van God se toorn.
Openbaring 19 – Lofliedere, Bruilof van die Lam en Christus se tweede koms
- Lofliedere in die hemel (V1-6): God word geprys vir Sy vernietiging van Babilon. Alle rebellie teen God, wat in Genesis begin het, het nou geëindig met die val van Babilon.
- Bruilof van die Lam (V7-9): Dit is tyd vir die bruilof, en die bruid het haar gereed gemaak. Die bruid het reeds die seën-oordeel volgens haar werke ontvang (1 Korintiërs 3:11-15). Die uitnodiging na die bruilofsmaal (V9) is nie vir die bruid self nie, want sy het reeds ‘n regmatige plek daar. Dit is vir die heiliges uit die Ou Testament en die martelare wat gedurende die 7 jaar van die Groot Verdrukking gered is.
- Getuienis van Jesus (V10): Hier word bevestig dat alle profesieë in die Ou Testament na Jesus verwys.
- Sigbare wederkoms van Jesus Christus en die slag van Armagéddon (V11-21): Christus verskyn op ‘n wit perd (V11), bekleed met ‘n kleed gedoop in bloed, en Sy Naam is ‘Die Woord van God’ (V13). Die hemelse leërs is saam met Hom (V14). Behalwe vir Openbaring 14:1, wat sê dat die 144 000 saam met Hom op die berg Sion is, is dit nie duidelik wie die ander is nie. Christus regeer met ‘n ysterstaf en trap die parskuip (Openbaring 14:17-20). Op Sy kleed en heup staan ‘Die Koning van konings en die Here van here’ (V16). Die Antichris en die konings versamel hulle leërs om teen Christus te veg (V19), maar word verslaan. Die Antichris en die valse profeet word gevange geneem en lewend in die poel van vuur en swawel gegooi (V20). Die res word met die swaard, wat uit Christus se mond gaan, gedood (V21), en die voëls (V17-18) verslind hulle vlees. Dit is die slag van Armagéddon.
Openbaring 20 – Satan, die 1000-jarige vrederyk en die wit troon oordeel
- Satan word gebind (V1-3): ‘n Engel uit die hemel bind die duiwel, gooi hom in die afgrond (Openbaring 17:8) en verseël dit bo hom sodat hy nie vir 1000 jaar mense kan verlei nie.
- Die 1000-jarige vrederyk (V4-6): Die eerste groep wat saam met Christus vir 1000 jaar sal regeer, is diegene wat tydens die Verdrukking vir Hom gekies het en nie die Antichris aanbid of sy merk geneem het nie (V4). Die tweede groep is die heiliges van alle tye, insluitend ons as Christene, wat deel is van die eerste opstanding (V6). Diegene wat nie gered is nie, moet wag tot na die 1000 jaar voor hulle uit die doderyk sal opstaan (V5).
- Satan word vrygelaat na die 1000 jaar en sy finale einde (V7-10): Na die 1000 jaar word Satan vrygelaat (V7) en mislei weer mense om teen God en Sy heiliges oorlog te maak (V8). Die name Gog en Magog verskyn hier, soos ook in Esegiël 38 en 39. God stuur vuur uit die hemel om hulle te vernietig (V9). Satan word vir ewig in die poel van vuur en swawel gewerp, saam met die Antichris en die valse profeet (V10).
[Opmerking: Daar is debat oor of Gog en Magog (V8) verband hou met die slag van Armagéddon (Openbaring 16:16 en 19:15-21), maar dit blyk nie so te wees nie. Hier word dit gebruik in verband met Satan se laaste aanval na die 1000 jaar vrederyk, en wil voorkom dat hierdie slag plaasvind op dieselfde plek as waar Armagéddon plaasgevind het.]
- Die groot wit troon oordeel (V11-15): Die groot wit troon (V11) verteenwoordig die finale oordeel van almal wat nie in die eerste opstanding was nie (V5), maw. diegene wat nie Jesus as Verlosser aanvaar het nie en wie se name nie in die Boek van die Lewe verskyn nie (V15). Hulle word geoordeel volgens hulle werke, soos opgeteken in die boeke (V12). Ná hierdie oordeel word hulle in die poel van vuur gewerp, wat die tweede dood is (V14).
Openbaring 21 – Nuwe hemel, aarde en Jerusalem
Nuwe hemel en aarde (V1-8): Die eerste hemel en aarde het verbygegaan, en ‘n nuwe hemel en aarde het verskyn, sonder ‘n see (V1). God laat die nuwe Jerusalem uit die hemel neerdaal (V2) en Hy woon nou by Sy volk (V3). Daar sal geen trane, dood, droefheid of moeite meer wees nie, want die ou dinge het verbygegaan (V4). God maak alles nuut (V5) en verklaar dat Hy die Alfa en die Omega is – die begin en die einde (V6). Die oorwinnaars sal alles erf en God sal hulle Vader wees en hulle sal God se seun wees (V7). Die goddeloses is egter in die poel van vuur gegooi word, wat die tweede dood is (V8).
Nuwe Jerusalem (V9-27): ‘n Engel wys vir Johannes die nuwe stad, wat skitter met die heerlikheid van God. Die stad is versier met edelgesteentes, meet 2414 km aan elke kant, en is ook 2414 km hoog. Dit het ‘n muur van 65 m met twaalf poorte, elkeen bewaak deur ‘n engel. Geen lig is nodig nie, want God se heerlikheid verlig die stad. Daar sal geen nag wees nie, en die poorte sal nooit gesluit word nie. Net die wat goed en regverdig is, mag ingaan.
Openbaring 22 – God en Jesus Christus se heerlikheid en die afsluiting van die profesie
Die suiwer rivier met die water van die lewe vloei uit God se troon, en aan weerskante staan die boom van die lewe wat elke maand vrugte dra en genesing bring vir die nasies (V1-2). God en Christus sal in die nuwe Jerusalem wees, en ons sal God se aangesig sien. Sy Naam sal op ons voorkoppe wees (V3-4).
Hier word bevestig dat Christus aan elkeen sy loon gee volgens sy werke (V12). Hy bevestig weer dat Hy die Alfa en die Omega is – die begin en die einde – die eerste en die laaste (V13). Die wat Sy gebooie onderhou, sal reg hê op die boom van die lewe en mag in die stad ingaan (V14).
Christus belowe: “Ek kom gou” (V20).
Die boek sluit af met ‘n seën:
“Die genade van ons Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.”
Afsluiting
Ek hoop dat hierdie samevatting jou help om Christus se openbaring aan die apostel Johannes beter te verstaan. Nadat ek hierdie studie gedoen het, verstaan ek die eindtyd beter en glo dat die gebeure binnekort sal begin, gegewe die wêreldgebeure soos politieke, finansiële en tegnologiese veranderinge, oorloë, natuurrampe en verskynsels.
Ek beveel aan dat jy Openbaring en Daniël 7-10 saam lees en dit vergelyk met wêreldgebeure om te sien of dit ooreenstem met Bybelse profesieë. Daar is ook verskeie bronne op YouTube, maar wees versigtig en vergelyk alles met die Bybel.
Moet nie vrees nie! Vertrou op God, Hy sal ons beskerm teen die duiwel en sy volgelinge. Lees Psalm 91 vir bemoediging.
Psalm 91:4 – Hy sal jou dek met Sy vlerke, en onder Sy vleuels sal jy skuil; Sy trou is ‘n skild en pantser.
Naskrif aan ander geestelike leiers wat ook die boek Openbaring bestudeer
Ek besef dat mense verskillend kan interpreteer wat in Openbaring geskryf staan. Ek glo egter dat die Heilige Gees my gelei het om dit op hierdie manier te verstaan. Ander mag van my verskil, en ek respekteer dit.
Bronne wat ek geraadpleeg het:
Raymond Lombard, Mondo Conzales, Perry Stone, John Barnett, Derek Prince, Jonathan Cahn, Gary Stearman, Dr. Mark Hitchcock, Jimmy Evans, Jimmy Swaggart se The Expositor’s Study Bible, Afrikaans Ou Vertaling (1953)
Daar mag ander wees na wie ek geluister het, maar ek het nie elke naam aangeteken nie.
